Saterdag 18 April 2020

Ronde Papiervliegtuie...




Ons het die snaakste ronde papiervliegtuie op die internet gesien wat met die lieflikste boë deur die lug seil en het besluit om die uit te toets. 

Alhoewel dit nie heeltemal so ver soos 'n meer tradisionele vliegtuig vlieg nie, vlieg dit met sierlike boë en nie dadelik grond toe soos meeste van ons papiervliegtuie doen  nie.

Al wat jy nodig het is 'n skêr,  'n A4 vel papier en gom - waarvoor wag jy!

Metode:






Begin deur die vel A4 papier in 'n vierkant te sny.


 Begin by een hoek en begin die vel oprol/opvou.


 



 Rol vou tot jy by die middel kom.

 Vou die twee punte in mekaar sodat dit amper soos die pous-hoed servette lyk.







Sny laastens 'n strook van die orige papier af en plak dit op die plek waar die twee hoeke van die papier bymekaar kom.



Lekker speel!

Perseptsuele Motorvaardighede



Vandag se aktiwiteit fokus op die ontwikkeling van visuele persepsie en visuele diskriminasie perseptuele motorvaardighede, aangesien perseptuele vaardighede 'n baie belangrike rol speel by leer lees, skryf en wiskunde doen.

Perseptuele vaardighede is wanneer die kind hul sintuie en fyn en groot motoriese motorvaardighede gebruik om interaktief met hul omgewing om te gaan. 'n Goeie voorbeeld van perseptuele vaardighede is om fiets te ry. Jy moet kan stuur, trap en balanseer terwyl jy bewus moet wees van wat om jou aangaan en deurentyd inligting verwerk om jou aksies te stuur.

Visuele persepsie is wanneer ons inligting bekom deur ons oë en die brein se vermoë om hierdie inligting te verwerk en korrek sin daarvan te maak. Sukses in wiskunde, lees en skryf maak staat op akkurate visuele persepsie.

Visuele diskriminasie is wanneer ons ooreenkomste, verskille en fyner detail in 'n voorwerp eien en is baie belangrik om te leer skryf en lees. Dit laat ons toe om bv tussen 'b' en 'd', 'a' en 'o' of 'p', 'b', 'q' en 'd' te kan onderskei.

Vandag se aktiwiteit is 'n lekker konkrete manier om hierdie vaardighede te oefen en die kleuters en voorskolers sal dit gate uit geniet!

Metode:

1. Knip of teken prentjies van goed in die huis en vra jou kleuter om die voorwerp in die huis te soek wat op die prentjie is. Voorbeelde: toilet, bank, yskas, stoof.

2. Tik of skryf 'n klomp woorde twee maal uit. Sit die eerste woord, b.v. 'bed' op die bed neer, en gee die tweede woord 'bed' aan jou kleuter. Sit die tweede woord, b.v. 'muur' op die muur en gee die tweede 'muur' aan jou kleuter. So gaan jy voort totdat al die woorde opgeplak of neergesit is en jou kleuter met 'n identiese pakkie in hul hande staan. Vra nou jou kleuter om die woord in hul hand se maat te vind in die kamer. Jou kleuter is nie besig om te 'lees' nie, maar is besig met die herkenning van die woorde se vorms.

Maak seker jy klap hard hande wanneer hul klaar is!

 

Vrydag 17 April 2020

Interessante tye!

Geen plasing vandag nie - ons is kliphard aan die werk met voorbereiding vir aanlyn/afstandsonderrig. Tot die kinders het help lamineer! Ons plaas môre twee aktiwiteite om op te maak.

Ons kleuterskool gaan 'aanlyn' van Maandag af - indien jy belangstel om by ons aan te sluit, laat weet my hier.

Tot môre!


Donderdag 16 April 2020

Draai draai skroewe draai


Vandag se aktiwiteit fokus skaamteloos op die ontwikkeling van die klein spiere en fyn motoriese vaardighede soos hand-oog koördinasie, vingergreep en polsmanipulasie, asook die ontwikkeling van probleemoplossingsvaardighede.

Jou kleuter en ouer kind sal 'n hele rukkie lank besig gehou word met die aktiwiteit - wat vir jou moontlik 'n koffie-drink asemhaal kans sal gee!

Onthou asb. dat skroewedraaiers gevaarlik kan wees, so al drink jy koffie, maak asb. seker jy hou steeds 'n wakende oog oor jou kleuter.

Lekker draai....

Metode:

Die aktiwiteit is baie eenvoudig - draai vir jou kleuter skroewe in 'n houtblok vas en gee vir hul 'n klomp verskillende skroewedraaiers om dit mee los te draai. (Moet net nie te styf vasdraai nie, anders gaan jy heeltyd hand bysit!) Hulle moet die regte skroewedraaiers soek en pas vir die skroef, dan moet hulle mooi mik om die skroewedraaier reg in die ster of gleuf te pas en dan moet hulle druk en draai - baie harde werk! As hulle met hul vingers probeer draai of wel suksesvol draai na die einde toe, moenie bekommerd wees nie, dit is net sulke goeie oefening.

Onthou - die lekkerte van skroewe uitdraai is ook om die weer in te draai na die tyd. So moenie dadelik die skroewe wegvat nadat dit uitgedraai is nie.

Ek het 'n klomp goed gehad wat uit die muur gedraai moet word en het my kleuter aangesit om dit te doen. Dit was vir hom heerlik... 

Ouer kinders geniet dit vreeslik om Mechano-tipe draai werk te doen. Indien julle nie so iets in die huis het nie, laat hulle ook los en vasdraai soos die kleuters, hulle sal dit net soveel geniet!

 

 

Woensdag 15 April 2020

!BeSeMbAl!


Vandag speel ons BESEMBAL! Dit is 'n prettige binnehuise speletjie wat met besems (of iets soortgelyk) en balle (of iets soortgelyks) gespeel word.

Dit fokus op die ontwikkeling groot en klein motoriese vaardighede, insluitend beheer, hand-oog koördinasie, skatting, konsepte soos naby/ver, hard/sag en baie/min.

Indien jy nie balle besit nie, kan jy blokkies gebruik, of selfs bolletjies watte!

Die speletjie kan aangepas word vir die ouderdom van die kleuter/kind.

Ek het saamgespeel, dis pret en moeiliker as wat dit lyk!

Metode:

1. Plak 'n reghoek op die mat/teëls met breë kleeflint of maskeerband.

2. Versamel 10 balle/blokkies/wattebolletjies in verskillende kleure - 'n kleur vir elkeen wat saamspeel.
 
3. Die doel van die speletjies is om die balle/blokkies/watte tot in die reghoek te vee in 'n sekere toegelate tyd.

4. Die toegelate tyd kan bepaal word deur die durasie van 'n liedjie (wat dit baie meer pret maak) of jy kan 'n klokkie stel.

5. Die een met die meeste balle aan die einde van die tyd, wen!

Reëls:  

Die bal moet gevee word. Onder geen omstandighede mag 'n besem van die vloer gelig word nie of mag 'n bal gehak of gestoot of geslaan word nie. 

Kleuters kan die bal gewoonweg met klein vee bewegings beweeg. Ouer kinders moet die besem heen en weer beweeg en nie vorentoe en agtertoe nie - dis nogal moeilik, probeer dit!

Straf: Een bal van die oortreder word uit die middel geneem.



Lekker speel!

Om seker te maak jy mis nooit 'n inskrywing nie, kan jy ons volg via e-pos (kliek op die 'volg' knoppie aan die onderkant van die blad) of soek ons op fb en volg/hou van ons!

Vertel my 'n (spook)storie....


Daar is min dinge so lekker soos stories om die vuur, vir klein en groot! Wie van ons kan nie terug dink aan tye wat ons spookstories onder die kombers vertel het, of baie braaf om die vuur mekaar probeer bang maak het nie! Ek onthou die 'spook met die bloedhande' grappie wat ek in Graad 2 gehoor het tot vandag toe, en ek moes self begin huis skoonmaak voordat ek verstaan het hoekom die spook kwansuis sy hande met 'Handy Andy' gaan was het! 

Ek moet elke week "Die Ruiter van Skimmelperdpan" vir my kinders opsê.... Indien jy ouer kinders het (nie kleuters nie!) kan julle gerus die ryk skatkis spookstories in Afrikaans verken. Van die bekende werke van Langenhoven tot die tradisionele oordrag stories soos Die Vlieënde Hollander of die Heks van Heksrivier (Loer onder metode vir skakels). Ek gee in die metode 'n skakel na 'n baie oulike 'veilige' spookstorie vir kleuters wat hulle nie bang sal maak nie. Vir kleuters hoef dit nie spookstories te wees nie, enige storie wat vertel word sal werk. Die laaste ding wat ons wil hê is bang kleuters!

Vandag se aktiwiteit is 'n voortsetting van hierdie tradisionele lekkerte. Storie vertel verbreed horisonne, brei woordeskat uit, verbeter luistervaardighede, ontwikkel verbeelding en verbeter taalvaardighede. Wanneer jou kind self ook begin stories uitdink en vertel, verhoog die ontwikkeling van al hierdie vaardighede eksponensiëel.

Ons vertel elke Dinsdag aand (spook)stories om die vuur wanneer ons braai, maar jy en jou kleuter(s) kan jul eie tradisie skep met behulp van 'n kers, nagliggie of 'n selfoon flits! Die idee van storie vertel in die donker, met slegs 'n klein liggie beskikbaar, verleen 'n geborge, spesiale en opwindende element aan 'n alledaagse aktiwiteit.

Moenie dink dat kleiner kleuters nie die storie vertel element kan baasraak nie, met 'n bietjie aanmoediging gaan hulle jou verras!

Metode: 
Besluit wanneer julle jul storie aand gaan hou en vertel jou kleuter(s)/kinder(s) vooraf daarvan. Die uitsien is deel van die pret!

Wag tot dit donker(ig) is, in my kinders se geval is dit net voor slaaptyd, of trek die gordyne van die kamer toe. Skakel 'n nagliggie aan, gebruik jou selfoon se flits of steek 'n kers aan. Jy kan selfs soos in ons geval die ligte afsit rondom die braai en in die vuur se vlamme staar!

Jy kan die eerste storie vertel of lees en dan kan jy vir elkeen anders ook 'n beurt gee om 'n storie te vertel. Moedig jonger kleuters aan om enige storietjie of gebeurtenis te vertel. Dit is goeie oefening vir mondeling eendag! Ouer kleuters en kinders kan met wonderlike goed vorendag kom, en party 5 jarige se stories gaan baie lank vat om te eindig. Dit is 'n wonderlike geleentheid om jou kind se ontwikkelingsvlak in aksie te sien!

Kliek op hierdie skakel om 'n baie oulike gratis spookstorie af te laai wat veilig is vir alle ouderdomme: 'n Spook in Ouma se pajamas.
Kliek hier om te loer na oordra spookstories in Suid-Afrika. (Ouer kinders)

Lekker vertel en lekker luister!

Jy kan ons per e-pos volg deur die 'volg' knoppie aan die onderkant van die bladsy te kliek of jy kan ons op fb soek en van ons hou. So mis jy nooit uit nie!

 

 

Sondag 12 April 2020

Gratis leesstof vir die kleingoed!

Vandag verskaf 'n paar skakel na gratis leesstof om die kleingoed mee besig te hou. Baie van die boeke en stories is geskik vir self-lees deur grondslag/junior primêr leerders en almal is geskik vir voorlees!

Lekker lees!

Kliek bloot op die woord in vet gedruk om direk na die betrokke webblad geneem te word.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysdepartement het grootboeke en leesboeke in al 11 amptelike tale gratis beskikbaar gemaak. Dit is geskik vir grondslagfase (vir die in SA) en junior primêr (vir die in Namibië), m.a.w. Gr R/0 - 3

Nalibali het baie gratis leesstof op hulle webwerf

Oxford Owls het 'n hele hoop gratis aanlyn e-boeke in Engels beskikbaar.

Wendy Maartens stel die boek "Drie hoera's vir Denver' gratis beskikbaar.

Anna Emm het gratis Lekkerbekkie stories wat jy hier kan kry.

Saterdag 11 April 2020

Paasore vir Paasfees


Vandag se aktiwiteit is in voorbereiding vir Paashaas wat môre kom kuier! Ons het haasore gemaak en vir die pret haasneuse en snorbaarde geverf.

Ouer kleuters en groter kinders wat al knip-vaardighede bemeester het, kan die hele aktiwiteit op hul eie doen, maar ek stel voor dat al die knip voorbereiding vir jonger kleuters en kleuters wat nog nie so goed knipvaardig is gedoen word. So doende kan hulle alles bymekaar sit en dit bly steeds pret. 

Klein spiere en fyn motoriese vaardighede word geoefen en ontwikkel in hierdie aktiwiteit, met 'n goeie dosis kreatiewe vry speel ingegooi!

Metode:


Jy het karton of dik papier nodig in twee kleure - jy kan gekleurde papier op die agterkant van pap bokse plak, dit werk net so goed. Indien jy nie gekleurde papier het nie, gebruik tydskrif prente of kleur wit papier in met kryt, viltpenne of potlode.



 


Knip 'n lang strook en twee ore uit die 'hoof' kleur en twee kleiner ore uit die tweede kleur. (Die kleiner ore gaan in die groot ore geplak word.) Vir ouer kleuters en groter kinders kan jy bloot die buitelyne op papier teken en hulle self laat knip.

Wees versigtig om die ore nie te groot te maak nie - hulle gaan dan vorentoe val en nie regop staan nie!

 

 Gebruik gewone gom om die kleiner oor in die groter oor te plak.

 
 
Kram die twee ore langs mekaar aan die karton strook vas.








Meet die grote van die band om jou kleuter se kop en kram vas. Maak seker dit is redelik styf - as dit te groot is gaan die ore heeltyd oor jou kleuter se oë skuif! 

Jy kan gesigverf of 'n oogpotlood gebruik om 'n haasneus en snorbaarde te teken.


Hoop Paashaas kom kuier vanaand!




 

Vrydag 10 April 2020

Kruise vir Paasfees




Ons het vandag kruise gemaak vir Paasfees. Ons het palmblare gebruik, maar jy kan enige blaar, stok, plank of reguit ding gebruik. Ek stel voor jy maak die kruis self en vra dan jou kleuter(s)/kind(ers) om die versiering te maak.

Hierdie aktiwiteit help vir kreatiewe ontwikkeling, sowel as die ontwikkelling van fyn motoriese vaardighede.

Metode:


Ons het palmblare gebruik, maar jy kan enige tak, plant, plank of stok gebruik om die kruis mee te maak. Die maklikste manier om 'n kruis te maak is om die kruis te pak en dan 'n tou,lint of stuk lap te vat en dit oorkruis vas te maak waar die twee dele van die kruis bymekaar kom. 

Ek het die kruis vorms eers vasgebind en toe het ons almal saam stukke materiaal om die verskillende dele gedraai om die kruis stewiger te maak.

Hierna het die versiering geskied. Ons het blomme en takkies uit die tuin gebruik om ons kruise mee te versier, maar jy kan enige papier, blom, lint, tou of versiering kies. Die moontlikhede is legio! 



Geseënde Paasfees!

Donderdag 09 April 2020

Leer speel-speel vorms


Tydens vandag se aktiwiteit leer kleuters speel-speel van vorms! Vir groter kinders en skoolganers is hierdie 'n lekker kreatiewe hersienings -en/of vasleggingsaktiwiteit.

Die aktiwiteit is baie eenvoudig, knip die vier basiese vorms uit gekleurde papier. (Jy kan ook tydskrif bladsye gebruik.) Pak dan allerhande prentjies daarmee. Help eers jou kleuter pak voordat jy vir hul vrye teuels gee om te pak soos hul wil. Soos wat jy 'n vorm vat om 'n prentjie te pak, gesels oor die vorm se naam, hoe dit lyk en watter deel van die prentjie dit maak. Byvoorbeeld: Wanneer julle 'n huise pak, vat 'n vierkant en noem eerstens die vorm se naam, vertel dan dat dit vier hoeke het (en wys wat 'n hoek is), vier kante het (en wys wat 'n kant is) en dat die kante ewe lank is (verduidelik wat ewe lank is). Praat dan oor hoe 'n huis se onderkant dikwels 'n vierkant is. Gaan dan oor na die driekhoek vir die dak.

Op hierdie manier leer jou kleuter nie abstrakte begrippe wat moontlik bietjie bo hul vuurmaakplek is nie, maar hulle assosieer die vorm, en naam met werklike dinge wat hulle kan raaksien en herken. Driehoeke is nie net dakke nie, maar ook pizza skywe of 'n stuk koek. Deur die vorm deel van jou kleuters se verwysingsraamwerk te maak, internaliseer hulle dit makliker as wat hulle 'n abstrakte konsep leer wat nie vir hulle sin maak nie. Jy kan ook hierna vir jou kleuter die basiese vorms uitwys op 'n meer gereelde basis, byvoorbeeld, "kyk daardie wiel is 'n sirkel", en kort voor lank sal jou kleuter begin saamspeel en vorms uitwys.

Gee jou kleuter ook die geleentheid om die vorms te pak soos wat hul wil om hul kreatiwiteit te ontwikkel. Die klein spiertjies word sommer ook bietjie gewerk deur manipulasie, spasiëring en hand-oog koördinasie.

Vorm bou kan ook 'n lekker gesinsaktiwiteit wees! (Maak net seker jy knip genoeg vorms) Julle kan in spanne dinge bou en die ander moet dit raai, julle kan kyk wie kan eerste 'n spesifieke prentjie voltooi, iemand kan 'n woord uitroep en die ander moet kyk wie dit eerste kan bou, die moontlikhede is eindeloos!

Lekker bou!

Metode:



Ek het vier van alles geknip, bloot omdat my kleuter daarvan hou om karre, bakkies en alles wat ry te maak, so ons het baie wiele nodig! Ek stel voor jy knip ten minste twee van elke vorm vir kleuters- dit gee 'n bietjie meer speling ten opsigte van wat gemaak kan word. 

Vir ouer kinders kan jy baie meer vorms knip, hulle hou van vuurpyle, mannetjies en volledige prentjies bou - en daarvoor het mens baie vorms nodig! Jy kan ook 'n groter verskeidenheid vorms vir hulle gee, byvoorbeeld ovale en harte.


As jy bietjie meer tyd het, kan jy ook verskillende groottes vorms knip. Dit is belangrik dat kleuters ook leer dat 'n vorm 'n vorm bly, ongeag van die grootte daarvan! 

Maak seker dat jy alles mooi bêre wanneer julle klaar is - hierdie is 'n lekker maklike besighou aktiwiteit wat vir jou genoeg tyd behoort te gee om gou die kos klaar te kry of om gou 'n koffie te drink! 



Kreatiewe Kleuter het ook 'n Facebook bladsy waar jy ons kan 👍 en so op hoogte bly van wat ons doen. Jy kan ook die volg knoppie hier onder kliek om 'n e-pos van elke inskrywing te ontvang.

Woensdag 08 April 2020

Gesiggie handjies vir emosies



Vandag maak ons handgesiggies om van ons gevoelens en emosies te leer. Dit is baie belangrik dat ons tydens die inperkingstyd gereeld met ons kinders praat oor hoe hulle voel en dan hul vrese op hul vlak aanspreek. Met ouer kinders is dit effens makliker, want hulle is in staat om beter te verstaan hoe hulle voel en het die kapasiteit om hul gevoelens te verwoord. (Al het ouer kinders ook dikwels aansporing en leiding nodig.

Kleuters het egter nie altyd die woordeskat of begrip om veral negatiewe emosies te verwoord nie en hul gevoelens kom dan in hulle gedrag uit. Hulle kan huilerig, klaerig en klouerig word of begin om die wêreld se grootste vloermoere te gooi. Deur ons kleuters van jongs af van emosies en gevoelens te leer, help hulle om hul wêreld en dit wat gebeur beter te verstaan. Kinders wat van jongs af geleer word om emosies te verwoord is ook minder geneig tot skadelike gedrag en meer geneig tot gesonde geestesgesondheid wanneer hul ouer word.

'n Lekker manier om jou kleuter van emosies te leer en terselfdertyd iets te maak wat hulle kan help om hul gevoelens uit te druk is om 'n emosie kaart te maak. Op hierdie plakkaat is verskillende emosies uitgebeeld en jou kleuter kan dan hul vinger druk op die gesiggie wat lyk soos wat  hulle voel.

Die gesiggie handjies wat ons vandag maak werk ideaal hiervoor en is ook 'n lekker sensoriese oefening vir klein en groot. Ouer kinders geniet die aktiwiteit net so baie soos die kleuters en dit is 'n lekker manier om hulle aan die praat te kry ook hoe hulle voel.

Metode:

Al wat jy nodig het vir die aktiwiteit is verf en papier.




Eerstens verf jy jou kleuter se hand en help hulle om hul hand op die papier te druk. Ek het nie die duim geverf nie, sodat die vingers meer na hare lyk! Indien jy bietjie meer tyd het, kan jy dat jou kleuter self hul hand verf - hulle geniet dit baie, maar dit raak morsig.... Ouer kinders kan uit die aard van die saak self hul hande verf en druk.



 


Tweedens teken jy of jou kleuter gesiggies op die hande. Jy kan vooraf besluit wat jy wil teken of aan jou kinders vrye teuels gee. Vir jonger kleuters is dit belangrik dat julle eers gesels oor die emosie wat julle teken, hoe dit mens laat voel en hoe mens se gesig lyk, byvoorbeeld, wanneer mens gelukkig of bly is glimlag mens en dan lyk jou gesig so.  Vra ook jou kleuter om die gesig te na-aap en dan teken julle dit.






Wanneer julle klaar is, plak dit teen die yskas vas. Wanneer dit lyk of ietsie pla, vra jou kleuter om jou te kom wys hoe hulle voel en dan praat julle oor die emosie.

Ek hoop julle geniet die aktiwiteit net soveel soos ons!

Indien jy inskrywings per e-pos wil ontvang, kliek die "volg" knoppie aan die onderkant van die bladsy, of bly op hoogte van wat ons doen deur ons op facebook te vind en te 'laaik'.

 

Dinsdag 07 April 2020

Dom Dom Dom Domino!



Ek het geswig en ingegee dat ons 'n domino-ketting kan bou. Die wind was erg teen ons en het 'n hele paar keer ons beginpunt omgewaai en ons hele ketting aan die gang gesit, maar dit het ten minste gehelp dat ons al die haak-plekke kon uitsorteer!

Die eerste ketting wat ons gebou het was baie ingewikkeld met 'n 'spesiale effek' aan die einde, te danke aan al die domino video's wat ons gestuur is. My kleuter het dit net die eerste en laaste ruk geniet, ons ketting was te ingewikkeld vir totale deelname van sy kant af, maar nadat ons die gesamentlike een voltooi het, het hulle dosyne van hul eie en op hul eie gebou. Vir ongeveer 'n halfuur lank.

Die aktiwiteit is baie goed vir die ontwikkeling van vaardighede soos ruimtelike bewustheid, spasiëring,  hand-oog koördinasie, oorsaak en gevolg, konsepte en eksperimentering.

Vir kleiner kleuters is dit belangrik dat dit so eenvoudig moontlik gehou word en hulle sal dit inteendeel die heel meeste geniet om te kyk hoe jy bou en dan net die bal aan die rol te sit en te kyk wat gebeur. Ouer kleuters, voorskolers en skoolganers sal dit baie geniet om op hul eie te bou en te beproef en te probeer.Hou dus altyd jou kind se ouderdom in gedagte! Maak seker jy neem hul pogings af sodat hulle daarna weer kan kyk -die vallery is soms te vinnig vir hulle om alles in te neem. 

Metode

Gebruik houtblokkies, domino's, harde kussing, bakstene, lego's, karton dose, skoene of enige iets wat kan regop staan en wat nie sal breek wanneer dit val nie, en pak dit in 'n lyn, draai of kurwe. Maak seker dat die afstand tussen die voorwerpe nie groter is as wat die voorwerp lank is nie! Pak en geniet!

Hier is ons poging - ons sien graag julle s'n, deel dit asseblief met ons!


 Lekker speel!


Jy kan die volg knoppie druk om 'n e-pos te ontvang wanneer ons 'n inskrywing plaas, of jy kan ons soek en van hou of fb om nooit 'n inskrywing te mis nie!

Maandag 06 April 2020

Towerverf...



Vandag se aktiwiteit is vir die brawes onder ons.... ons gebruik bleikmiddel om towerverf te maak!

Jy benodig gekleurde papier (maar 'n tydskrif bladsy sal net so goed werk) en bleikmiddel of in 'n spuitkan of in 'n klein bakkie (of altwee) en 'n kwas of 'n oorpluisie. 

Omdat bleikmiddel soos water lyk, is dit 'n wonderlike ervaring vir kinders om te sien hoe die 'water' wat hulle aanverf of spuit ewe skielik die bladsy geel kleur! Dit is soos towerkuns.... My kinders het baie pret gehad om prente te verf en dan soos die kleur ontwikkel tsunamis oor  die prente te verf om dit 'in te sluk'.

Dit is 'n goeie aktiwiteit om oorsaak en gevolg te leer (ook wat gebeur as bleikmiddel op jou klere kom en hoekom mens nooit aan bleikmiddel of enige anders skoonmaakmiddel moet proe nie), fyn motoriese vaardighede te ontwikkel en kreatiwiteit aan te wakker.

Ek het dit vreeslik geniet om hul reaksies dop te hou, hulle het glad nie geweet wat om te verwag nie! Na hulle verstaan het hoe dit werk, het hulle op hul eie begin eksperimenteer en die gate uit geniet!

Indien jou kleuter aan die jong kant is, gaan jy baie hand moet gee, hulle sal nie die aktiwiteit op hul eie kan doen nie. 

Maak seker dat jou kleuter ou klere aanhet ingeval hulle mors. Maak ook seker dat hulle hande was wanneer hulle klaar is. Moenie dat hulle met hul hande aan die bleikmiddel vat nie. Wanneer die aktiwiteit klaar is, maak seker dat jy alles mooi afvee en die orige bleikmiddel verwyder.

ONTHOU dat bleikmiddel skadelik kan wees indien dit ingesluk word of in die oë beland, so moenie jou kleuters of kinders alleen los tydens hierdie aktiwiteit nie.


Metode

Ons het op twee maniere 'getoor':

Vormpie kuns








Ons het verskillende vorms en letters uit weggooi karton geknip en daaroor gespuit of geverf. Die vorm word dan opgelig en dan word daar dopgehou hoe die papier verander en die vorm na vore kom! 









Towerverf







Hierdie het my twee baie geniet. Ons het eers vormpie kuns gedoen sodat hulle verstaan hoe die hele storie werk en daarna het ek bloot vir elkeen 'n verfkwas, 'n oorpluisie, 'n stuk papier en vrye teuels gegee.
 










Ek hoop dat julle net soveel pret met vandag se aktiwiteit soos ons sal hê! Geniet!

Jy op die 'volg' knoppie druk om 'n e-pos te ontvang wanneer ons 'n nuwe inskrywing het. Jy kan ons ook soek of fb en van ons hou.

Ons hoor graag van julle!






Sondag 05 April 2020

Wenke om die inperkingsperiode met kleuters (en ouer kinders) te oorleef


Wenke om die inperkingsperiode met kleuters (en ouer kinders) te oorleef


Ons almal is onseker en bang en bietjie uit ons koers uit, ons kinders ook! Hierdie wenke sal maak dat die inperkingsperiode dalk net so bietjie meer leefbaar is, veral in die lig dat dit moontlik verleng kan word!



Roetine is belangriker as ooit.


Roetine is een van die belangrikste goed wat aan kleuters en kinders sekuriteit gee. (Wanneer jy roetine en sekuriteit in ‘n internet soek enjin intik, sal jy honderde inskrywings sien wat die belang en voordele hiervan bevestig en verduidelik.) Sekuriteit is van onskatbare ware om kinders meer gevestig en minder angstig te laat voel. Kinders vind sekerheid daarin om te weet hoe hulle dag daarna uitsien. Dit beteken nie dat jy ‘n uitgewerkte dag program moet hê wat vir elke minuut voorsien nie, maar dit behels dat daar gevestigde opstaan, slaap en etenstye is. Die versoeking om slaaptye weg te neem en net te wag dat kinders en kleuters self aan die slaap raak van uitputting is groot, maar gevestigde slaaptye is voordelig vir die algehele welstand van jou kind, emosioneel, fisies en intellektueel. ‘n Gevestigde slaaptyd hou ook die voordeel in dat jy weet dat jou kleuter genoeg slaap inkry sodat hulle nie die volgende dag huilerig, klaerig en klouend sal wees nie en dit gee vir ouers ‘n blaaskans wanneer die kleingoed in die bed is.



Gebruik die tyd om nuwe gesinsroetines te skep


Siende dat ons nou die tyd het, is dit die ideale geleentheid om daardie gesinsroetine wat jy nog altyd wou instel te vestig. Of dit ‘n tydelike roetine is om byvoorbeeld elke oggend elfuur saam tee te drink of dat almal soggens saam dans op ‘n gunsteling liedjie; en of dit ‘n meer permanente roetine is soos dat almal saam om ‘n etenstafel sit vir een ete per dag, is irrelevant. Die tydelike roetines van samesyn is wat jou kinders gaan onthou bo alles anders van hierdie tyd en die meer permanente roetines is ‘n geleentheid om aan te hou bou aan samesyn geleenthede wanneer die inperking eers verby is. Dit is baie moeilik om nuwe roetines te vestig in ons gewone dag tot dag bestaan, want dit is net nog iets waarvoor tyd gemaak moet word en wat ekstra beplanning verg. Indien hierdie roetines egter tydens die inperkingstyd gevestig word wanneer almal saam tuis is en net daardie klein bietjie ekstra tyd het, sal dit makliker wees om daarmee vol te hou wanneer die wêreld weer terug keer na (die nuwe) normaal.



Moenie jou kinders konstant probeer besig hou nie


Dit is belangrik dat ons saam met ons kinders tyd spandeer, maar moenie voel dat dit jou werk of verantwoordelikheid is om hulle heeltyd besig te hou nie. Kinders moet op hul eie kan speel, hul eie speletjies uitdink en verveeld word. Kreatiewe denke en verbeelding word gebou deur self-speel en verveling! Kinders wat gelos word om hulself besig te hou bou ook probleemoplossingsvaardighede, leer van oorsaak en gevolg, leer onafhanklikheid, leer dat geluk van hulself af kom en nie van ander nie en leer om hul emosies te reguleer.



Praat en luister


Een van die belangrikste goed wat jy en jou kinders in hierdie tyd kan aanleer is oop kommunikasie kanale. Praat met jou kinders en luister na wat hul sê. (En lees sommer tussen die lyne ook!) Vra elke aand voor bedtyd, want dit is gewoonlik wanneer die meeste vrese, vrae en lekkerste geselsies gebeur, hoe hulle voel. Vir jonger kinders moet met meer leiding gee en jy kan vir jou kleuter baie spesifieke vrae vra, soos byvoorbeeld: “Is daar iets wat jou bang maak?”, “Is daar iets wat jou gelukkig maak?”, “Hoe voel jou hartjie?” Dit is terselfdertyd ‘n wonderlike geleentheid om kleuters van gevoelens te leer! 


Ouer kinders het ‘n groter kapasiteit om hulself uit te druk, maar maak steeds seker dat jy spesifieke vrae vra om agter te kom hoe jou kind werklik voel. Wanneer hulle dan antwoord, vra hulle hoekom hulle so voel, of wat hulle gelukkig/bang/hartseer/opgewonde maak. Maak ook seker dat jy ewe veel positiewe en negatiewe emotiewe vrae vra.  


Spreek jou kind se vrese op hul vlak aan. Kleuters en vroeë skoolganers verstaan baie beter wanneer hulle visueel iets sien. Ek het byvoorbeeld die presentasie van mense wat ernstig siek word van die korona virus met honderd Lego blokkies aan my kleuter verduidelik en dit het vir die eerste maal ingesink, so wees voorbereid om kreatief te wees met jou antwoorde!


Om die gewoonte te vestig om gereeld met jou kind te praat kan verreikende gevolge hê. Kinders wat gewoond is om met hul ouers te praat, sal makliker vertel indien iets groot fout is, byvoorbeeld dat hulle die slagoffer van ‘n boelie was. Verder meer is kinders wat hul emosies kan uitdruk meer geneig tot gesonder emosionele en geestesgesondheid en minder geneig tot gedrags –en verhoudingsprobleme.



Maak seker jy gee bietjie ekstra liefde


Ons kinders is net so onseker soos ons in gedurende hierdie periode en in sommige opsigte nog meer as ons. Behalwe dat hulle ook die omvergooi van normaliteit, sosiale distansiëring en die vrees vir hoe die wêreld gaan verander moet verwerk, is hulle ook bo en behalwe bang dat hulle hul ouers en hul ondersteuningsnetwerk gaan verloor. Baie kinders se grootste vrees is dat hulle die enigste een gaan wees wat oorbly in hul gesin, ander vrees hul ouers se afsterwe en dat niemand hulle sal versorg nie en party is doodbang dat hulle nooit weer hul familie-lede gaan sien nie. Hierdie vrese kom baie keer in kleuters, wat baie keer goed misverstaan, nie die kapasiteit het om te verstaan of hulself uit te druk nie; se gedrag uit deurdat hulle huilerig is, of nog meer sukkel om emosies in toom te hou, of bloot deur vloermoere te gooi. Ouer kinders kan baie hartseer, bot of depressief raak. Maak seker dat jou kinders gekoester voel en dat hulle weet dat jy hulle baie lief het en moenie bang wees om met hulle te gesels oor hoe hulle voel nie.



Maak kontak


Jou kinders mis hul maats en familie net soveel soos jy! Help jou kinders om minder geïsoleerd te voel deur hulle aan te moedig om maats en familielede te bel. Help kleuters om video's te maak en te stuur, of stuur stem-grepe. Hierdie aksies maak dat jou kinders meer in beheer voel van die situasie en dit laat hul steeds deel voel van hul sosiale groep en familie. Veral wanneer die video’s, foto’s en stemgrepe arriveer in antwoord op dit wat hulle gestuur het!



Wees aktief


Die opsie om vir ‘n lang stappie te gaan is nie daar nie, maar daar is baie ander planne wat jy kan maak om seker te maak dat jou kinders steeds ‘n goeie dosis daaglikse oefening inkry. Wanneer kleuters en ouer kinders beweeg voel hulle beter! Hulle raak ook ontslae van oortollige energie en slaap makliker in die aand. Bou hindernis bane uit kussings en stoele, maak beurte om te dans op elkeen se gunsteling liedjie, hou ‘n balkon-maraton, kruip deur die huis in ‘n resies, laai ‘n toepassing af wat almal aan die oefen kry. Die moontlikhede is legio.



Beperk skermtyd


Onbeperkte skermtyd is ‘n groot versoeking gedurende die inperking, maar die negatiewe implikasies van te veel skermtyd geld vir die inperkingsperiode ook. Dit is moeilik om ‘n skerm-verslawing te breek of om te besluit om skermtyd in te perk en wees voorbereid daarop dat jou kinders baie kwaad vir jou gaan wees hieroor. Die voordele van lees, speel en aktief wees oortref die relatiewe skyn van vrede voor die TV.



Probeer om soveel normaliteit in te bring as moontlik


Kinders het ‘n behoefte aan normaliteit wanneer alles omvêr gegooi word, so maak seker dat daar steeds standvastige goed in hul lewens is. Indien julle elke Vrydag ‘n wegneem pizza bestel het, maak pizzas elke Vrydagaand. Was Sondae ‘n familie-ete? Maak ‘n groot Sondagmaal en bel die familielede voor jul aansit om te hoor wat hulle eet en wat hulle maak. ‘n Bietjie van die lewe voor inperking gaan baie help om die lewe tydens inperking makliker te maak!




Onthou dat die inperkingsperiode nie vir altyd gaan duur nie! Gebruik hierdie geleentheid om saam met jou kinders te leer, te groei, te speel en te lag. In ons moderne samelewing waar ons vir niks tyd het nie en jaag van een plek na die ander, is dit ‘n kosbare geleentheid wat aan ons gegun word om saam met ons gesinne te wees. Kom ons probeer om dit so lekker as moontlik vir ons almal te maak.