Donderdag 22 Augustus 2013

Bad Jellie Borrelbad

Ouderdom: 2 - 9                                                                                                                                       Het Mamma se hulp nodig!
Mamma se geduld vlak: Vreeslik Laag
 
Koste: R0 - R30 ('n Boksie Gelatien kos ongeveer R29)

Hierdie week het ons probeer om Bad Jellie te maak. Dit is vreeslik maklik om te maak, maar ons was nie baie suksesvol daarmee nie.Twee pogings later en die badwater wou steeds nie stol nie. 

Na verdere ondersoek het ek agtergekom dat die bad jellie resep wat ons volg bedoel is om borrelbad te maak en nie 'n gestolde bad nie! (En dat al ons pogings eintlik suksesvol was...)

Die borrelbad bad jellie hou lank in die yskas en jy kan elke aand 'n lepel of twee uitskep en onder lopende badwatwer hou vir 'n betowerende bad belewenis. Dit is ook 'n lekker geskenk idee!

My kleuter het dit gate uit geniet om in 'n groen en ligteblou skuimbad te bad en te speel. (En in alle eerlikheid het die grootmense dit ook prettig gevind!)

Hoop julle geniet die maak en speel net soveel soos ons.

Benodighede


 3/4 koppie kokende water
1 eetlepel Gelatien
1 eetlepel Sout
1/2 koppie vloeiseep of babasjampoe
paar druppels Voedselkleursel

Metode

Stap 1: Gooi die kookwater in 'n mengbak en voeg die Gelatien by. Roer tot opgelos.

Stap 2: Voeg die vloeiseep of babasjampoe by. Maak seker dat jy stadig roer, anders skuim dit vreeslik! (My kleuter het nog nie die kuns om stadig te roer bemeester nie, so ons eerste poging het vreeslik geskuim.)
 
Stap 3: Voeg 'n paar druppels voedselkleursel by en roer stadig tot gemeng.

Stap 4: Voeg die sout by en meng goed. Die mengsel behoort al stadig te begin stol.

Stap 5: Gooi die mengsel in 'n houer met 'n lugdigte deksel en sit in die yskas om te stol. Skep teelepels vol uit vir gebruik.


Geniet jou kreatiewe kleuter!

Vind en hou van ons op Facebook of teken in om die blogs weekliks per e-pos te ontvang.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking