Donderdag 12 September 2013

Maak 'n reenwolk

Ouderdom: 2 - 9                                                                                                                       Het Mamma se hulp nodig
Mamma se geduld vlak: Uiters laag
Koste: R0 (Alles is in jou huis)

Vandag maak ons 'n reenwolk met papier, verf en kleeflint.

Alle ouderdomme sal dit geniet om met vingerverf te werk! Indien julle nie vingerverf in die huis het nie, soek gerus ons inskrywing rondom die maak van vingerverf op. Dis is spotgoedkoop en vreeslik maklik om te maak. Die aktiwiteit kan egter ook met vetkryte of potlode voltooi word.

Jonger kleuters sal die verf gedeelte meer geniet as maak van die wolkie, moedig hulle aan om nog te verf en te eksperimenteer terwyl die verf op die wolkie droog raak. Mamma of Pappa sal moet hand gee om die wolkie te voltooi.

Ouer kleuters behoort die hele aktiwiteit op hul eie te voltooi met minimale insette van Mamma of Pappa. Die knip en vou is goed vir fyn motoriese vaardigheidsontwikkeling, terwyl die verf kreatiwiteit ontwikkel en jou kleuter toe laat om met tekstuur en kleur te eksperimenteer.

Nadat my kleuter op sy speelgoed en die hond "gereen" het, het ons sy wolkie in sy venster geplak vir 'n vrolike venster versiering.

Hoop julle geniet die aktiwiteit net soveel soos ons.

Benodighede

Papier; verf (of inkleur potlode/vetklryte); liniaal; potlood/pen; sker; deurskynende kleeflint.

Metode

Stap 1: Teken die buitelyne van 'n vriendelike wolkie op 'n vel wit papier. Verdeel 'n vel A4 papier in 8 dele met behulp van 'n potlood en 'n liniaal. Gebruik vingerverf om die wolkie en die hele vel papier te versier.

Stap 2: Wanneer jy klaar is, sit die papier in die son of op 'n warm plek neer om droog te raak. Onthou om jou hande te was voor jy aan enige iets anders vat! Wanneer die verf droog is, knip versigtig op die lyne en knip die agt stroke uit.

Stap 3: Vat die eerste twee stroke en sit die ente op mekaar sodat dit 'n agterstevoor "L" of 'n regte hoek vorm. Gebruik kleeflint om dit vas te plak. Begin by die onderste strook en vou dit oor die boonste strook. Vou nou weer die onderste strook oor die boonste strook.

Stap 4: Herhaal Stap 3 totdat jy beide stroke "opgevou" het en plak die boonste punte aan mekaar vas. Indien jy die gevlegde strook uitrek, lyk dit nou amper soos 'n gevlegde wurm! Maak nou so met al die oorblywende stroke, totdat jy vier gevlegde wurms het.

Stap 5: Knip die wolkie versigtig uit. (Mamma of Pappa kan vir jonger kleuters die papier rondom die wolkie kleiner knip. Dit maak dit makliker vir jou kleuter.) Plak 'n lang stukkie kleeflint op die bokant van een van die wurms en plak die oorblywende deel aan die agterkant van die uitgeknipte wolkie. Hou so aan totdat al vier wurms vas geplak is. Siedaar, jou wolk is klaar!


 

 Geniet kreatief wees saam met jou kleuter!

 Stuur gerus vir ons foto's van jul voltooide projekte. Laat weet ons ook van watter aktiwiteite julle die meeste hou. Julle kan van ons hou op Facebook of inteken om op hoogte te bly!



  

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking