Donderdag 02 Mei 2013

Ek ry in my rooi motor...


Ouderdom: 2 - 8                                                                                                                                  Het Mamma se hulp nodig

Mamma se geduld vlak: Laag                                                                                       Koste: R0 (Alles behoort in jou huis te wees)

Vandag se maak en speel idee is 'n motor uit 'n ou kartondoos. Jy kan baie meer versierings aanbring as jy wil, bv. nommer plate, ruitveers, wielskerms ens.

Jou kleuter behoort ure se binnehuise pret te hê, dis veral lekker om hul mee besig te hou in die winter wanneer dit baie koud is of reen!


Benodighede

Ou kartondoos wat groot genoeg is vir jou kleuter om gemaklik in te sit. (Indien jy nie so iets in die huis het nie, kan jy enige supermark of meubelwinkel vra om vir jou van hul ou bokse te gee. Hulle gooi dit weg, so dit sal jou niks kos nie.)
6 papierborde, kwaste, oorskiet verf, bree deurskynende kleeflint en gom.


 Stap 1


Trek vir jou kleuter 'n kunsjurkie of oorhempie aan om sy klere te beskerm. (Ek wys vir jou hoe om 'n vinnige naaldwerklose kunsjurkie te maak wat baie goed werk in die inskrywing van 19 April 2013) Sit jou kleuter in die boks en maak seker dat s/hy gemaklik oor die rand kan kyk. As jou kleuter gemaklik oor die rand kan sien, kan jy na Stap 2 toe gaan, anders sny die voorste rande laer en buig die karton binnetoe. 

Mamma sal met hierdie stap moet help, want om deur karton te sny mag nog te moeilik wees vir kleuters. Indien jou kleuter wel self sny, hou asseblief toesig!


Stap 2 


Mamma sal hierdie stap moet doen, want om deur karton te sny mag nog te moeilik wees vir kleuters. Indien jou kleuter wel self sny, hou asseblief toesig!  

Sny die oorblywende drie rande af in oorstemming met die hoogte van die voorste rand. Moenie die voorste flap ook afsny nie. Ons het vir die pret aan die motor se agterkant 'n koprus uitgesny, maar dit is nie nodig nie en jy kan al die rande gelyk sny as julle dit so verkies.


Stap 3


Verf nou die vier kante van die motor in die kleur van jou keuse. Verf ook die helfte van die los flap. Afhangende van jou kleuter se ouderdom, mag jy dalk effens meer geduld nodig he tydens hierdie stap. My kleuter is nog aan die jong kant en het dit vreeslik geniet om die koerant papier onder die kartondoos ook te verf. Ons het van die geleentheid gebruik gemaak om konsepte soos baie en min; heel en half; en diep en vlak vas te lê!


 Stap 4

Verf vier van die papierborde met die kleur wat julle die wiele wil hê. Ons het steeds swartbord verf oor, so ons het sommer dit gebruik. Dit is nie nodig om die hele bord te verf nie, 'n mens gebruik net die binneste gedeelte. Behalwe natuurlik as jou kleuter monster wiele verlang!


Stap 5

  
Verf die oorblywende twee papierborde in die kleur wat julle die ligte wil hê. Ek het oorspronklik geel uitgesit vir die takie, maar my kleuter wou silwer gebruik!


 

 Stap 6

  
Laat alles goed droog word.


Stap 7


Wanneer die lyf van die motor goed droog is, kan julle die boonste helfte van die los flap die kleur van jul voorruit verf. Ons het blou gebruik, maar laat jou kleuter se verbeelding die werk doen.


Stap 8

  
Mamma sal hierdie stap moet doen, want om deur karton te sny mag nog te moeilik wees vir kleuters. Indien jou kleuter wel self sny, hou asseblief toesig!  

Sny 'n deurtjie aan elke kant van die motor. Moenie die deurtjie te groot maak nie, want dan sal jy stabiliteit inboet. Maak seker dat jou kleuter deur die opening kan kom! Ek het nie die deurtjie tot heel onder gesny nie, om die raamwerk so sterk moontlik te hou, maar ek moes eintlik die deurtjies laer gemaak het, my kleuter het aan die begin gestruikel met die in en uitklim.


Stap 9

  
 Mamma sal met hierdie stap moet help. Indien jou kleuter dit self doen, hou asseblief toesig!
 
Gebruik die skêr om gaatjies aan die oopmaak kant van beide deurtjies te maak. Maak seker dat die gaatjies groot genoeg vir jou kleuter se vingers is. 


Stap 10

  
 Mamma sal met hierdie stap moet help. Indien jou kleuter dit self doen, hou asseblief toesig!

Knip die voorruit tot op die verlangde hoogte, m.a.w. jou kleuter sal daaroor moet kan sien. Plak nou die kante van die kar se neus aanmekaar vas met deurskynende kleeflint. Ons het probeer om dit van die binnekant af te plak, maar ons was onsuksesvol! Buig die voorruit sodat dit regop staan. Ons voorruit het effens gesukkel om regop te bly en ons het vir hom deurskynende kleeflint aan die agterkant op die buig geplak, en dit het gewerk.



Stap 11


Knip die ligte uit die papierborde, smeer gom aan en plak dit aan die voorkant van die kar. Druk dit styf vas. Gewone papier gom het nie gewerk nie en ons het op die ou end loperige houtlym gebruik. Ons het die binneste sirkel van die papierbord as maklike riglyn gebruik om die sirkels uit te sny.

Knip die vier wiele uit die papierborde, smeer gom op en plak aan die vier hoeke van die sykante. Druk dit lekker stewig vas.


En siedaar, jou motor is klaar! 
   


 Geniet die kreatiewe tyd saam met jou kleuter en lekker speel.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking