Vrydag 27 Maart 2020

Slaaituine



Ons sit sommer daad by woord met die hierdie plasing - gesonde slaai eet op die immuunsoldaat manier!

Gedurende hierdie periode is dit 'n wonderlike geleentheid om jou kinders toe te laat om te help kos maak. (Onthou altyd dat daar 'n baie groter kans is dat 'n kind iets sal eet/proe wat hul self gemaak het.)

Ons kan van elke etenstyd 'n heerlike speel-speel klaskamer en leerproses maak. Vroeë wiskunde kan maklik geïnkorporeer word deur gesprekke oor afmeting, hoeveelheid, vorms, kleure en instruksies. Gesprekke oor sintuie en hoe ons almal iets anders beleef kan ook ingebring word, deur groente te voel, te ruik, te sien, te proe en te hoor (m.a.w. skud dit en kyk of dit 'n geluid maak!). Taalvaardigheid word aangeleer deur beskrywings van wat jy ervaar of hoe dit vir jou proe. Gevolg en effek word beproef deur die verskil tussen rou en gaar of onverwerk en verwerkte kos te proe, te sien, te voel en te doen! 

Van ons lekkerste gesprekke (en die snaakste vrae) kom gedurende hierdie voorbereidingstyd uit!

So hoe maak mens?

Vra jou kleuters/kinders om al die slaai benodighede af te was. Kleintjies hou veral baie daarvan om die slaaiblare in 'n groot bak soutwater af te was. (Knyp maar oë toe vir die mors, of sit die bak in die wasbak of op 'n afdroogdoek vir die ergste spat.)
Jy of jou kinders gebruik dan koekie drukkers om verskillende vorms uit slaai bestanddele te druk. Ons het mannetjies uit komkommer, blomme uit kaas en sterre uit pynappels gedruk en dit op die blaarslaai gras geplant met tandestokkies. (Die hele idee van slaai wat met stokke geëet word, help natuurlik ook baie!) Die stukke van die slaaigroente wat oorbly, verdwyn gewoonlik tydens die maak in die monde! Daar is dus geen vermorsing nie.  
Daar is egter so baie moontlikhede wat nog vir die slaaituin gemaak kan word met verskillende soorte groente en vrugte - gee die kinders se verbeelding vrye teuels. Stuur gerus foto's van jul tuine!

Hoop hierdie aktiwiteit spoor jou kleuter(s)/kinder(s) aan om slaai te eet en dat dit jou 'n bietjie van 'n blaaskans gee met die verantwoordelikheid van kosmaak en gesond eet!
 
 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking