Vrydag 27 Maart 2020

Speuders


Alhoewel hierdie aktiwiteit vir kleiner kleuters ook geskik is, sal dit ouer kinders baie langer besig hou en beter pas. Hierdie aktiwiteit verg ook 'n bietjie meer insette en voorbereiding van Mamma of Pappa se kant af, maar is 'n wonderlike speletjie/tydverdryf vir kleuters en kinders van 3 af en op. Hierdie aktiwiteit is baie soos 'n skattejag, so dit verg baie ouer inset en verseker baie kinder plesier. Hou asb. jou kleuter/kind se ouderdom in gedagte ten alle tye. Dit sal dikteer hoe en wat jy doen.

Dit is wonderlik vir probleemoplossingsvaardighede, kreatiewe denke en vormherkenning/lees.

Hoe werk dit?

Besluit eers wat die probleem gaan wees wat jou speurders moet oplos en gebruik dit dan as die basis waarvan jy leidrade uitwerk en wegsteek. Die probleem kan werklik enige iets wees, ons het al 'n 'ongeluk' met army mannetjies en army karre gehad en 'n kat se kos wat verdwyn het. Maak net seker dat jy mooi weet hoe jou storie werk voor jy begin leidrade wegsteek en uitdink!

Die army ongeluk
Vir die oplossing van wat gebeur het met die ongeluk, moes my twee aktief eksperimenteer om by die oorsprong uit te kom. Hiervoor moes hulle, hulle allerhande alternatiewe scenarios uitprobeer om te  kyk of hul by die dieselfde ongeluk uitkom. (Oorsaak en gevolg maklik gemaak!)

Waar is die kat se kos?
Vir die opsporing van die kat se kos, moes hulle leidrade volg, hulle self vermom om verdagtes te agtervolg, onderhoude voer en saam besluit oor dit wat hulle geleer het. Hulle met m.a.w. skattejag gehou sonder 'n skat! Kleiner kleuters kan alles saamdoen met behulp van 'n getekende kaart en dan identifiseer waarnatoe hulle moet gaan en wat hulle moet doen om die kat se kos te vind.

My kinders het hierdie aktiwiteit bitter baie geniet, maar dit was heelwat voorbereiding en ek was ook heeltyd betrokke tydens die aktiwiteit. Dit is dus perfek vir Mammas en Pappas wat hou van saamspeel!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking