Vrydag 21 Junie 2013

Bak en Brou: Koekies teen die Koue!


Ouderdom: 2 - 9                                                                                                                                            Het Mamma se hulp nodig!

Mamma se geduld vlak: Laag

Koste: Hang af van wat jy in jou huis het, maar ek skat jy sal ongeveer R20 se aankope moet doen. (Behalwe as jyonder andere 'n plak sjokolade en 'n klein boksie smarties in jou koskas het!)

‘n Heerlike dekadente koekie om die die winterkoue weg te hou! Dit is nie baie gesond nie, maar ‘n heerlike manier om die begin van die vakansie te vier! 

Die resep is gebaseer op die Amerikaanse “Monster Cookies”, maar ek het die resep heelwat aangepas om dit ietwat gesonder te maak.

Menigte ma’s het al gesê dat baktyd soms moeilik is, want elke kind wil alles ingooi! Ek het dus die resep so gedeel dat die hele resep vir elke kind gemaak moet word. Almal kan dus van alles ingooi en roer. Die resep lewer ongeveer 12 koekies.

Ek en drie hulpvaardige kleuters tussen die ouderdomme van 1½ en 3½  het die koekies gebak en hulle kon alles self doen. Ingooi, roer, proe, uitskep, voel, aflek en baie bestandele eet! Jy hoef dus nie te bekommerd te wees om alles presies af te meet nie… Ouer kleuters, voorskolers en skoolbeginners sal die grootste deel van die resep op hul eie kan maak. Mamma sal net moet help met die oond en die mes!

Lekker bak en brou!


 Bestandele


½ koppie grondboontjie botter (enige tipe) 
1/3 koppie suiker (enige tipe, bruin of wit, ons het strooisuiker gebruik, want die gewone suiker was op!)
2 eetlepels botter
1 eier
5 ml vanielje ekstrak (vanilla essence)
1 1/3 koppies kits hawermout (instant oats)
½ teelepel bakpoeier
2/3 van ‘n plak sjokolade
‘n klein boksie smarties

Voorverhit die oond na 180°C en spuit ‘n bakplaat met kleefwerende sprei of voer dit uit met bakpapier.


Stap 1




Gebruik ‘n groot mengbak en houtlepel om die grondboontjie botter, suiker en botter te meng. My bakkers is nog jonk, so ek het vooraf alles vir hulle uitgemeet en in bakkies gesit wat hulle kon uitkrap. 


Dit was sommer ‘n lekker sensoriese oefening ook, aangesien hulle met die hande ingespring het.


 Stap 2



Dit botter moet goed ingemeng word en nadat die kleuters vir ‘n tydjie geroer het, het ek elkeen se mengbak met ‘n handklitser vir ongeveer 60 sekondes geklits om die drie bestandele lekker te meng. 
 

Ouer kleuters en kinders sal van die begin af die elektriesie klitser (onder toesig) kan gebruik.


Stap 3



Meng die eier en vanielje ekstrak by.


Stap 4



Kap die sjokolade effens kleiner en voeg by. Voeg die smarties by en meng. (Hierdie stap was redelik gewild, hande vol smarties en sjokolade stukkies is mond toe!)


Stap 5



Voeg die hawermout en bakpoeier by en roer tot goed gemeng.


Stap 6



Skep lepelsvol uit en plaas op die gesmeerde bakplaat. (Ons bolletjies was effens groter as ‘n okkerneut) Bak vir 10 tot 12 minute, maar wees versigtig om te lank te bak. Laat die koekies goed afkoel voordat julle begin eet en die res in ‘n lugdigte houer bêre!

Die koekies is baie bros wanneer hulle warm is, so moenie skrik as jy ‘n warm koekie optel en dit verkrummel nie. Sodra hulle goed afgekoel is, is hulle gebind!



Ek hoop julle geniet die aktiwiteit net soveel soos ons. Lekker bak en brou saam met jou kleuter(s)!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking