Donderdag 26 September 2013

Tergende Tangram

Ouderdom: 2 - 12                                                                                           Het Mamma se hulp nodig met uitlegging en skepping
Mamma se geduld vlag: Uiters laag
Koste: R0 (Alles is in jou huis)

Vandag maak en speel ons met 'n Tangram. 'n Tangram is 'n eeue-oue Chinese speletjie wat jou kleuters, voorskolers, skoolbeginners en ouer kinders lank sal besig hou. Die Tangram bestaan uit sewe vorms: 'n vierkant, vyf driehoeke en 'n langwerpige ruitvorm, wat gebruik word om 'n groot verskeidenheid dinge te bou, bv. mense, bote, diere, huise, kortom, enige iets.

Kinders kan hul eie verbeelding gebruik om vorms te bou, maar daar is ook boeke en webwerwe wat jou uitdaag om allerhande ingewikkelde patrone en dinge na te bou.

Jonger kleuters sal heelwat aanmoediging benodig, maar dit is 'n wonderlike manier om hulle van vorms bewus te maak, asook hoe verskillende vorms 'n nuwe geheel kan maak. Die aktiwiteit is goed vir analitiese en kreatiewe denke ontwikkeling, probleem oplosvaardigheidsontwikkeling en fyn motoriese ontwikkeling.

Ek vermoed jy gaan net so lekker soos jou kleuter speel!

Benodighede


Gom, papier, sker, oorskiet karton, gekleurde papier, potlood, liniaal.

Metode

Stap 1: Indien jy nie 'n stuk gekleurde karton het nie, maak vir jou een deur 'n stuk gekleurde papier op 'n stuk oorskiet karton soos 'n ou ontbytgraanboks of die agterkant van 'n skryfblok te plak. Indien jy nie gekleurde papier het nie, kan jy wit papier inkleur en versier.

Stap 2: Trek 'n 12cm by 12cm vierkant op die gekleurde papier. (Let wel: die diagram is nie op skaal nie.)

Stap 3: Trek 'n lyn deur die middel van die vierkant om dit in twee ewe groot driehoeke te verdeel. Jy behoort nou twee vorms te he. (Let wel: die diagram is nie op skaal nie.)

Stap 4: Meet en merk die middelpunte van die boonste driehoek se kort sye, m.a.w. 6cm van die hoek of. Trek 'n lyn tussen die twee punte, die lyn sal m.a.w. parallel met die middellyne loop. Jy behoort nou drie vorms te he. (Let wel: die diagram is nie op skaal nie.)

Stap 5: Plaas jou liniaal op die middellyn van die vierkant sodat dit die middellyn wat jy reeds getrek het kruis. Trek nou 'n lyn vanaf die hoek tot by die boonste parallel lyn. Jy behoort nou vyf vorms te he. (Let wel: die diagram is nie op skaal nie.)

Stap 6: Trek 'n reguit lyn van die middelpunt van die halveerde middellyn tot by die einde van die boonste parallele lyn. Jy behoort nou ses vorms te he. (Let wel: die diagram is nie op skaal nie.)

Stap 7: Trek 'n reguit lyn vanaf die middel punt vanaf die anderkant se gehalveerde middellyn tot by die hoek van die halveerde middellyn en parallele lyn. Jy behoort nou vyf driehoeke, 'n vierkant en 'n ruitvorm te he. (Let wet: die diagram is nie op skaal nie.)

Stap 8: Knip die sewe vorms versigtig uit. Siedaar, jou tangram is klaar en reg om mee te speel!

Ons het die volgende prentjies gebou. Kan jy ons namaak? As jy klaar is, bou jou eie en stuur vir ons die foto's!

 Vis, boot en kat

Gesiggie, Sjinese mannetjie en 'n hond

Geniet kreatief wees saam met jou kleuter!

 Deel gerus jul voltooide prentjies en terugvoer met ons, ons hoor graag van julle! Julle kan ook met ons op Facebook kommunikeer. 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking