Vrydag 06 September 2013

Vou 'n storie, 'n bakkie en 'n hoedjie

Ouderdom: 2 - 9                                                                                                                         Het Mamma se Hulp nodig
Mamma se geduld vlag: Vreeslik Laag
Koste: R0 (Alles sal in jou huis wees)

Ons vou vandag 'n storie! Dieselfde vou tegniek kan gebruik word om 'n bakkie vir partytjie kos te maak of 'n trein bestuurder en/of polisieman pet.

Ouer kleuters behoort die storie en korresponderende vou aktiwiteite maklik te memoriseer en te bemeester. As kinders het dit ons ure besig gehou om die bakkies te vou en om dit vir ons maats te leer. Dit was naby aan toor!

Jonger kleuters sal die storie en die uiteinde geniet, alhoewel hulle nog nie self die vouwerk kan doen nie.

Die aktiwiteit is goed vir kreatiewe ontwikkeling, fyn motoriese vaardigheidsontwikkeling; retensie en luister vaardighede.

Die storie word in pers vertel saam met die stappe en die idee is dat jy vertel soos jy vou.

Geniet die vertel, vou en speel!
  

Benodighede

Inkleurpotlode/kryte; sker; papier.

Metode

Stap 1: (Voorbereiding) Jou kleuter kan een helfte van die papier versier, dit sal die eindproduk opwindender maak. Wanneer die versiering klaar is, vou die boonste kort sy na die lang sy. Gebruik 'n pen of kryt om 'n lyn op die papier te trek, terwyl jy die dubbel gevoude driehoek as gids gebruik. Vou die oop deel van die driehoek na die toe deel. Die papier behoort nou soos 'n "huisie" te lyk.

Stap 2: (Voorbereiding) Knip versigtig op die lyn wat jy getrek het. Gooi die dun strook wat jy afgeknip het weg en vou die driehoek oop. Jy behoort nou 'n vierkant met vier gevoude lyne te he.

Stap 3: Ek het olifant biltong gemaak en besluit om vir jou 'n bietjie te stuur. Omdat ek op 'n eiland bly, sit ek dit in 'n pakkie en vou dit versigtig toe.
Draai die papier sodat die wit kant na bo wys. Vou die vier hoeke na die middelpunt sodat jy weer 'n vierkant kry.

Stap 4: Ek besluit toe om vir jou 'n briefie te skryf en vou dit ook versigtig toe.
Draai die gevoude papier om en vou die vier hoeke na die middelpunt sodat jy weer 'n vierkant kry.

Stap 5: Ek sit die biltong en brief in 'n groot koevert en skryf jou adres op.
Draai die gevoude papier weer om en vou dit in die helfte.

Stap 6: Ek plak twee seels op die koevert en sit die pakkie op 'n boot.
Hou die gevoude reghoek sodat die middelste driehoek na onder wys. Vou die regterkantste driehoek na agter en die linkerkantste driehoek na voor. Jou gevoude papier moet nou soos 'n driekhoek lyk.

Stap 7: Daar kom 'n wind op en die boot span sy twee seile.
Druk jou vinger in die middel van driehoek bo, en druk die twee boonste hoeke na mekaar toe. Die gevoude papier moet nou 'n vierkant vorm wees wat op een hoek staan. Gebruik die boonste flap en vou die boonste hoek na die onderste hoek, m.a.w. vou die flap dubbel. Draai die gevoude papier om en doen dieselfde aan die anderkant. Jou gevoude papier sal nou weer 'n tipe vierkant verteenwoordig.

Stap 8: Ongelukkig verander die wind in 'n storm en die kaptein beveel die matrose om die seile te stryk.
Druk jou vinger aan die buitekant van die vierkant in en vou die flap oop. Vou die boonste hoek na die onderste hoek om 'n driehoek te vorm. (Vou met ander woorder die flap in die helfte). Draai die gevoude papier om en herhaal die proses aan die ander kant. Jou gevoude papier moet nou in die vorm van 'n driehoek wees.

Stap 9: Die storm veroorsaak reuse golwe wat binne die boot inslaan en die boot begin sink. Gelukkig is daar reddingsbote aan boord en die kaptein beveel dat die reddingsboot opgeblaas moet word. Nou kan almal en al die pakkies op die reddingsboot klim.
Draai die driehoek sodat punt na bo wys. Aan die bokant sal jy sien dat daar vier hoeke is wat daar bymekaar kom. Trek elkeen van die hoeke versigtig uit, waneer al vier uitgetrek is, sal dit 'n boot vorm maak. Ek vind dit die maklikste om eers die "voorkant" se twee hoeke uit te trek en dan die papier om te draai en die agterste twee punte uit te trek.
 
Stap 10: Die reddingsboot vat langer as die boot om by land uit te kom en die kaptein raak verveeld. Hy vou jou brief oop, lees dit en vou dit verkeerd toe. Hy maak jou pakkie oop, eet jou olifant biltong op en vou die pakkie verkeerd toe.
Trek die enkel flappie aan die onderkant van die bootvorm uit en vou dit heeltemal oop. Vou die boonste en twee kantste hoeke na die middelpunt om 'n vierkant te vorm. Vou die vierkant in die helfte na onder om 'n reghoek te vorm. Draai die gevoude papier om en herhaal. Jy behoort nou 'n gevoude reghoek met twee "handvatsels" te he.

Stap 11: Die reddingsboot land en die poskantoor kom laai jou pakkie by jou huis af, maar toe die pakkie by jou aankom is dit leeg!
Vat aan elke "handvatsel" flap en trek die gevoude papier oop. Jy het 'n bakkie met handvatsels gevou! 

'n Paar variasies op die tema... 

Vou 'n bakkie!

Volg die boonste stappe om die bakkie te vou, maar gebruik gekleurde papier. Plak die flappies met deurskynende kleeflint aan die onderkant vas.

Jy't nou 'n goedkoop bakkie wat jy vir kinders partytjiekos, koekies, tjippies of lekker kan gebruik. Die bonus? Jy hoef dit nie te was nie en jy hoef nie bekommerd te wees dat dit breek nie!

Vou 'n Treinbestuurderpet of 'n polisieman se hoed
 
Stap 1: Volg die stappe om 'n bakkie te maak, maar gebruik 'n stuk koerant papier. Draai die bakkie om en druk die twee los flappies aan die kant in. Plak dit vas. Vou een van die "handvatsel" flappe terug en plak aan die onderkant met kleeflint vas.

Stap 2: Gebruik bree deurskynende kleeflint en plak 'n strook ook die oorblywende flap om dit te verstewig. Plak ook 'n strook kleeflint oor die kant van die bakkie net bo die flap. Jy kan jou hoedjie nou verf of versier.

Sit jou hoed op jou kop en speel!

Geniet kreatief wees saam met jou kleuter!

Stuur gerus foto's on van jul voltooide projekte. Soek en hou van ons op Facebook!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking