Vrydag 07 Junie 2013

Idees vir 'n Reëndag

Ouderdom: 2 - 9                                                                                                         Ek kan dit doen sonder enige hulp van Mamma!

Mamma se geduld vlak: Baie laag

Koste: R0 (Jy kan jellie of meel gebruik. Jellie kos ongeveer R5 per pakkie en 'n klein pakkie meel kos ongeveer R7.)

Ons bly in 'n winter reënvalstreek en my kleuter voel redelik ingehok na die tweede nat en koue dag! Ek is altyd opsoek na nuwe binnehuise besighou idees en hierdie kreatiewe speel idee is baie eenvoudig en uiters suksesvol. Dit het my kleuter drie dae lank besig gehou vir tussen 30 tot 50 minute per keer. Soos met alles raak kleuters vinnig teë vir dieselfde ding, so moenie verwag jou kleuter gaan heeldag hiermee besig wees nie!

Die kreatiewe speel idee is deels gebaseer op "kreatiewe sand"; gekleurde sand wat by spesialiteitsspeelgoedwinkels te koop is; en probeer deels 'n sandput binne die huis skep. Die jellie werk baie lekker want dit gee jou kleuter die geleentheid om nuwe teksture en smake te beproef. My kleuter het die heel lekkerste met die meel gespeel. Die meel maak baie mooier en duideliker patrone (en mors baie lekkerder).

Gee jou kleuter kans om op sy eie te speel en op sy eie manier met patrone, vorms en teksture te eksperimenteer. Jy kan dalk aanvanklik vir kleiner kleuters met tussenposes wys hoe om patrone te trek of vorms te druk met verskillende items, maar jou kleuter sal vinnig begin om sonder jou hulp te eksperimenteer. Hou ingedagte dat die aktiwiteit moontlik kan mors, maar gelukkig kan jy die meel of jellie maklik opsuig of opvee.

Hoop die idee hou jou kleuter kreatief besig op die volgende nat, koue of winderige dag!

Benodighede


Jy benodig 'n een of twee pakkies jellie of 'n paar eetlepels meel.

Verder benodig jy soveel moontlik verskillende dinge wat verskillende patrone kan maak. Ons het karretjies, koekiedrukkers, poppies, 'n hark, 'n kwas en 'n paar ander goeters gebruik. Jou kleuter sal dit baie geniet om self voorwerpe te soek om mee te speel.

Metode

Laat jou kleuter die pakkie jellie oopmaak (met jou hulp) en dan helfte van die pakkie uitgooi op 'n bord of skinkbord of tafel met 'n rand. Die rand sal keer dat die jellie of meel die hele wêreld vol mors. Indien jy meel gebruik, besluit vooraf hoeveel lepels jy gaan gebruik en laat jou kleuter dit uitskep. Dit is sommer 'n lekker geleentheid om te tel!

Ons het die speeltafel gebruik. Dit het 'n lekker randjie en my kleuter kon kies of hy wou staan of sit. Hy kon ook reg rondom die tafel speel. (En ek kon die tafel maklik wegskuif!)

Die tafel het op die mat gestaan en daar het elke keer 'n bietjie meel of jellie op die mat gemors. Gelukkig maak dit maklik skoon! Besluit waar jy die gemaklikste sal wees as jou kleuter mors en sit die tafel, skinkbord of bord wat julle gaan gebruik daar neer.

Ek het een aand vir my kleuter gevra om op te ruim en vir hom 'n skropborsel en emmer water met 'n klein bietjie skottelgoedwasmiddel in gegee. Die skottelgoedwasmiddel keer dat die jellie taai word en maak as 'n ekstra bonus skuim wat weer 'n nuwe speletjie begin! Hiermee is daar vir veertig minute lank "skoongemaak" en gespeel.

Heeltyd Speeltyd!

Hier volg 'n paar kreatiewe speel idees. Dis egter nie die enigste opsies nie, die moontlikhede is legio!

Karretjies

Die wiele maak verskillende patrone. Seuntjies sal dit veral geniet!

Poppies

Voetspore in die sand!

Hande


Tekstuur en teken.

Kwas

Goed vir motoriese vaardigheidsontwikkeling.

Koekiedrukkers

Patrone en vorms.

Enige iets wat in die hande gekry kan word

Eksperimentering!

Meelspeel

Die lekkerste van alles!

 

Ek hoop jou kleuter geniet die volgende yskoue of papnat dag gate uit binnehuis!

Geniet jou kreatiewe kleuter!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking