Saterdag 19 Oktober 2013

Ballon Muise vir speel en vat!

























Ons speel verder met balonne vandag. (Hopenlik het jy nog 'n paar in die pakkie oorgehad!)

Die ballon muise is maklik om te maak en jy kan 'n viltpen  gebruik om die ogies op te teken indien jy nie ogies het om op te plak nie. 

Die ballon muise is ook lekker om aan te vat en te rol en te druk, ouer babas of baie jong kleuters sal so 'n tekstuur ballon baie geniet. Verskillende vulsels sal verskillende teksture verskaf wat tastend verken kan word. Ek sal voorstel dat jy vir 'n tekstuur ballon ogies opteken of glad nie ogies opsit nie. (Minder wat in die mond kan beland.) My kleuter het sy een muis as "deeg" gebruik en vreeslik gerol en gevorm.

Ongelukkig het ek slegs lang ballonne in die kas gehad en ons het met die eerste muis nogal gesukkel om die gort in te kry - ons moes baie opblaas en rek aan die begin. Indien  jy ronde ballonne gebruik, sal julle baie minder mors en sukkel.

Die aktiwiteit kan ook as groepsaktiwiteit vir ouer kleuters en skoolbeginners aangebied word.

Geniet die maak en speel met jou kleuters!

Benodighede

Enige gedroogte vulsel (ertjies/gort/boontjies/sopmengsel); tregter, ballonne, ogies of viltpen; gom (indien jy ogies gebruik).


Metode

Stap 1: Blaas jou ballon 'n paar keer op om dit te rek en makliker te maak om te vul. Indien jy wil kan jy 'n klein knopie aan die voorkant van die ballon maak wat die neus sal vorm. Jy kan eksperimenteer met verskillende "neuse"; ons het vir ons pienk muis slegs 'n knopie neus gemaak en vir ons blou muis 'n neusie vol gort gemaak.

Stap 2: Trek die bokant van die ballon versigtig oor die onderkant van 'n tregter en begin om die ballon bietjie-bietjie te vul. Die vulsel gaan die grootte van die muis bepaal, so julle kan self besluit hoeveel gedroogte vulsel om by te gooi.

Stap 3: Knoop die ballon toe,maar maak seker dat die knoop nie te na aan die vulsel is nie, knoop dit effens weg van die vulsel. Die vulsel sal die hele geknoopte gedeelte vul en die ballon sal genoeg elastisiteit het om nie sommer te skeur indien daar gedruk en getrek word nie. Plak of teken twee ogies op, en siedaar! Jou muis is klaar!


Geniet kreatief wees saam met jou kleuter! 

Hou julle van ons veranderde voorkoms? Laat ons weet!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking