Saterdag 28 Maart 2020

Plaatkoekies


Vandag se aktiwiteit is 'n skaamtelose kostroos! Kan jy onthou wanneer jy laas plaatkoekies (flapjacks) geëet het? Kanse is nie onlangs nie! 

In hierdie onseker tye, is dit belangrik dat ons kinders ook soms goed net kan geniet, sonder dat dit noodwendig gesond is en dat hulle herinneringe kan bou aan samesyn, saam eet en saam gesels.

Uit die aard van die saak kan hierdie genotsaktiwiteit ook as opvoedkundige aktiwiteit ingespan word! (Want op die ou end van die dag, is daar baie min speletjies en kindergoed wat nie opvoedkundig gebruik kan word nie :) ) Vir ouer kinders wat reeds leesvaardig is, kan jy die hele resep gee om aan te maak. Nie net is dit minder werk vir jou nie, maar dit word dan 'n lees aktiwiteit en jy kan deur hoe korrek hulle die instruksies uitvoer ook hul lees -en begripsvermoë toets! Die afmeet van bestandele is boonop ook wiskundig, self vir klein kleuters, en 'n lekker vermenging van abstrakte en konkrete begrippe! Kleiner kleuters leer afmeet en ingooi, en wanneer hulle proe en meng ontwikkel konsepte van tas, proe, sig asook aksie-en-gevolg.

Die heel beste van hierdie aktiwiteit is dat jy saam aan die troetelkoekies kan eet!

Wees asseblief versigtig wanneer kombuis implimente gebruik word en moet nooit 'n kind toelaat om sonder toesig hiermee te speel/werk nie. Die gebruik van die stoof moet maar aan Mamma of Pappa oorgelaat word.

Resep

My resep kom uit die 'Kook en Geniet' van S.J.A. de Villiers (Human & Rosseau)

Bestandele
2 eiers
125ml (half koppie) suiker
250ml (1 koppie) melk
30ml (2 eetlepels) gesmelte botter of olie
500ml (2 koppies) koekmeelblom
20 ml (4 teelepels) bakpoeier
2.5ml (halwe teelepel) sout

Metode
Klits die eiers en suiker saam.
Gooi dan die helfte van die melk en gesmelte botter/olie by en klits.
Gooi al die droee bestandele by en klits liggies.
Klits die orige melk by sodat dit 'n gladde mengsel maak.
Moenie oorklits nie - klits net tot gemeng.

Skep lepeltjies vol in 'n warm pan. Wanneer die bokant van die deeg lugborrels maak, draai dit om en bak die anderkant tot bruin. Pasop dat jou pan nie te warm is nie! Eet saam met botter en heuning of stroop of net so!  

Vind en hou van ons op Facebook en sorg dat jy nooit 'n inskrywing mis nie! 

 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking