Donderdag 19 September 2013

Suursuiker!

Ouderdom: 2 - 9                                                                                                                Het Mamma se hulp nodig
Mamma se geduld vlak: Uiters Laag
Koste: R0 (Alles behoort in jou koskas te wees, maar indien jy Kremetart of Koeksoda moet aankoop sal dit jou tussen R3 en R6 uitwerk.)

Vandag maak ons suursuiker (sherbet) om die einde van die skoolkwartaal (suur) en die begin van die vakansie (suiker) te vier!

Ouer kleuters kan die resep op hul eie maak en behoort die suursuiker gate uit te geniet, veral as hulle dit met 'n stokkielekker kan eet of deur 'n strooitjie kan opsuig.

Jonger kleuters sal die maak geniet, veral as hulle kan sif (en mors). Hulle mag egter nie so baie van die smaak hou nie!

Nadat julle die betrokke porsies uitgeskep het, kan die orige suursuiker in 'n lugdigte houer op 'n droe plek (nie die yskas nie) gestoor word. Dit behoort lekker lank te hou!

Geniet die bak en brou!

Benodighede 

Bestandele:
250ml versiersuiker
7ml kremetart (tartaric acid)
7ml koeksoda (bicarbonate of soda)

Ander benodighede: Sif, Maatlepels, Maatbeter en twee mengbakke.

Metode


 Stap 1: Plaas die sif op 'n mengbak en gooi al die bestandele daar in.


Stap 2: Sif die bestandele drie maal. Indien daar enige klontjies in die sif agter bly, vryf dit met die vingers deur. (Ons het die twee bak metode gebruik. Ons het in die eerste bak gesif, dit sif op die tweede bak gesit en die eerste bak se inhoud in die sif gegooi en dit herhaal totdat die mengsel drie maal gesif is.)

Stap 3: Eet jou voltooide suursuiker met 'n stokkielekker (of jou vinger) uit 'n bakkie! Alternatief kan jy 'n groot opgehoopte eetlepel in 'n koevert gooi. (Ons het 'n groot gebruikte koevert geneem en net kleiner gevou.) Plak die koevert toe en steek 'n strootjie in die een hoek. Knip die strootjie bietjie korter en jy't 'n pakkie suursuiker wat jy suig-suig kan eet in die loop.


Geniet dit om saam met jou kleuter te bak en brou!  

Vind en hou van ons op Facebook en vertel ons hoe julle die suursuiker geniet het.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking