Vrydag 27 Maart 2020

Immuunsoldaat!


Ons skop die inperkingsperiode af met 'n daaglikse groente en vrugte kaart! Ons is al 'n tydjie in self-isolasie, so ek het hierdie geleentheid gebruik om vir my twee van hul immuunstelsel te leer. Omdat ek nog 'n ou kleintjie het, het ek die idee van soldate gebruik - ons immuunstelsel veg immers teen kieme om ons gesond te hou! Ek het verduidelik dat ons immuunstelsel ten minste 5 tot 8 groente en vrugte 'n dag nodig het om genoeg ammunisie te kry om teen kieme te baklei.

Ons het 'n kaart gemaak en die groente en vrugte wat ons in die huis het identifiseer, geteken, ingekleur en uitgeknip. Elke keer wanneer hulle 'n groente of 'n vrug eet, word dit op die kaart geplak. Ons maak nou sommer almal saam kos en dan word elke vars groente baie getrou op die kaart geplak! Aan die einde van die dag word die prentjies getel, afgehaal en die hoeveelheid neergeskryf. My oudste het tans 'n kompetisie met homself om te kyk of hy elke dag sy rekord kan breek! Die kaart moedig ook kinders aan om groente en vrugte te proe waarvoor hulle tot dusver te bang was!

Hierdie aktiwiteit bied die geleentheid vir kinders om self verantwoordelikheid te kan neem, maar ook om daadwerklik iets aan die onsekerheid te doen en dit verrig wondere vir kinders wat effens angstig kan raak. Die name (en kleure en vorms) van groente en vrugte word geleer, daar word getel en nommers neergeskryf. Lekker maklike wiskunde vir alle ouderdomme om die dag mee af te sluit!

Druk gerus ons kaart uit en gebruik dit! Ek het ons s'n lamineer om die prentjies makliker op en af te haal. Ek sluit nie 'n groente/vrugte prentjie kaart in nie - dit is 'n heerlike aktiwiteit om te kyk wat in die vrugtebak, yskas (en selfs vrieskas) is en dit te teken!

Hoop die aktiwiteit bring vir julle net soveel plesier soos vir ons! 

 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking