Vrydag 19 Julie 2013

Sneeuvlokkies!

Ouderdom: 2 - 9                                                                                                                                       Het Mamma se hulp nodig!
Mamma se geduld vlak: Laag
Koste: R0 

Vandag maak ons sneeuvlokkies om die winterkoue af te weer! 

Dit is 'n lekker aktiwiteit om kleuters, voorskolers en skoolbeginners mee besig te hou terwyl dit te koud of te nat is om buite te speel. Voltooide sneeuvlokkies maak sommer terselfdertyd 'n lekker vensterversiering om die huis mee op te vrolik!

Hierdie aktiwiteit is nog baie moeilik vir twee jariges, maar met baie hulp van Mamma kan hulle dele daarvan baasraak. Die sneeuvlokkies sal met knipvaardighede, kreatiewe ontwikkeling, spasiëring en ruimte bewustheid help.

Let daarop dat knip die hoof aktiwiteit is, so Mamma moet asseblief toesig hou, veral by jonger kleuters.
 

Benodighede

Papier (Kleur/wit); skêr; garing/tou/vislyn; kleeflint/maskeerband/wondergom; viltpenne/kryte/inkleurpotlode (opsioneel).


Metode

Stap 1: Neem 'n vel A4 papier en vou dit in die helfte. Vou weer in die helfte. Vou nou twee aangrensende sye teen mekaar sodat dit 'n soort driehoek vorm.

Stap 2: Merk 'n effense ronding aan die bokant van die driehoek af. Ons het 'n glasie gebruik om 'n ronding te vorm. (Voorskolers en skoolbeginners kan vryhand teken of sommer dadelik begin knip.) Knip nou op dieafgemete ronding sodat jy 'n driehoek met 'n geronde punt het.

Stap 3: Knip nou versigting stukkies uit die driehoek. Dit hoef nie vreeslike ingewikkelende patrone te wees nie, enige klein knippie sal 'n mooi effek gee. Vou nou die vel oop en bewonder jou sneeuvlokkie!

Stap 4: Eksperimenteer met verskillende vorme en patrone. Jy kan ook die patrone op teken en uitknip.

Stap 5: Jy kan ook die papier vooraf inkleur om kleurvolle en interessante vlokkies te maak.

Stap 6: Ons het 'n son gemaak vir warmte! Vou soos in stap 1 en teken sonstrale  op die afgemete ronding en knip uit. Ons het met viltpenne spirale op die son geteken.

Stap 7: Gebruik 'n stukkie kleeflint/maskeerband om 'n lengte gare/tou/vislyn aan elke sneeuvlokkie te heg en gebruik kleeflint, maskeerband of wondergom om die sneeuvlokkie aan die bokant van 'n venster te hang.

Geniet Kreatief wees saam met jou kleuter!

 Vind en hou van ons op Facebook. Jy kan ook foto's van jou voltooide sneeuvlokkies met ons deel!


 

 


 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking