Vrydag 14 Junie 2013

Vadersdag Vreugde!


 
Ouderdom: 2 - 9                                                                                                                                            Het Mamma se hulp nodig!

Mamma se geduld vlak: Laag

Koste: R0 (Jy kan dit doen met alles wat jy in die huis het. Indien jy 'n foto moet laat maak kan dit jou tussen R3 en R5 kos.)

Om vir Pappa baie dankie te sê dat hy so hard werk en lief is vir ons het ons vir hom ‘n trekker en ‘n motor kaartjie vir Vadersdag gemaak. Ons het ook vir hom ‘n fotoraam staander gemaak, sodat hy dit op sy lessenaar kan plaas. Ons het verder ‘n maklike raampie vir ‘n prentjie of ‘n briefie van ‘n papierbord gemaak.

Jou kleuter se ouderdom sal bepaal watter tipe van kaartjie s/hy kan baasraak. Skoolbeginners het daarvan gehou om hul eie trekker of motor te teken of om dit af te trek van ‘n voorbeeld. Voorskoolse kinders het verkies om die getekende trekker of motor in te kleur. Kleiner kleuters sal ywerig help, maar Mamma sal moet meer as ‘n wakende oog hou! Skryf of teken vir Pappa ‘n briefie om agterop te plak, Mamma kan presies neerskryf wat die kleuter sê, dit is baie spesiaal om so ‘n briefie te kry.

Dit is nie nodig om gekleurde papier aan te koop nie, jou kleuter kan wit papier inkleur of versier. Al die aktiwiteite benodig ‘n skêr en knipwerk, Mamma moet dus maar ‘n ogie hou!

Benodighede  


Wit papier, gekleurde papier, karton, gom, skêr, inkleur potlode, vetkryte, foto’s, maskeerband, lee ontbytpap houer, deurskynende kleeflint.


Trekker


Julle kan liewer 'n motor maak indien verkies! Volg dieselfde stappe, maar met 'n motor buitelyn.


Teken die buitelyne van ‘n trekker op ‘n stuk papier so groot soos verlang en knip dit uit. Gebruik die patroon om die trekker op ‘n gekleurde vel papier af te trek. Jy kan die besonderhede van die trekker nou inteken, of wag totdag jy klaar jou foto geplak het. Knip die venster gedeelte van die trekker uit.


Plak die onderkant van jou foto met maskeer band aan die agterkant van die trekker vas. (Die maskeerband trek maklik af en dit keer dat die foto rondskuif terwyl die buitelyne van venster daarop afgebring word. Anders mag frustrasie dalk vinnig-vinnig insluip!) Trek die buitelyn van die dak van die trekker versigtig op die foto af. Trek die maskeerband af en knip aan die binnekant van die lyn wat getrek is. Plak nou die foto met maskeerband vas en knip die maskeerband wat uitsteek versigtig af. Teken die besonderhede van die trekker in, indien jy dit nog nie gedoen het nie.

Alternatief 1 (Makliker opsie): Teken vir Pappa ‘n prentjie en skryf vir hom ‘n briefie op ‘n vel wit papier. (Mamma kan neerskryf presies wat die kleuter sê op die kaartjie moet staan.) Trek die buitelyne van die trekker op die prentjie en briefie af en knip dit uit. Smeer gom aan die agterkant van die trekker en plak die prentjie gedeelte versigtig af. 


Alternatief 2 (Moeiliker opsie): Smeer die agterkant van die trekker gom en plak die trekker op ‘n vel wit papier. Gebruik ‘n skêr om die oortollige wit papier versigtig af te knip. Skryf nou vir Pappa ‘n briefie of teken vir hom ‘n prentjie op die wit gedeelte.

Gee vir Pappa met liefde!

Fotoraam vir Pappa se Lessenaar


Nou sal Pappa sommer lekkerder werk!


Sny ‘n vel gekleurde karton  of riffel karton in die helte deur en plaas ‘n foto in die middel van een van die helftes. Hou die foto vas met jou een hand terwyl jy die buitelyne van die foto met die ander trek. Trek ‘n tweede lyn ongeveer 1mm aan die binnekant van die eerste lyn. Gebruik ‘n skêr en knip versigtig op die binneste lyn om ‘n raampie te vorm. Plaas die foto aan die agterkant van die stuk karton en plak met maskeerband vas. Jy behoort nou ‘n foto in ‘n raampie te hê!


Maak die ontbyt papboks oop en sit jou fotoraam plat op die boks neer. Trek die buitelyne versigtig af en knip dit uit. Jy behoort nou ‘n stuk van die ontbyt papboks te hê wat net so groot soos jou fotoraam is. Smeer die agterkant van jou fotoraam gom en plak die uitgeknipte stuk karton daaraan vas.
 
Teken ‘n skewe reghoek op die oorblywende dele kartonboks en knip dit uit.Gebruik deurskynende breë kleeflint om  die strook aan die bokant van die fotoraam vas te plak. Buig die strook om en jy het ‘n fotoraam wat kan staan!

Gee vir Pappa om in sy kantoor te sit en elke dag aan jou te dink!


Alternatiewe Trekker

 
Kleur die trekker in en teken ‘n prentjie van jou en Pappa in die venster.



 Motor

Jy kan ‘n motor in stede van ‘n trekker maak.


Papierbord Raampie

 
Gebruik ‘n gekleurde papierbord om ‘n raampie vir ‘n prentjie te maak. Teken ‘n prentjie of skryf ‘n briefie. Meet die grote van die binneste deel van die papierbord en knip die prentjie of briefie uit. Smeer gom aan die agterkant van die tekening of briefie en plak in die middel van die papierbord vas.

Siedaar, ‘n spoggerige raampie vir ‘n prent of brief!

Gelukkige vadersdag aan alle liefdevolle vaders! Geniet die kreatiewe projekte saam met jou kleuter!

Stuur gerus foto's van jul eindprodukte! Vind ons op Facebook! 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking