Vrydag 27 Maart 2020

Stokkie legkaarte

Hierdie aktiwiteit se maak en speel is beide deel van die proses. :) Dit kan aangepas word vir baie kleintjies of heelwat groter kinders met heelwat gemak.

Kinders leer wiskundige vaardighede bv. sorteer en pas, motoriese vaardighede bv manipulasie en selfs lees vaardighede, bv. herkenning!

Ek besef dat baie mense nie noodwendig soveel stokkies het wat in hul huise rondlê nie, maar moenie bekommerd wees nie. Mens kan met net soveel gemak strokies papier of karton gebruik. Papbokse sal veral lekker werk. Jy kan ook besluit of jy die prentjies wil uitdruk en plak, wil teken en inkleur of verf na aanleiding van wat jy in die huis het. Kleurprentjies wat uit tydskrifte geknip word sal wonderlik werk.

Ideaal sal mens dunner stokkies vir ouer kinders wil gebruik om hul meer uit te daag, maar ek het nie gehad nie so ek het langer prentjies met meer stokkies gebruik.

Lekker maak en lekker speel!

Hoe maak mens?



 
Stap 1
 
Die maak van die legkaarte is baie basies. Die getal stokkies of strokies papier wat jy gaan gebruik moet groot genoeg wees om die prentjie op te pas. Pak die stokkies styf langs mekaar uit en plak dit met maskeerband, kleeflint of gaffatape vas. Hierna verf, plak, skryf of teken jy jou prent of ontwerp op.





Verf
Ek het groot koekiedrukkers se onderkant geverf om die ontwerp op die stokkies te kry. My kinders het dan die prentjies geverf en ek het later net goed soos oë of monde bygeteken na dit droog was. Hierna het ons die kleeflint afgetrek en die legkaart is gebore!

Teken
Teken die buitelyne van die ontwerp op die stokkies en kleur dit met viltpenne in. Trek die kleeflint aan die agterkant af, skommel en sit jou legkaart bymekaar.


 Plak
Druk of teken die ontwerp op papier en knip dit losweg uit. Gebruik houtlym om dit op die stokkies te plak. Indien jy karton strokies gebruik sal gewone stiffie gom ook lekker werk. Ek het oorskiet kleefplastiek gehad en dit oor die prentjies geplak ter versterking. Daarna het ek met 'n liniaal en skerp punt kombuismes (want my eintlike messie is weg) die stokkies uitmekaar gesny. Daarna is die skommel en bou!

Skryf
Skoolgaande kinders kan uitgedaag word deur sinne te skryf wat hulle dan in die regte volgorde moet pas. Gebruik jou verbeelding! Dit kan enige iets wees. Jy kan ook 'n kort paragraaf uit 'n storie kies om op te skryf en dan vir jou leser die storie gee om te lees en die probleem op te los. Op daardie manier toets jy sommer ook jou kind se lees en soek vermoe!

As jy wil kan jy op die agterkant van die stokkies die naam skryf van dit wat voorop is vir 'n ekstra vlak van speel.

 

Stap 2
Maak alles deurmekaar, sorteer, soek uit en bou! 









Hoop julle geniet die aktiwiteit!
Vind ons op Facebook en hou van ons :) 
 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking