Vrydag 25 Oktober 2013

Poppekas: Die Drie Klein Varkies



























Vandag hou ons poppekas! Ons maak die drie klein varkies en die wolf en bou 'n stel vir ons poppekas.

Behalwe dat hierdie aktiwiteit fyn motorvaardighede, kreatiwiteit en kommunikasie vaardigehede ontwikkel, bied dit jou en jou kleuter ook die geleentheid om buite bou materiaal te versamel. Jy kan ook die konsepte van lig en swaar op 'n praktiese manier verduidelik, terwyl jou kleuter hiermee kan eksperimenteer en dit sodoende internaliseer.

Kleuters sal die konstruksie, versameling, sowel as die uitspeel van die storie vreeslik geniet. Moenie verbaas wees indien daar baie interessante opvoerings van die verhaal geskied nadat jy en jou kleuter dit saam deur gespeel het nie. My kleuter se wolf het wonderbaarlik die steenhuis herhaaldelik omgeblaas en die die gras(strooi) huisie opgeeet.

Let tog daarop dat ons voorbeelde deur 'n twee en 'n halfjarige kleuter gemaak is, ouer kleuters se veel hoer vaardigheidsvlak sal 'n baie verskillende eindproduk verseker!

Mamma's moet asseblief by wees wanneer daar geknip word. En verskoon ons oorbeligte foto's, my kleuter het besluit om kameraman te wees en (soos net 'n kleuter kan) my ligmeter heeltemal deurmekaar gemaak!

Lekker speel!

Benodighede

Inkleurpotlode/viltpenne/vetkryte; sker; 3 velle papier; gom; sosatie/sjinese stokkies of 'n lepel, deurskynende kleeflint; bietjie gras, bietjie stokkies en 'n halwe baksteen/groterige klip.

Metode

Die handpoppe: 

Stap 1:  Teken die drie varkies en wolf se koppe op 'n stuk papier, kleur dit in en knip dit uit. Indien nie jy of jou kleuter kans sien vir self teken nie, kan julle ons voorbeelde uitdruk en inkleur. Daar is ook 'n reeds gekleurde kopie beskikbaar wat slegs uitgedruk en uitgeknip kan word.

Stap 2: Vat jou sosatie/sjinese stokkie of die onderkant van 'n lepel en plaas dit op die agterkant van 'n uitgeknipte kop. Plak lekker stewig vas met kleeflint. Herhaal met al die koppe en jou handpoppe is klaar!

Die stel

Stap 1: Stap deur die tuin of die park en versamel stukkies gras, dun stokkies en 'n halwe baksteen of 'n groterige klip.

Stap 2: Deel 'n vel papier rofweg in drie en knip die stroke uit. Smeer gom op die eerste strook en plak die gras daarop vas. (Strooi huisie se muur.) Smeer gom op die tweede strook en plak die stokkies daarop vas. (Hout huisie se muur.)

Stap 3: Plak die die kant van elke strook aanmekaar sodat dit 'n sirkel vorm. Jy het nou die onderkant van die strooi en hout huise voltooi.
 
Stap 4: Trek twee sirkels op 'n vel papier en knip dit uit. Maak 'n sny tot in die helfte van elke sirkel. Trek die twee punte van die geknipte sirkel effens oormekaar sodat dit 'n kegel vorm en plak vas met kleeflint. Jy het nou die dakkies van huisies gemaak. Sit dit bo-op die muurtjies en jou huisies is klaar. (Jy hoef nie die dakkies op die mure te plak nie.)

Stap 5: Plak die oorblywende strook papier om die baksteen of groterige klip vas. Hierdie huisie hoef nie 'n dakkie te kry nie. Let daarop dat nie een van die huisies presies soos jou idee van 'n huisie hoef te lyk nie. Jou kleuter se verbeelding is sterk genoeg dat suggestie genoeg is.

Jou stel is nou klaar! Rangskik die huisies op 'n lae tafel en voer die storie op saam met jou kleuter. Maak sekr dat s/hy die huisies omblaas. Dit is vet pret!


Kliek op die onderstaande prentjie om dit te vergroot en druk en knip dit uit. 
 
 
  


Kliek op die onderstaande prentjie om dit te vergroot: druk uit, kleur in en knip uit.


 


Geniet kreatief speel met jou kleuter!

Ons hoor graag van julle! Stuur vir ons foto's, opmerkings of e-posse van jul aktiwiteite.

1 opmerking: