Vrydag 16 Augustus 2013

Klipsop!



Ouderdom: 2 - 9                                                                                                                                       Het Mamma se hulp nodig!
Mamma se geduld vlak: Baie Laag

Koste: R0 - R30 (Afhangende van watter groente in jou yskas is en wat jy sal moet aankoop!)

Vandag maak ons klipsop!

Klipsop is nie net 'n lekker les in mededeelsaamheid nie, maar dien ook as 'n luister en onthou oefening, kos lessie en (afhangend van wat jy in die klipsop gooi) gee dit jou kleuter ten minste vyf van sy daaglikse groente porsies!

Aan die einde van die inskrywing sluit ek 'n weergawe van die storie in volkleur in, asook swart en wit velle wat groter kleuters kan inkleur.

My kleuter het dit baie geniet om die prentjies in te kleur, die storie te lees, die sop te maak en om dit te eet. Dit was sy idee om "rolspel" tydens die kookproses te doen, wat dit maklik gemaak het om sy luister en retensie vaardighede te meet, want as "boemelaar" moes hy alles onthou wat in die sop kom!

'n Ekstra bonus vir Mamma's met lekkerbekkige kleuters is dat kinders geneig is om te eet wat hulle self maak!

Ek hoop julle geniet dit net soveel soos ons om klipsop te lees, te maak en te eet!

Let asseblief daarop dat die tweede helfte van die aktiwiteit die stoof insluit en dat Mamma ten alle tye moet toesig hou.


Benodighede

Die storie van Klipsop; Inkleurvelle (opsioneel); 'n skoongewaste klip; sopgroente en vleis; 'n pot met kookwater, sout en 'n houtlepel. (Indien jy skrikkerig is vir om rape by te voeg: 'n gaar raap proe iewers tussen 'n aartappel en 'n ui, dit sal dus nie 'n vreemde geur aan die sop gee wat jou kleuter sal afstoot nie.)

Metode

Stap 1: Druk die storie van Klipsop uit en lees dit voor aan jou kleuter. (Indien jy gelukkig genoeg is om die storie in boekvorm te besit, lees dit gerus en spaar jou ink!) Indien jou kleuter oud genoeg is kan julle die swart en wit inkleurprente uitdruk en inkleur. Jy kan jou kleuter vra om die storie oor te vertel terwyl hy inkleur, jy kan op hierdie speelse manier sy begrip, luistervaardighede en retensie toets.

Stap 2: Gaan soek 'n klip om klipsop mee te maak en was dit goed af. Sit 'n groot genoeg pot op die stoof en gooi kookwater in. (Ek doen dit op hierdie manier aangesien die water kook in die storie voordat die boemelaar sy klip ingooi! Die water is dus stomend, maar omdat die plaat af is en die koue groente vinnig bygevoeg word, raak die pot nooit warm nie en die gevaar vir brand word verminder.) "Gooi" die sopklip (ons het 'n gaatjieslepel gebruik om die klip in te sit) in en roer goed! Skep 'n bietjie water, proe en besluit om sout by te gooi...

Stap 3: Roer die klipsop en proe daaraan en gooi die volgende bestandeel by! Gooi die bestandele een-een by (ek sny alles voor die tyd op en sit dit in bakkies om dit makliker vir my kleuter te maak om te identifiseer en te hanteer). Onthou om na elke nuwe bestandeel te roer en te proe!

Stap 4: Nadat al die bestandele bygevoeg is (en jy kan jou eie opmaak na gelang van jou sak en koskas soos wat jy die storie vertel. Jy kan bv. gort of tamaties byvoeg), gee die klipsop 'n finale roer/proe en stel 'n wekker of horlosie vir 'n uur en 'n half. Sit die plaat aan en laat die klipsop kook en prut todat dit gaar is. Jy kan jou boemelaar met intervalle laat proe aan die klipsop om te sien of dit al "reg" is! Jy kan ook die sop 'n bietjie fyner druk vir kleiner kleuters om dit makliker te maak om te eet.

Wanneer die sop gaar is, bedien en vier fees!

Geniet kreatief wees saam met jou kleuter!

Soek en hou van ons op facebook!

Storievelle in kleur:





























Inkleurvelle:






















Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking