Donderdag 03 Oktober 2013

Gesigverf!

Ouderdom: 2-9                                                                                                             Het Mamma se hulp nodig om aan te maak
Mamma se geduld vlak: Baie laag
Koste: R0 (Alles is in jou huis) 

Vandag maak ons ons eie gesigverf!

Dit is baie maklik en goedkoop om die gesigverf te maak en verskaf ure se genot. Die verf is lekker dik en kan met 'n kwas aangeverf word, maar 'n vinger werk net so goed of beter.

Die verf kan met 'n lap afgevee word of met seep en water afgewas word. Donker kleure soos blou en rooi kan die vel liggies vlek, maar sal binne 'n paar uur (of na badtyd) verdwyn. Ek sal egter voorstel dat julle nie die verf gebruik net voor 'n belangrike fotosessie nie!

Omdat die verf lyfroom as 'n basis gebruik behoort dit sensitiewe velle nie te affekteer nie.

Die verf is nie eksklusief gesigverf nie - jou kleuter kan sy hele lyf verf!


Benodighede

Dik lyfroom, mielieblom (Mazeina), voedselkleursel, bakkie(s) en 'n lepel.

Metode


Meng die dik lyfroom en mielieblom in 'n 2:1 verhouding. (M.a.w. twee hoeveelhede lyfroom en een hoeveelheid mielieblom) Voeg 'n druppel voedselkleursel by en meng baie goed.

Jou gesigverf is reg!  Geniet dit!


Geniet jou kleuter se kreatiwiteit!

Teken in om Kreatiewe Kleuter weeklik per e-pos te ontvang en hou van ons op Facebook!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking