Saterdag 04 April 2020

Waterspeel: Maak gieters, tregters, emmers en skeppers uit weggooi bottels


Vandag gebruik ons al daai opgehoopte bottels om waterspeelgoed te maak! Ek is gewoonlik te jammer om die bottels te herwin en sit dan met sakke vol leƫ bottels in my motorhuis.

Die speelgoed kan in die bad gebruik word, maar alle kleuters speel heerlik as hulle slegs 'n vlakkerige bak water tot hul beskikking het. Moet asb. nooit jou kleuter alleen los wanneer daar water gespeel word nie!

Daar is baie voordele aan waterspeel (behalwe dat dit heerlik vir kleuters en kinders is). Waterspeel bevorder fyn motoriese vaardighede soos hand-oog koƶrdinasie. Dit is ook 'n sensoriese aktiwiteit wat hulle aan verskillende teksture en temperature blootstel. Waterspeel bevorder konsetrasie en aandagspan. Dis 'n wonderlike geleentheid vir ontdekkingspeel te same met oorsaak en gevolg. (Byvoorbeeld: wat gebeur as ek nog water by hierdie vol koppie gooi.) Dit ontwikkel kreatiewe denke en ook probleemoplossingsvaardighede. Dit is ook 'n goeie geleentheid om op 'n speel-speel maniere konsepte soos vol, leeg en half aan jou kleuter bekend te stel.

Hier is dus 'n paragraaf redes waarom jy maar jou kleuter mag laat mors (binne perke en binne 'n bak, natuurlik!) en ontspan terwyl jy 'n oog gooi!

Metode:



Gieters

Gebruik 'n hamer en 'n spyker om gaatjies aan die onderkant van houers te maak. Gebruik alle grootte en dikte houers. Wissel die hoeveelheid gaatjies af vir elke houer.








Skeppers

Gebruik groot of klein plastiek melkbottels vir die skeppers. Sny 'n skuinslyn van die handvatsel tot by elke hoek en sny dat die bodem uit.





Tregters en Emmers

Gebruik enige plastiek bottel wat nouer na die prop toe loop om 'n tregter te maak. Sny die bottel in die helfte of in die driekwart deur. Maak seker dat daar geen skerp plastiek punte oorbly nie. Jy kan die doppie oplos vir ekstra plesier. Die kant sonder die doppie word die 'emmer'. Jy kan 'n draadjie of toutjie aan weerskante vasmaak vir 'n handvatsel as jy wil.

Geniet die waterspelery!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking