Vrydag 10 Mei 2013

Maklike Moedersdag!


Ouderdom: 2 - 9 jaar                                                                                                          Het Mamma se hulp nodig

Mamma se geduld vlak: Laag

Koste: Vanaf R0 tot R40 indien jy gekleurde papier wil koop; foto's wil ontwikkel en magneet velle koop.

Ons maak vandag maklike Moedersdag geskenke vir Mamma of Ouma, maar jy kan die idees ook vir ander spesiale geskenkies of versierings gebruik! Ons maak 'n kaartpak; 'n foto kaartjie en yskas magnete.

Die papier wat ek gebruik is 'n relatiewe nuwe produk op die mark en kan by meeste supermarkte gekoop word. Dit word "Psycho Delic Board Pad" genoem en word deur dieselfde vervaardiger gemaak wat die helderkleurige papier pakke maak. Die koste vir die nuwe papier is dieselfde as vir die oorspronklike pakke helderkleurige en melkpapier. (Sowat R36)

Jy hoef nie gekleurde papier aan te koop nie. Wit papier wat geverf of ingekleur of versier word werk net so goed.

Magneet velle kan by meeste kunswinkels of skryfbehoefte winkels gekoop word. Die vel wat ons gekoop het het 'n reeds gegomde kant en het R22 gekos.

Let asseblief daarop dat al die aktiwiteite 'n skêr gebruik. Mamma of Pappa moet asseblief met die knipwerk help!


Benodighede

Vir die pak kaarte: Papier of karton, foto, kunswerke, skêr, gom, maskeerband.
Vir die fotokaartjie: Papier of karton, foto, skêr, gom, maskeerband.
Vir die yskas magneet: Papier of karton, foto, skêr, gom, maskeerband, magneet vel.

Pak Kaarte

Die pak kaarte bestaan uit verskillende kunswerke, briefies en foto/foto's wat losweg in 'n bondel vasgebind word. Ons het ons pak vir Ouma gemaak en omdat sy ver bly, sommer 'n yskas magneet ook bygevoeg. Die ontvanger kan die los "kaarte" as boekmerke gebruik of sy kan dit uitstal. Jy kan gaatjies aan die een kant maak en dan kan jou kleuter 'n lintjie daardeur ryg en met 'n strikkie vasbind om 'n boekie te maak indien hy/sy wil.

Foto Kaart


Stap 1: Sny 'n A4 bladsy/karton in die helfte deur. 
Stap 2: Plaas die foto op die agterkant van die papier/karton en trek die buitelyne versigtig af.(In pienk op ons voorbeeld)
Stap 3: Trek 'n nuwe raampie ongeveer 2mm aan die binnekant van die buitelyn. (In groen op ons voorbeeld)
Stap 4: Knip versigtig op die binneste (groen) lyntjie totdat jy 'n raampie het.


Stap 5: Gebruik maskeerband om die foto op die agterkant van die raampie vas te plak.
Stap 6: Draai jou geraamde foto om!

Hand Afdruk Kaart

  
Stap 1: Laat jou kleuter 'n verf kleur uitkies en op sy/haar handjies smeer.
Stap 2: Laat jou kleuter sy/haar hande op papier druk. Hoe jonger jou kleuter, hoe meer probeerslae mag dit neem!
Stap 3: Laat dit kurkdroog word.
Stap 4: Knip die hand afrduk uit wat jul wil gebruik.


Stap 5: Sny 'n A4 bladsy/karton in die helfte deur en plaas die hand afdruk op die agterkant van die papier/karton. Trek die buitelyne versigtig af.
Stap 6: Trek 'n nuwe raampie ongeveer 2mm aan die binnekant van die buitelyn en knip versigtig op hierdie lyntjie totdat jy 'n raampie het.
Stap 7: Gebruik maskeerband om die hand afdruk op die agterkant van die raampie vas te plak. Draai jou geraamde afdruk om!


'n Briefie Kaart


Stap 1: Skryf vir Mamma of Ouma 'n briefie of teken 'n prentjie. (As jou kleuter groot genoeg is kan hulle vir jou dikteer wat jy moet skryf.)
Stap 2: Knip die briefie of tekening in die verlangde grootte.
Stap 3: Sny 'n A4 bladsy/karton in die helfte deur en plaas die briefie of tekening op die agterkant van die papier/karton. Trek die buitelyne versigtig af.
Stap 4: Trek 'n nuwe raampie ongeveer 2mm aan die binnekant van die buitelyn en knip versigtig op hierdie lyntjie totdat jy 'n raampie het.
Stap 5: Gebruik maskeerband om die briefie of tekening op die agterkant van die raampie vas te plak. Draai jou geraamde briefie of tekening om!

'n Kunswerk Kaart

  
Stap 1: Maak 'n kunswerk met vingerverf vir 'n jonger kleuter of verf 'n prentjie met kwaste vir 'n ouer kleuter. Kryte, potlode of viltpenne kan alternatiewelik gebruik word om 'n prentjie te teken.
Stap 2: Indien verf gebruik is, laat die kunswerk goed droog word.
Stap 3: Knip die kunswerk in die verlangde grootte. 
 


Stap 4: Sny 'n A4 bladsy/karton in die helfte deur en plaas die kunswerk op die agterkant van die papier/karton. Trek die buitelyne versigtig af.
Stap 5: Trek 'n nuwe raampie ongeveer 2mm aan die binnekant van die buitelyn en knip versigtig op hierdie lyntjie totdat jy 'n raampie het.
Stap 6: Gebruik maskeerband om die kunswerk op die agterkant van die raampie vas te plak. Draai jou geraamde kunswerk om!

Afronding


Smeer gom aan die agterkante van die bladsye en plak dit twee-twee versigtig aan mekaar vas. (Daar is met ander woorde 'n geraamde item aan elke kant)


Ons het die pak kaarte met papier raffia vasgebind. (Dit is sommer 'n goeie tyd om te leer strikkies maak!)

As jy wil kan jy egter twee gaatjies aan die een kant van al die kaarte maak en 'n stukkie lint of raffia daar deur ryg en met 'n strikkie vasbind aan die bo-kant om 'n boekie te vorm. 

Foto Kaartjie


Stap 1: Sny 'n A4 bladsy/karton in die helfte deur en plaas 'n foto op die agterkant van die papier/karton. Trek die buitelyne versigtig af.
Stap 2: Trek 'n nuwe raampie ongeveer 2mm aan die binne kant van die buitelyn en knip versigtig op hierdie lyntjie totdat jy 'n raampie het.
Stap 3: Gebruik maskeerband om die foto op die agterkant van die raampie vas te plak. Draai jou geraamde foto om!
Stap 4: Teken prentjies op papier wat jou kleuter voor af geverf/versier het of op gekleurde papier. (Jonger kleuters kan vir jou se wat jy moet teken.)
Stap 5: Knip die prentjies uit.


Stap 6: Smeer die prentjies gom en versier die raampie.
Stap 7: Vou 'n A4 papier dubbel.
Stap 8: Plak die versierde fotoraampie op die voorkant van die dubbel gevoude A4 papier vas met gom.
Stap 9: Skryf vir Mamma of Ouma 'n briefie!

Yskas Magnete en Raampies vir Mure



Beide yskas magnete en muur raampies:

Stap 1: Sny 'n A4 bladsy/karton in die helfte deur en plaas 'n foto op die agterkant van die papier/karton. Ons het riffel karton vir die muur raampies gebruik. Dit laat die foto's bietjie uitstaan en verleen 'n bietjie tekstuur aan die storie! Trek die buitelyne versigtig af.
Stap 2: Trek 'n nuwe raampie ongeveer 2mm aan die binnekant van die buitelyn en knip versigtig op hierdie lyntjie totdat jy 'n raampie het.
Stap 3: Gebruik maskeerband om die foto op die agterkant van die raampie vas te plak. Draai jou geraamde foto om!

Muur raampies:
Stap 4: Gebruik wondergom om die foto raampies teen die muur vas te sit. Dit is 'n maklike en goedkoop manier om 'n kinderkamer op te vrolik!

Yskas magnete


Stap 4: Sny die A4 magneet vel in die helfte deur. (Dit kan met 'n sker geknip word.) Jy kan jou geraamde foto as gids gebruik.
Stap 5: Trek die wit papier van die self gegomde kant af.
Stap 6: Plaas die agterkant van jou geraamde foto versigtig op die gomkant van die magneet vel.
Stap 7: Druk goed vas.




 Ons kleuters het die kans aangegryp om vir almal wat vir hulle lief is en sorg kaartjies te maak. Dankie aan al die Ma's, Ouma's en versorgers.
Geniet die projekte saam met jou kleuter! 
Gelukkige Moedersdag!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking