Dinsdag 31 Maart 2020

Yskas versiering


Ons oefen vandag ons knip vaardighede en maak 'n yskas versiering met ons pogings.

Kinders leer om te knip in drie stappe: skeur, snip en knip. Dit beteken dat hulle begin deur papier te skeur met die vingerpunte van elke hand. Hierna beweeg hulle na snip, m.a.w. die skêr word slegs oop en toegemaak sonder dat dit beplande knip is, hulle hou wel die skêr reg vas, gebruik dit reg en hou die papier self en korrek vas. Wanneer hierdie vaardigheid bemeester is, beweeg hulle aan na knip toe. 

Om lekker en maklik te knip is self 'n proses! Eerstens moet kinders op reguit lyne leer knip. Dan met effense kronkels om hulle te help met papier en skêr manipulasie. Hulle leer dan om hoeke te knip, skerper draaie en uiteindelik sirkels. 

Moedig jou kleuter en voorskoler aan om die skêr korrek vas te hou. (Om die skêr met twee hande te manipuleer, beteken niks!) Jy kan demonstreer of selfs jou hand oor jou kleuter s'n sit om hul daarmee te help. Dit is 'n vaardigheid wat aangeleer word, so geduld is die wagwoord!

En onthou om die eindpoging te prys - hoe krom en skeef dit ook al is!

Die aktiwiteit is spesifiek gemik op kleuters en voorskolers, maar ons vroeë skoolganers het dikwels die oefening net so nodig. Omdat die knip oefening versteek in 'n kreatiewe projek is, geniet die groter kinders dit amper meer as die kleuters en voorskolers, want hulle het reeds die knip tegniek bemeester en kan heelwat meer kreatief daarmee te werk gaan. My kleuter en skoolganer het dit ewe veel geniet.

Omdat hierdie aktiwiteit met skêre werk - moet ek daarop dui dat dit gevaarlik is en slegs onder toesig moet geskied.
 
Metode:

Stap 1: Voorbereiding

Gebruik klein vierkantjies gekleurde papier (as jy nie het nie, sal tydskrif of koerant bladsye net so goed werk) en teken op een helfte skuinslyne daarop wat driehoeke vorm. Jou kleuter moet met ander woorde in 'n reguit lyn knip, maar 'n skewe een. Hierdie vorm die knip aktiwiteit. 

Die orige vierkante word in die helfte gevou en dan afhangend van jou kind se vaardigheid teken jy strepies, of maak jy kolletjies tot waar hul moet knip. Hulle moet knip vanaf die vou na so halwe cm van die buiterand af. Hierdie word die snip aktiwiteit.
 
 
Stap 2:

Laat jou kleuter eerste met die gevoude papiertjies begin en letterlik net 'n knip maak op die lyn of na die kolletjie of lyntjie toe. Hulle snip m.a.w. net die papier. As dit krom en skeef en wyd uitmekaar is maak dit nie saak nie. Dit is belangrik dat hulle self die vaardigheid onder beheer kry, die esteties is nie so belangrik nie.



Stap 3:

Beweeg nou oor na die knip aktiwiteit. Maak seker dat jou kleuter die papier en die skêr reg vashou en moedig hul aan om met kleinerige beheersde knippe op die lyn te knip. Laat hulle toe om te eksperimenteer met spoed en tegniek - hulle leer baie beter deur dit wat nie werk nie as wat hulle leer deur ouditiewe instruksies. Hoe groter en ligter die skêr aan die begin is, hoe makliker is dit vir kleuters om te beheer.




Stap 4:

Gebruik die die snip aktiwiteit om mannetjies te maak. Ons het lanterns gemaak en platgedruk en toe verder versier. (Om 'n lantern te maak: vou die papier oop en rol die twee 'buiterande' in 'n silinder en plak/kram vas).


Stap 5:

Ons het ons vlaggies versier deur boodskappe op te skryf. My kleinste het die geleentheid gebruik  van sy kersgeskenk begeertes te verwoord. Net ingeval ons vergeet..... 

Kram die vlaggies en mannetjies om die beurt aan 'n wolletjie/lyntjie/stukkie tou vas en drapeer oor die yskas magnete.

Siedaar! Die yskas is sowaar opgevrolik!


Ons hoop julle geniet die aktiwiteit net so baie soos ons!
Om seker te maak jy mis nooit 'n inskrywing nie, kan jy of die blog volg of ons vind en van ons hou of fb.

Maandag 30 Maart 2020

Binnehuise Speel Idees


En daar word ons die hele dag lank geseën met reën! Al ons beplande aktiwiteite vir die dag het deur die mat geval. So tussen deur die in die reën spelery, afdroog, warm stort, warm drankie drink, warm aantrek, weer in die reën gaan speel het ons 'n hond uit 'n bos in die huis ook gespeel.

Omdat almal nie die luukse het van 'n buitespeel plek tans nie, deel ons sommer 'n paar van die huis speel idees wat ons vandag gespeel het.

My kinders moet een area opruim voordat hulle in 'n nuwe area of met nuwe goed mag speel - anders is die hele huis onderstebo. Omdat al hierdie aktiwiteite nogal die huis deurmekaar mag krap, is dit dalk 'n goeie idee om kinders ook eers een ding te laat opruim voor hulle na 'n volgende beweeg!

Hoop dit help vir daai dae wat almal in die huis moet bly!




Sondag 29 Maart 2020

Bedtente!


Kajuitkoors het ons vandag hard geklap. Ons nerwe was dun en die ou twee boeta's was kort-kort in mekaar se hare. Die twee deel 'n kamer en ek het besef dat hulle elkeen 'n eie spasie nodig het waarin hulle kan onttrek om net weer bietjie alleen asem te haal, batterye te laai en net te wees.

Ons besluit toe om vir elkeen 'n bedtent te bou waar niemand anders mag wees sonder toestemming nie. Die aanmekaar sit was baie gou, maar die genot was onbeperk. 

Die snaakste van alles was, nadat elkeen sy eie spasie gehad het, het hulle beurte gemaak om saam-saam in mekaar se spasies te speel, die hele dag. En al die happerigheid was vergete. Wat vir my tyd gegee het vir 'n bietjie boek lees! Wen - wen :) 

Kleuters sal die idee van 'n eie speel tent vreeslik geniet - moenie verbaas wees as jy genooi word om te kom kuier nie. En skoolganers speel net so lekker en geniet die opsie van op hul eie wees. Skoolganers is natuurlik meer as bevoeg om hul eie te bou....
 
Metode

Ek het doodeenvoudig hulle ou lakens/dekens gevat wat ek nie meer werk voor gehad het nie en dit eers om die beddens gehang. Dit het gewerk, maar ek moes kort-kort die haakspelde kom oor vassteek, want hulle het nogal rof gespeel. Ek erken dat ek toe my kramgeweer gaan haal het en die materiaal vasgekram het aan die plafon en bed. En dit het soos 'n bom gewerk en dit hou steeds!

Jy hoef egter nie tot kramgeweer uiterstes te gaan nie. Ek het die vinnigste oplossing gesoek - met 'n bietjie meer beplanning en geduld sal haakspelde en vasbind die ding doen!

Ek hoop jul het 'n vreedsame en veilige eerste inperkingsnaweek gehad. Geniet die nabyheid van jul kinders!


Vind ons en hou van ons op Facebook en bly op hoogte!

Bak en Brou: Brosbrood!


Ons is in self-isolasie al vir 'n hele rukkie langer as wat die inperking aan die gang is, so ons almal, maar veral die kinders het vandag na familie verlang. Op Sondae is dit gewoonlik 'n familie-ete met poeding daarby, so ons het besluit om brosbrood te bak as troos.

Heelwat opvoedkundige waarde in hierdie aktiwiteit. Behalwe sensoriese, rol en sny vaardighede het ek instede van maatkoppie afmeting, die resep in gramme gemaak en my oudste moes die resep lees, volg en die korrekte afgeweegte bestanddele bygooi. So het hy sommer my kombuisskaal ook leer werk! My kleuter se werk was om te proe (sy hoofwerk), menger-toesighouer, menger aan-en-afskakelaar en menger oop-en-toemaker. Altwee moes ook meet om die koekies in die regte grootte te sny en tot die regte dikte uit te rol: grote met 'n liniaal en kleine met stokkies.

Die deeg is baie maklik om aan te maak en omdat dit eers in die yskas moes rus voor jy bak, is daar oorgenoeg tyd om gou skoon te maak en saam te smul wanneer die koekies klaar is! 

Onthou tog dat om in die deeg te mors vir kleuters die heel lekkerste aktiwiteit op aarde is, veral omdat hulle nog hulle vingers kan aflek en proe ook. Gee dus maar vir jou kleuter 'n kleiner stukkie deeg waarmee hul na hartelus kan eksperimenteer en speel en knyp jou oë toe! 

Metode:


 

Saterdag 28 Maart 2020

Plaatkoekies


Vandag se aktiwiteit is 'n skaamtelose kostroos! Kan jy onthou wanneer jy laas plaatkoekies (flapjacks) geëet het? Kanse is nie onlangs nie! 

In hierdie onseker tye, is dit belangrik dat ons kinders ook soms goed net kan geniet, sonder dat dit noodwendig gesond is en dat hulle herinneringe kan bou aan samesyn, saam eet en saam gesels.

Uit die aard van die saak kan hierdie genotsaktiwiteit ook as opvoedkundige aktiwiteit ingespan word! (Want op die ou end van die dag, is daar baie min speletjies en kindergoed wat nie opvoedkundig gebruik kan word nie :) ) Vir ouer kinders wat reeds leesvaardig is, kan jy die hele resep gee om aan te maak. Nie net is dit minder werk vir jou nie, maar dit word dan 'n lees aktiwiteit en jy kan deur hoe korrek hulle die instruksies uitvoer ook hul lees -en begripsvermoë toets! Die afmeet van bestandele is boonop ook wiskundig, self vir klein kleuters, en 'n lekker vermenging van abstrakte en konkrete begrippe! Kleiner kleuters leer afmeet en ingooi, en wanneer hulle proe en meng ontwikkel konsepte van tas, proe, sig asook aksie-en-gevolg.

Die heel beste van hierdie aktiwiteit is dat jy saam aan die troetelkoekies kan eet!

Wees asseblief versigtig wanneer kombuis implimente gebruik word en moet nooit 'n kind toelaat om sonder toesig hiermee te speel/werk nie. Die gebruik van die stoof moet maar aan Mamma of Pappa oorgelaat word.

Resep

My resep kom uit die 'Kook en Geniet' van S.J.A. de Villiers (Human & Rosseau)

Bestandele
2 eiers
125ml (half koppie) suiker
250ml (1 koppie) melk
30ml (2 eetlepels) gesmelte botter of olie
500ml (2 koppies) koekmeelblom
20 ml (4 teelepels) bakpoeier
2.5ml (halwe teelepel) sout

Metode
Klits die eiers en suiker saam.
Gooi dan die helfte van die melk en gesmelte botter/olie by en klits.
Gooi al die droee bestandele by en klits liggies.
Klits die orige melk by sodat dit 'n gladde mengsel maak.
Moenie oorklits nie - klits net tot gemeng.

Skep lepeltjies vol in 'n warm pan. Wanneer die bokant van die deeg lugborrels maak, draai dit om en bak die anderkant tot bruin. Pasop dat jou pan nie te warm is nie! Eet saam met botter en heuning of stroop of net so!  

Vind en hou van ons op Facebook en sorg dat jy nooit 'n inskrywing mis nie! 

 

Vrydag 27 Maart 2020

Stokkie legkaarte

Hierdie aktiwiteit se maak en speel is beide deel van die proses. :) Dit kan aangepas word vir baie kleintjies of heelwat groter kinders met heelwat gemak.

Kinders leer wiskundige vaardighede bv. sorteer en pas, motoriese vaardighede bv manipulasie en selfs lees vaardighede, bv. herkenning!

Ek besef dat baie mense nie noodwendig soveel stokkies het wat in hul huise rondlê nie, maar moenie bekommerd wees nie. Mens kan met net soveel gemak strokies papier of karton gebruik. Papbokse sal veral lekker werk. Jy kan ook besluit of jy die prentjies wil uitdruk en plak, wil teken en inkleur of verf na aanleiding van wat jy in die huis het. Kleurprentjies wat uit tydskrifte geknip word sal wonderlik werk.

Ideaal sal mens dunner stokkies vir ouer kinders wil gebruik om hul meer uit te daag, maar ek het nie gehad nie so ek het langer prentjies met meer stokkies gebruik.

Lekker maak en lekker speel!

Hoe maak mens?



 
Stap 1
 
Die maak van die legkaarte is baie basies. Die getal stokkies of strokies papier wat jy gaan gebruik moet groot genoeg wees om die prentjie op te pas. Pak die stokkies styf langs mekaar uit en plak dit met maskeerband, kleeflint of gaffatape vas. Hierna verf, plak, skryf of teken jy jou prent of ontwerp op.





Verf
Ek het groot koekiedrukkers se onderkant geverf om die ontwerp op die stokkies te kry. My kinders het dan die prentjies geverf en ek het later net goed soos oë of monde bygeteken na dit droog was. Hierna het ons die kleeflint afgetrek en die legkaart is gebore!

Teken
Teken die buitelyne van die ontwerp op die stokkies en kleur dit met viltpenne in. Trek die kleeflint aan die agterkant af, skommel en sit jou legkaart bymekaar.


 Plak
Druk of teken die ontwerp op papier en knip dit losweg uit. Gebruik houtlym om dit op die stokkies te plak. Indien jy karton strokies gebruik sal gewone stiffie gom ook lekker werk. Ek het oorskiet kleefplastiek gehad en dit oor die prentjies geplak ter versterking. Daarna het ek met 'n liniaal en skerp punt kombuismes (want my eintlike messie is weg) die stokkies uitmekaar gesny. Daarna is die skommel en bou!

Skryf
Skoolgaande kinders kan uitgedaag word deur sinne te skryf wat hulle dan in die regte volgorde moet pas. Gebruik jou verbeelding! Dit kan enige iets wees. Jy kan ook 'n kort paragraaf uit 'n storie kies om op te skryf en dan vir jou leser die storie gee om te lees en die probleem op te los. Op daardie manier toets jy sommer ook jou kind se lees en soek vermoe!

As jy wil kan jy op die agterkant van die stokkies die naam skryf van dit wat voorop is vir 'n ekstra vlak van speel.

 

Stap 2
Maak alles deurmekaar, sorteer, soek uit en bou! 









Hoop julle geniet die aktiwiteit!
Vind ons op Facebook en hou van ons :) 
 

Skattejag


Hierdie aktiwiteit het geen bekendstelling nodig nie! Almal weet hoe dit werk! Ons het dit sommer as beloning gebruik vir 'n week van genoeg groente en vrugte en gesonde kos eet tydens isolasie/inperking, so dit was 2 vlieë met een klap! Motivering, aansporing en beloning alles in een.

Die grootste uitdaging was om 'n lesende kind en nie-lesende kleuter op dieselfde tyd te akkomodeer. Ek het daar verby gekom deur vir die kleuter 'n basiese skatkaart te teken van waar die leidrade weggesteek is. (Dit was vir my kletuer heelwat moeiliker as was dit klink, want ek teken baie lelik!) Ek het vir my ouer kind leidrade geskryf en weggesteek. Saam-saam het hulle dan die leidrade en skatkaart gebruik om by die skat uit te kom!

Hou altyd in gedagte dat 'n skattejag nie noodwendig oor die skat gaan nie. Die kinders geniet die jag proses baie meer as die skat self. 'n Lekkertjie of 'n inkleurprent is net soveel werd soos 'n gelukspakkie of klein presentjie. 

Lekker jag!

Speuders


Alhoewel hierdie aktiwiteit vir kleiner kleuters ook geskik is, sal dit ouer kinders baie langer besig hou en beter pas. Hierdie aktiwiteit verg ook 'n bietjie meer insette en voorbereiding van Mamma of Pappa se kant af, maar is 'n wonderlike speletjie/tydverdryf vir kleuters en kinders van 3 af en op. Hierdie aktiwiteit is baie soos 'n skattejag, so dit verg baie ouer inset en verseker baie kinder plesier. Hou asb. jou kleuter/kind se ouderdom in gedagte ten alle tye. Dit sal dikteer hoe en wat jy doen.

Dit is wonderlik vir probleemoplossingsvaardighede, kreatiewe denke en vormherkenning/lees.

Hoe werk dit?

Besluit eers wat die probleem gaan wees wat jou speurders moet oplos en gebruik dit dan as die basis waarvan jy leidrade uitwerk en wegsteek. Die probleem kan werklik enige iets wees, ons het al 'n 'ongeluk' met army mannetjies en army karre gehad en 'n kat se kos wat verdwyn het. Maak net seker dat jy mooi weet hoe jou storie werk voor jy begin leidrade wegsteek en uitdink!

Die army ongeluk
Vir die oplossing van wat gebeur het met die ongeluk, moes my twee aktief eksperimenteer om by die oorsprong uit te kom. Hiervoor moes hulle, hulle allerhande alternatiewe scenarios uitprobeer om te  kyk of hul by die dieselfde ongeluk uitkom. (Oorsaak en gevolg maklik gemaak!)

Waar is die kat se kos?
Vir die opsporing van die kat se kos, moes hulle leidrade volg, hulle self vermom om verdagtes te agtervolg, onderhoude voer en saam besluit oor dit wat hulle geleer het. Hulle met m.a.w. skattejag gehou sonder 'n skat! Kleiner kleuters kan alles saamdoen met behulp van 'n getekende kaart en dan identifiseer waarnatoe hulle moet gaan en wat hulle moet doen om die kat se kos te vind.

My kinders het hierdie aktiwiteit bitter baie geniet, maar dit was heelwat voorbereiding en ek was ook heeltyd betrokke tydens die aktiwiteit. Dit is dus perfek vir Mammas en Pappas wat hou van saamspeel!

Konsert / Modeperade


Ons het baie pret gehad met die aantrek boks!

Myne was vir 'n goeie veertig minute eers aan die 'oefen' vir die konsert en modeperade en toe kon ek terugsit en hul vertoning geniet! En ek het my redelik kis gelag vir hul mannewales...

Ek het ons konsert/aantrekboks aangevul met grootmensklere wat ek uit die kaste gehaal het om te skenk en hierdie 'regte' klere was net so 'n groot aantrekking soos die verbeelingsklere. Wanneer die entoesiasme vir aan -en uittrek effens begin taan - sit lekker musiek aan, dan speel en dans hulle van vooraf!

Kleiner kleuters gaan die aktiwiteit nie heeltemal so lekker of so lank op hul eie kan doen nie en gaan hulp nodig hê om aan en uit te trek. Om dit meer ouderdomsvriendelik te maak, werk items soos skoene, hoede, kepse, pruike, serpe, doeke en rompe baie lekker, want hierdie items kan hulle alles op hul eie hanteer en manipuleer. 

Hierdie aktiwiteit werk baie lekker vir kreatiewe ontwikkeling, maar jy kan dit ook 'n geheue oefening maak vir ouer kinders deur vir hulle 'n storie te lees of te vertel wat hulle dan vir jou moet opvoer. Dit is ook goeie motoriese vaardigheidsontwikkeling - al daai aantrek, uittrek, vasmaak en losmaak!

Hopenlik gee dit jou 'n blaaskans vir daai boek se lees - en 'n TV-vrye aand want die kinders is die vermaak!

Geniet :)

Slaaituine



Ons sit sommer daad by woord met die hierdie plasing - gesonde slaai eet op die immuunsoldaat manier!

Gedurende hierdie periode is dit 'n wonderlike geleentheid om jou kinders toe te laat om te help kos maak. (Onthou altyd dat daar 'n baie groter kans is dat 'n kind iets sal eet/proe wat hul self gemaak het.)

Ons kan van elke etenstyd 'n heerlike speel-speel klaskamer en leerproses maak. Vroeë wiskunde kan maklik geïnkorporeer word deur gesprekke oor afmeting, hoeveelheid, vorms, kleure en instruksies. Gesprekke oor sintuie en hoe ons almal iets anders beleef kan ook ingebring word, deur groente te voel, te ruik, te sien, te proe en te hoor (m.a.w. skud dit en kyk of dit 'n geluid maak!). Taalvaardigheid word aangeleer deur beskrywings van wat jy ervaar of hoe dit vir jou proe. Gevolg en effek word beproef deur die verskil tussen rou en gaar of onverwerk en verwerkte kos te proe, te sien, te voel en te doen! 

Van ons lekkerste gesprekke (en die snaakste vrae) kom gedurende hierdie voorbereidingstyd uit!

So hoe maak mens?

Vra jou kleuters/kinders om al die slaai benodighede af te was. Kleintjies hou veral baie daarvan om die slaaiblare in 'n groot bak soutwater af te was. (Knyp maar oë toe vir die mors, of sit die bak in die wasbak of op 'n afdroogdoek vir die ergste spat.)
Jy of jou kinders gebruik dan koekie drukkers om verskillende vorms uit slaai bestanddele te druk. Ons het mannetjies uit komkommer, blomme uit kaas en sterre uit pynappels gedruk en dit op die blaarslaai gras geplant met tandestokkies. (Die hele idee van slaai wat met stokke geëet word, help natuurlik ook baie!) Die stukke van die slaaigroente wat oorbly, verdwyn gewoonlik tydens die maak in die monde! Daar is dus geen vermorsing nie.  
Daar is egter so baie moontlikhede wat nog vir die slaaituin gemaak kan word met verskillende soorte groente en vrugte - gee die kinders se verbeelding vrye teuels. Stuur gerus foto's van jul tuine!

Hoop hierdie aktiwiteit spoor jou kleuter(s)/kinder(s) aan om slaai te eet en dat dit jou 'n bietjie van 'n blaaskans gee met die verantwoordelikheid van kosmaak en gesond eet!
 
 

Immuunsoldaat!


Ons skop die inperkingsperiode af met 'n daaglikse groente en vrugte kaart! Ons is al 'n tydjie in self-isolasie, so ek het hierdie geleentheid gebruik om vir my twee van hul immuunstelsel te leer. Omdat ek nog 'n ou kleintjie het, het ek die idee van soldate gebruik - ons immuunstelsel veg immers teen kieme om ons gesond te hou! Ek het verduidelik dat ons immuunstelsel ten minste 5 tot 8 groente en vrugte 'n dag nodig het om genoeg ammunisie te kry om teen kieme te baklei.

Ons het 'n kaart gemaak en die groente en vrugte wat ons in die huis het identifiseer, geteken, ingekleur en uitgeknip. Elke keer wanneer hulle 'n groente of 'n vrug eet, word dit op die kaart geplak. Ons maak nou sommer almal saam kos en dan word elke vars groente baie getrou op die kaart geplak! Aan die einde van die dag word die prentjies getel, afgehaal en die hoeveelheid neergeskryf. My oudste het tans 'n kompetisie met homself om te kyk of hy elke dag sy rekord kan breek! Die kaart moedig ook kinders aan om groente en vrugte te proe waarvoor hulle tot dusver te bang was!

Hierdie aktiwiteit bied die geleentheid vir kinders om self verantwoordelikheid te kan neem, maar ook om daadwerklik iets aan die onsekerheid te doen en dit verrig wondere vir kinders wat effens angstig kan raak. Die name (en kleure en vorms) van groente en vrugte word geleer, daar word getel en nommers neergeskryf. Lekker maklike wiskunde vir alle ouderdomme om die dag mee af te sluit!

Druk gerus ons kaart uit en gebruik dit! Ek het ons s'n lamineer om die prentjies makliker op en af te haal. Ek sluit nie 'n groente/vrugte prentjie kaart in nie - dit is 'n heerlike aktiwiteit om te kyk wat in die vrugtebak, yskas (en selfs vrieskas) is en dit te teken!

Hoop die aktiwiteit bring vir julle net soveel plesier soos vir ons!