Vrydag 27 Maart 2020

Konsert / Modeperade


Ons het baie pret gehad met die aantrek boks!

Myne was vir 'n goeie veertig minute eers aan die 'oefen' vir die konsert en modeperade en toe kon ek terugsit en hul vertoning geniet! En ek het my redelik kis gelag vir hul mannewales...

Ek het ons konsert/aantrekboks aangevul met grootmensklere wat ek uit die kaste gehaal het om te skenk en hierdie 'regte' klere was net so 'n groot aantrekking soos die verbeelingsklere. Wanneer die entoesiasme vir aan -en uittrek effens begin taan - sit lekker musiek aan, dan speel en dans hulle van vooraf!

Kleiner kleuters gaan die aktiwiteit nie heeltemal so lekker of so lank op hul eie kan doen nie en gaan hulp nodig hĂȘ om aan en uit te trek. Om dit meer ouderdomsvriendelik te maak, werk items soos skoene, hoede, kepse, pruike, serpe, doeke en rompe baie lekker, want hierdie items kan hulle alles op hul eie hanteer en manipuleer. 

Hierdie aktiwiteit werk baie lekker vir kreatiewe ontwikkeling, maar jy kan dit ook 'n geheue oefening maak vir ouer kinders deur vir hulle 'n storie te lees of te vertel wat hulle dan vir jou moet opvoer. Dit is ook goeie motoriese vaardigheidsontwikkeling - al daai aantrek, uittrek, vasmaak en losmaak!

Hopenlik gee dit jou 'n blaaskans vir daai boek se lees - en 'n TV-vrye aand want die kinders is die vermaak!

Geniet :)

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking