Donderdag 25 April 2013

Stofsuier, Blaar Blaser en Monster Versapper

Ouderdom: 2 - 8                                                                                                                Het Mamma se hulp nodig

Mamma se geduld vlak: Laag

Koste: R0 (Indien jy alles in die huis het) - R40 (indien jy 'n flitsie en/of batterye en/of riffelkarton koop)

Ons wys vandag die basis vir al drie masjiene sonder baie versierings, jy en jou kleuter(s) kan jul masjiene versier na hartelus. Hoe minder versierings aangebring word, hoe groter is die geleentheid vir kreatiewe speel.

Die stofsuier en blaarblaser is nie geslagspesifiek nie. Enige kleuter sal daarmee speel en die doel van speelding verander soos wat dit hom/haar pas!

Alhoewel alle kleuters met die monster versapper sal speel, is die doel daaragter om kleuters en voorskoolse leerders wat 'n vrees vir die donker en/of monsters en gediertes ontwikkel het, te help om veilig te voel en in hul eie beddens te slaap. Indien hul dink dat hul 'n monster gewaar, kan hul die gedierte met die lig "versap" en die fluitjie blaas om versterkings (Pa en Ma) in te bring!

Benodighede vir al drie masjiene

Stofsuier: Groot sap of aanmaak koeldrank bottel, oorskiet verf, 'n ou sykous, 'n kombuisrol kartonnetjie, ou telefoongids of koerant papier, botteldoppies/interessante knoppies, gom, 'n mes en 'n sker.

Blaar blaser: Twee verskillende groottes plastiek bottels, oorskiet verf, gaffatape of bree kleeflint, houertjie of pyp wat as handvatsel kan dien, stukkie tou, sker.

Monster versapper: Lee blik, riffelkarton of gekleurde papier of versierde wit papier of oorskiet verf, ou sykous, ou telefoongids of koerant papier, fluitjie, flits (Ons het 'n flits teen R19 gekoop wat LED liggies het en hopenlik nie so maklik sal breek as dit val nie), batterye, rekkie, bree kleeflint, sker, mes. (Riffel karton is beskikbaar by meeste supermarkte en kos ongeveer R30 vir 'n pak.)

Stofsuier

  Geskik vir ouderdomme 2 - 5 jaar
Ouer kleuters behoort die grootste gedeelte alleen met slegs toesig te maak. Mamma moet asseblief die mes hanteer om 'n gaatjie te maak.

1. Neem 'n groot plastiek bottel en verwyder alle papier/plastiek omhulsels. Maak seker dat die oppervlak skoon is.
 2. Gebruik enige oorskiet verf om die hele bottel te verf. Die bottel wat ons gebruik het se doppie was 'n mooi helder kleur en ons het dit net so 
    gelos. Ons het slegs een laag verf geverf, indien jy 'n egaliger voorkoms verkies kan jy 'n tweede laag verf sodra die eerste droog is.
 3.  Sny die een been van 'n paar ou sykouse af en frommel bladsye van 'n ou telefoongids op en druk dit een-een binne. Jy kan koerant 
    papier ook gebruik. Stop die kous ongeveer twee derdes op. Moenie die kous te styf opstop nie, die papier is slegs daar om tekstuur 
    en vorm te verleen.
 4.  Maak 'n snytjie in die bottel se doppie en steek die toon gedeelte van die sykous daar deur.  
 
5.  Maak 'n knoop sodat die kous nie weer deur die snytjie kan trek nie en draai die doppie terug op die bottel.
6.  Steek die binneste karton rolletjie van 'n kombuishandoek rol in die kous en trek die kous oor die rol.
7.  Knoop die kous toe en sny oortollige kous af.
8.  Versier met interessante knoppies.

Blaar Blaser

Geskik vir ouderdomme 2 -6 jaar
Ouer kleuters behoort 'n groot gedeelte self te kan maak, met slegs toesig. Mamma moet asseblief met die sker help, veral as dit harde plastiek is.
Ouer kleuters het dit as 'n televisie kamera gebruik!

1.  Verf twee plastiek bottels van verskillende groottes met oorskiet verf. Ons het slegs een laag geverf omdat ons die effek van 'n blaser wat 
     nie meer splinternuut is nie wou na-aap. Vir 'n meer egalige voorkoms kan julle nog 'n laag verf sodra die eerste droog is.
2.  Sodra die verf droog is, knip die boonste gedeelte van die kleinste bottel af sodat dit lekker styf oor die nek gedeelte van die groter bottel pas.
3.  Sny die bodem van die kleinste bottel af. Maak seker dat die rande glad is.
 
4.  Plak dit twee bottels aanmekaar vas met gaffatape of deurskynende kleeflint. Ons het gaffatape gebruik omdat dit by ons kleurskema inpas, 
      maar deurskynende kleeflint sal net so goed werk.
5.  Ons het oorskiet materiaal verf gebruik om 'n bietjie lewe in ons blaser in te blaas en het hier en daar in die groefies geverf.
6.  Verf 'n lee houertjie vir die handvatsel en plak dit die "kant" van die blaser. Ek het probeer om die handvatsel met deurskynende kleeflint 
     en 'n verskydenheid gomme vas te plak, maar die handvatsel het elke keer net vir 'n paar minute se speel gehou voor dit gebreek het.Ten 
     einde laaste het ons 'n kruisie in die bottel gesny en die handvatsel in gedruk en dit het gehou. Gebruik die metode wat die beste werk vir jou.
7.  Bind 'n tou om die agterkant van die groter bottel vir die "belt" wat oor die skouer gedra word. My kleuter en sy pa het ewe lekker gespeel!

Monster Versapper

Geskik vir ouderdomme 4 -8 jaar
Kleuters jonger as 4 sal ook lekker hiermee kan speel, hulle geniet fluitjie blaas en die flits vreeslik!
Ouer kleuters behoort die grootste gedeelte self te kan maak, met slegs toesig. Mamma moet asseblief die mes hanteer om die snytjie te maak.

1.  Gebruik riffelkarton, gekleurde papier, versierde wit papier of oorskiet verf om 'n lee blik mee oor te trek of toe te verf. Ons het riffelkarton 
     gebruik omdat ons dit in die huis gehad het en dit het 'n interessante tekstuur verleen, maar enige alternatief sal ewe goed werk.
2.  Indien jy karton of papier gebruik kan jy dit met gom of deurskynende kleeflint aan die blik vasplak.
3.  Indien jy karton of papier gebruik het, sny enige oorsteek randjies versigtig af.
4.  Sny die een been van 'n paar ou sykouse af en stop dit op met bladsye uit 'n ou telefoongids. Koerant papier sal net so goed werk. Moet die 
     kous nie te styf opstop nie, die papier is slegs om tekstuur en vorm te verleen.
5.  Gebruik 'n mes om 'n snytjie in die deksel te maak.
6.  Druk die toongedeelte van die sykous daardeur en maak 'n dubbel knoop om seker te maak dat die kous nie weer kan uittrek nie. Sit die 
     deksel weer terug op die blik.
7.  Druk die flits in die oop gedeelte van die sykous en draai dit styf met 'n rekkie vas.
8.  Bind 'n fluitjie aan die flits se toutjie vas of aan die flits self.
9.  Versier die versapper na hartelus.    

Geniet die projekte en lekker speel!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking