Donderdag 21 November 2013

Maak 'n Wolpoppie



Vandag maak ons 'n poppie van wol!

Die poppie se maak is goed vir fyn motoriese vaardigheidsontwikkeling en kleuters kan hul verbeelding gebruik om die poppie verder te tooi, bv met hare.

Dit is glad nie moeilik nie, maar jonger kleuters sal vinnig belangstelling in die maak verloor en verkies om slegs met die eindproduk te speel.

Geniet die aktiwiteit!

Benodighede
  
Wol/tou, 'n stukkie karton (of een van daardie gratis dagboekies wat gratis saam met tydskrifte gegee word), 'n sker, gekleurde garing.

Metode
Stap 1: Die gebruik van die dagboekie is nie noodsaaklik nie, dit is net makliker vir jonger kleuters om so te begin! Druk die wol se punt onder die rek van die dagboekie in en draai die wol om die boekie tot redelik dik. Indien julle 'n stukkie karton gebruik, hou net die wol se puntjie vas totdat julle 'n paar keer daaroor gedraai het.

Stap 2: Wanneer julle 'n lekker dik draaisel het (of al jul wol/tou op is) skuif die wol versigtig van die stukkie karton/dagboekie af. Neem 'n klein stukkie wol/tou en bind dit om die boonste stukkie van die wol draaisel om 'n koppie te vorm. Maak twee bondeltjies tou/wol weerskante van die "lyf" los om arms te vorm.

Stap 3: Bind die 'n toutjie om die eerste bondeltjie na aan die lyf vas. Vou die arm dubbel en bind weer lekker styf naby aan die lyf vas. Bind nou 'n stukkie wol/tou so na aan die punt van die gevormde arm as moontlik.

Stap 4: Druk 'n sker se punt in die lusse aan die punt van die arm en knip deur om die hande te vorm. Herhaal Stap 3 en 4 om die ander arm ook te vorm. Bind nou 'n toutjie/wolletjie in die middel van die lyf om 'n middellyfie te vorm.

Stap 5: Deel die oorblywende wol draaisel in twee gelyke dele en bind elkeen so naby aan die middellyf as moontlik vas. Bind 'n tou/wol so na as moontlik aan die punt van elke been, steek 'n sker deur die lusse en knip om voete te vorm. Jou poppie se lyfie is nou klaar.

Stap 6: Steek 'n stukkie wol/tou deur die wol lusse van die kop en maak 'n knoop bo-op die kop om die koppie te vorm. Druk die oorblywende stukkies wol/tou in die koppie in. Gebruik gare en steek dit deur 'n paar stringe tou/wol en knoop dit vas. Herhaal hierdie proses 'n paar keer om 'n oog te vorm. Herhaal vir ander oog.

Stap 7: Gebruik rooi gare op dieselfde manier om vir die poppie 'n mond te maak. Siedaar, jou poppie is klaar! Jy kan nou jou verbeelding gebruik om jou poppie verder te versier as jy wil.

Geniet kreatief wees saam met jou kleuter!
Vind en hou van ons op Facebook en deel jou opmerkings en ervarings met ons.

Vrydag 15 November 2013

Hoe sag vaar ons bootjie...



























Dis uiteindelik somer in die Kaap en daar is genoeg sonskyn om buite in die water te speel! Ons maak vandag 'n maklike bootjie wat heerlik dryf vir water plesier.

Onthou tog dat dit uiters belangrik is om altyd toesig te hou as jou kleuter in water speel, 'n ongeluk gebeur in 'n oogwink.

Lekker vaar met jul bootjie!

Benodighede


Ou melk karton; sker, viltpen, sosatie stokkie/strootjie/chinese eetstokkie, oorskiet papier, bree deurskynende kleeflint.

Metode
Stap 1: Gebruik die viltpen om 'n kniplyn reg rondom die melk karton te trek. Trek die lyn aan die bokant van die tuit, sodat dit die karton in twee oneweredige helftes deel. Knip versigtig uit.

Stap 2: Trek twee (of drie) driehoeke op 'n stuk oorskiet papier en knip dit uit. Ons het sommer 'n oorskiet gekenksakkie gebruik. Gebruik die kleeflint om die "seile" aan die stokkie of strootjie vas te plak.

Stap 3: Maak 'n gaatjie in die middel van die kleinste helfte van die melk karton en steek die stokkie of strootjie versigtig daar deur. (Pasop om jou gaatjie te groot te maak, dan sal jou mas nie stewig staan nie. 'n Stukkie wondergom of klei sal help om die gaatjie weer nommer pas te kry.) Neem nou die helfte met die mas en druk dit versigtig in die groter helfte van die melk karton in. En jou bootjie is seewaardig!

Ouer kleuters met 'n bietjie meer geduld, kan die melk karton verf met olie-basis verf voor jul dit knip. Hou in gedagte dat die verf goed droog moet wees voordat jul verder gaan.

 Geniet kreatief wees saam met jou kleuter!
 Stuur gerus vir ons foto's van jul voltooide bootjie!

Donderdag 07 November 2013

Aartappel Druk!

Ons doen Aartappel drukwerk vandag!

Aartappel drukwerk verskaf hope mors plesier vir kleuters en julle kan die eindproduk as spesiale geskenkpapier vir familie gebruik.

Jy kan enige verf gebruik, ek het sommer vingerverf vooraf gemaak. Indien jy goedkoop en onskadelike vingerverf (wat makliker af -en uitwas as gekoopte vingerverf) wil maak, kan jy na 19 April se blog loer, waar die proses stap vir stap verduidelik word. (Kliek op hierdie skakel: Vingerverf Resep)

Mamma sal die stempel(s) vir kleiner kleuters moet maak, maar skoolbeginners kan dit onder baie toesig self probeer.

Die voorbereiding vat 'n tydjie, veral as jy eers die verf maak, maar die stempels is vinnig om te maak. Dit is ook maklik om op te ruim, veral as julle op koerant papier werk - bondel slegs die papier saam en gooi weg!

Geniet kreatief wees saam met jou kleuter!

Benodighede  

Verf, Aartappel(s), mes en papier.


Metode 
 
Stap 1: Sny die aartappel in die helfte en gebruik die agterkant van 'n kwas of 'n sosatie stokkie om jou ontwerp te teken. (Hou dit so eenvoudig moontlik aan die begin of totdat jy gemaklik met die uitsny is.) Gebruik 'n mes om die oortollige stukke versigtig weg te sny. Wanneer jy klaar is moet jou ontwerp uitstaan sodat jy dit soos 'n stempel kan gebruik.

Stap 2: Gebruik vingers of 'n kwas om verf aan die ontwerp te smeer en druk op papier na hartelus! Geniet dit om jou papier vol stempels te druk!


Geniet kreatief wees saam met jou kleuter!  
Het julle aartappel druk geniet? Deel jul foto's met ons op Facebook!  

Maandag 04 November 2013

Handjies klap, koekies bak!

Menigte mamma sit met hul hande in hul hare as hul kleuters wil help om koek te bak. Bak en brou saam met jou kleuter hoef egter nie 'n nagmerrie te wees nie. Ons gee vandag vir jou 10 goue reels wat bakdag prettig vir almal sal maak!

Reel 1:
Wees slim met jou bestandele en resep: Nou is nie die tyd om Tant Lenie se geheime en peperduur soetkoekie resep uit te pluk nie. Daar is heelwat spotgoedkoop en lekker kleinkoekie mengsels op die mark wat slegs 'n eier en botter/kunsbotter nodig het. (Hierdie wenk sal ook werk vir wanneer jy die groot Kersfees kleinkoekies bakdag tref. Kleuters raak maklik verveeld en sal defnitief nie wil aanhou help nadat hulle klaar hul eie koekies gebak het nie.)

Reel 2: 
Laat jou kleuter toe om soveel as moontlik van die bestandele self by te voeg: Maak dit so maklik moontlik vir jou kleuter, meet bestandele af en gooi in bakkies vir maklike byvoeging. Hoe meer hulle self kan doen, hoe lekkerder. (En hoe meer kan hulle mors!)

Reel 3:
As daar bestandele of toerusting is wat jy nie wil he hulle mee moet mors of hanteer nie, pak dit weg: Hou die tipe goed eenkant en voeg by/gebruik op die gepaste tyd. Op hierdie manier hou jy jou kleuter uit die versoeking om te gebruik of te vat aan dit wat s/hy nie moet nie.

Reel 4:
Laat jou kleuter toe om soveel te meng, knie, roer en klits as moontlik: Sit 'n handjie by waar nodig, maar help hulle om soveel moontlik op hul eie te doen. Dit doen wonders vir hul ontwikkeling en genot. (En dit is baie moelik om 'n gekoopte klein koekie mengsel te laat flop.)

Reel 5: 
Laat hulle toe om aan soveel as moontlik verskillende teksture te voel: As jy gril vir al die verskillende vrywe, vatte, drukke en kniee - hou ingedagte dat jou kleuter meeste van die koekies sal eet en dat 180 *C meeste kieme sal doodmaak.

Reel 6:
Laat hul toe om soveel as moontlik te proe: Om te proe is deel van hul leer en verkenningsproses en is 'n groot deel van die lekker van koekies bak. En mens kry nie regtig maagpyn van koekiedeeg nie.

Reel 7:
Stel altyd veiligheid eerste: Laat jou kleuter net toe om soveel met die oond te werk as wat jy mee gemaklik is. Liewer bang Jan as gebrande Jan.

Reel 8:
Maak vrede daarmee dat dit morsig gaan wees: Onthou maar dat mors een van die lekkerste aktiwiteite vir enige kleuter is. Beperk die gemors deur net een gedeel van 'n werksoppervlak te gebruik en moenie probeer skoonmaak tot julle klaar is nie, jy gaan net jou eie lewe moeilik maak!

Reel 9:

Laat hul toe om die koekies op hul eie manier te vorm: Iewers sal hul moeg raak en dan kan jy die saak beredde. Kleiner kleuters sal vir 'n rukkie mors en dan kan jy die deeg in bolletjies rol wat hulle kan plat druk.

Reel 10: 
 
Meeste koekies lyk aanvaarbaar wanneer hul klaar gebak en gestapel is en amper alles proe beter met sjokolade smeer!

Geniet dit om saam met jou kleuter te bak en brou!

 Vind en hou van ons op Facebook of teken in om 'n weeklikse e-pos te ontvang!