Donderdag 10 Oktober 2013

Baljaar met Ballonne

Ouderdom: 2 - 9                                                                                                                          Het Mamma se hulp nodig
Mamma se geduld vlak: Uiters laag
Koste: Tussen R0 en R12 (Indien jy 'n pakkie balonne aankoop)

Vandag baljaar ons met ballonne! Met al die wonderlike speelgoed wat kleuters het, vergeet ons soms van die plesier wat iets so eenvoudig soos 'n ballon verskaf.

Ons maak vandag 'n raserige skudballon, wat om die arm gedra kan word of op en af met die hand geskud word. Die  ballon maak nogal 'n harde geraas wat kleuters geniet!

'n Gewone reklose raserige ballon sal kleuters net soveel geniet. Die inhoud maak die ballon effens swaarder wat beteken dat hulle dit met meer beheer kan skop, slaan of gooi. Elke keer wat die ballon geskop of geslaan word, maak dit ook 'n geraas.

Peuters en baba's jonger as twee sal ook geniet om die ballon te skud, maar Mamma moet net mooi dophou dat die ballon nie gekou word of bars nie.

Kleuters kan vir 'n lang tyd op hierdie manier besig gehou word en dit is ook 'n aktiwiteit wat binnehuis beoefen kan word. Dit sal ook lekker op partytjies werk.

Lekker speel!


Benodighede

'n Klein bietjie rys, growwe sout, gedroogte ertjies of gort; 'n ballon, 'n rekkie.

Metode

Stap 1: Rek die mond van die ballon oop en gooi 'n klein bietjie rys, sout of gedroogte ertjies of gort in die ballon. Blaas die ballon op.

Stap 2: Terwyl jy die nek van die ballon styf toeknyp, trek 'n rekkie oor en maak 'n knoop. Maak seker dat die rekkie saam vasgeknoop word. Jou raserige skudballon is klaar!

Stap 3: Trek die rekkie om jou arm en beweeg jou arm rond om geluide te maak. Jy kan ook aan die rekkie vashou en die ballon op en af skud om lekker te raas!

Hoop jou kleuter geniet hom/haarself gate uit!

 Jy kan inskryf om ons per e-pos te volg of van ons op facebook hou om op hoogte te bly!


 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking