Donderdag 11 Julie 2013

Plakboek Pret!

Ouderdom: 2 - 9                                                                                                                                       Het Mamma se hulp nodig!

Mamma se geduld vlak: Baie laag

Koste: R0 (As jy alles in die huis het) tot R12 (Indien jy 'n plakboek moet aankoop)

Maak ‘n plakboek wat jou kleuter ure se genot sal verskaf! 

Ons het ‘n verskillende temas vir elke bladsy gekies, byvoorbeeld kleure, polariteite (teenoorgesteldes), troeteldiere ens. So kan verskillende konsepte op ‘n prettige manier geleer word, terwyl jou kleuter(s) hom/haar ook eienaarskap vir die skepping kan toe-eien en sodoende die konsepte makliker internaliseer. Fyn motorise vaardighede, knip vaardighede en analitiese denke word ook bevorder en ontwikkel.

Vir kleiner kleuters kan ‘n plakboek gemaak word vol prentjies wat in sy/haar wêreld voorkom, byvoorbeeld prentjies oor familie, tandeborsel, troeteldiere, motor, huis, boom ensovoorts. Op hierdie manier word bekende konsepte bevestig en kreatiewe denke geprikkel.


Ouer kleuters sal die plakboek op hul eie kan maak en jy sal slegs opdragte of voorstelle hoef te gee en aanvanklik te help met die uitsoek van die korrekte prentjies. Kleuters wat nog nie knipvaardighede bemeester het nie, kan steeds help met prentjies uitsoek en plak!


Vir ouer kleuters en skoolbeginners kan die naam van elke prentjie duidelik neergeskryf word om met leesvaardighede te help. Vir jonger kleuters kan die tema van elke bladsy neergeskryf word, dit kan later help met letterherkenning, maar sal ook help vir wanneer ander volwassenens die plakboek saam met jou kleuter blaai!


Ons het ‘n dekoratiewe skêr vir sommige van die prentjies gebruik, maar dit het my kleuter baie gefrustreer omdat dit moeiliker is om te gebruik as ‘n gewone skêr. Die mooi randjies het nie ‘n verskil aan die eindproduk gemaak nie!


Indien julle ‘n baie spesifieke tema kies, soos byvoorbeeld Thomas die Stoomtrein, kan julle saam-saam prentjies op die internet soek en uitdruk indien julle toegang tot ‘n kleurdrukker het.


Vir van die konsepte het ons slegs drie of vier prentjies opgespoor en soos wat die tyd aanloop sal ons dit aanvul. Sodoende word die plakboek ‘n “lewende” dokument wat jou kleuter herhaaldelik op verskeie vlakke kan stimuleer.



My kleuter het van sy leesboekies vergeet, sy plakboek was ook sy slaaptydstorie! Hoop julle geniet die knip en plak!




Benodighede


Ou tydskrifte, prente, skêr, gom, plakboek of papier, kryte


Metode

Stap 1: Besluit op jul tema(s) en soek prentjies in ou tydskrifte wat hierby pas. Knip die prentjies uit en hou soort by soort!


Stap 2: Rangskik die prentjies soos wat julle dit wil plak op die bladsye van die plakboek. Smeer gom op die agterkant van elke prentjie en plak dit vas. Druk die prentjies lekker styf vas sodat dit stewig sit.


 Stap 3: Herhaal stap 1 en 2 totdat al die bladsye klaar is! Versier die voorblad van die plakboek.



Bladsy Voorbeelde


Plaas




Polariteite (Klein en Groot)




Troeteldiere en Kleur (Rooi)



 Lekker boekie blaai!

Geniet die kreatiewe tyd saam met jou kleuter! 
Vind ons op Facebook en bly op hoogte.
Die volgende inskrywing sal op Vrydag, 19 Julie 2013, gemaak word.

 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking