Saterdag 06 Julie 2013

Verkyker vir 'n Ontdekker


Ouderdom: 2 - 9                                                                                                                                                 Het Mamma se hulp nodig!

Mamma se geduld vlak: Baie laag

Koste: R0 (Julle sal alles in die huis vind)
 
Wintervakansie is vir baie gesinne sinoniem met 'n kuier in die wildtuin, daarom maak ons hierdie week 'n belangrike item vir so 'n kuier:
'n verkyker!

Fyn motoriese vaardighede word deur hierdie aktiwiteit ontwikkel en ons het ook die geleentheid gebruik om kleure en kleur skakerings vas te lê. Ons het 'n verkyker in skakerings van groen gemaak, maar gee jou kleuter se verbeeling teuels ten opsigte van die kleure en teksture wat julle gaan gebruik.
 
Hou asseblief toesig wanneer jou kleuter 'n skêr gebruik, al het s/hy reeds die knip tegniek bemeester!

Benodighede

 
Leë toiletrol houers; skêr, gom, ou tydskrif, ou veter of stukkie wol, rekkie (opsioneel).

Metode

Stap 1
Kies 'n kleur skema en skeur bladsye uit 'n ou tydskrif wat verskillende skakerings van die gekose kleur bevat. Skeur nou hierdie bladsye in klein stukkies wat as mosaik blokkies sal dien. (Hoe jonger jou kleuter hoe groter die mosaik blokkies vir maklike hantering.) Druk gom op die eerste toiletrol uit en gebruik 'n vinger om die gom egalig oor die hele oppervlak te versprei.
 

Stap 2:
Gebruik die mosaik blokkies om die toiletrol te bedek. (Ons het die papiertjies in 'n houer gegooi, dit het dit makliker vir my kleuter gemaak om 'n stukkie raak te vat en te plak.) Moenie bekommerd wees indien die geplakte blokkies nie glad is nie.
 

Stap 3:
Druk 'n bietjie gom op die klaar geplakte rolletjie uit en gebruik 'n vinger om dit oor die bedekte rolletjie te smeer. Die gom sal al die uitstaan papiertjies glad maak en plak en versterk die struktuur effens. (Die gom is deurskynend as dit droog is.) Laat dit droog raak en herhaal stap 2 en 3 om die tweede rolletjie te bedek.
 

Stap 4:
Druk 'n reguit strepie gom op elke droë rolletjie en druk dit vas aan mekaar om te heg.

 
Stap 5:
Gebruik 'n skêr om 'n gaatjie aan die bokant van elke rolletjie te maak. Druk die ou veter of stukkie wol deur die gaatjie en maak 'n knoop aan die binnekant.
 
 
Stap 6:
Herhaal die proses met die ander rolletjie. My kleuter was effens ongeduldig om sy verkyker te gebruik en kon nie wag vir die hegtingsgom om droog te raak nie, so ons het 'n rekkie omgedraai sodat die verkyker gebruik kan word terwyl die gom droog raak!



Jou kleuter sal baie lekker op sy eie met sy verkyker speel, maar jy kan ook speelgoeddiertjies wegsteek en hom dit laat soek.
Wie weet, dalk sien julle 'n leeu!
 
Hoop julle geniet die aktiwiteit net soveel soos ons!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking