Donderdag 29 Augustus 2013

Grillerige Groen Tower Slym

Ouderdom: 2 - 9                                                                                               Het Mamma se hulp nodig met afmeet
Mamma se geduld vlak: Laag
Koste: R0 (Jy sal alles in jou koskas kry)

Vandag maak ons grillerige tower slym. Die konkoksie het die eienskappe van 'n vloeistof as dit op sy eie is, maar sodra jy effense druk daarop toepas, word dit 'n soliede massa! Dit beteken dat jy die slym kan optel en in 'n bal druk, maar die oomblik as jy jou hand oopmaak, sal dit begin "smelt" en van jou hand en vingers afloop soos water.

Jou kleuter kan dit op sy/haar eie maak en ek belowe dat dit oud en jonk sal betower. Ek het in alle eerlikheid net so lekker soos my kleuter gespeel. Wat 'n voorreg!

Hoop julle geniet die maak, ontdek en speel net soveel soos ons.  

Benodighede


Twee en 'n half koppies mielieblom (Maizena)
'n Half koppie water
'n Paar druppels voedselkleursel

Metode

Stap 1: Voeg al die bestandele in 'n mengbak. (My kleuter het van die kans gebruik gemaak om aan alles te proe.)

Stap 2: Gebruik jou hande om die mengsel goed te meng. Wanneer die mengsel in stukke uitgetel kan word en dan weer van jou hande afloop sodra jy jou hande oopmaak is dit reg. Indien te styf of te waterig, gooi bietjie water of mielieblom by totdat jy die verlengde konstitusie verkry.
 
Stap 3: Gooi die mengsel in 'n beskuit bakplaat, skinkbord of groot plastiek bak en speel!

Wees gewaarsku! Ek was slim genoeg om die aktiwiteit binnehuis met my twee en 'n half jarige kleuter te doen. Dit was baie morsig! Veral omdat hy dit vreeslik geniet het om sy hande af te skud en te kyk hoe die slym vlieg en van ander opvervlakke afloop. Ons het die bak buitentoe gedra en hy het dadelik begin "boer". Die feit dat die karretjies nie spore maak nie, maar wel in die slym insink na 'n tydjie was 'n bron van groot fasinasie!

My gunsteling eienskap van die slym? My kleuter kon die bak self met die tuinslang was! (En gewone water verwyder alle ander wilde speel bewysstukke maklik.)

Geniet kreatief speel met jou kleuter! 

Stuur gerus ons skakel na jou vriende of hou van ons op Facebook!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking