Woensdag 01 April 2020

Speel-speel tuinmaak


Ons speel vandag 'n speletjie wat fokus op die ontwikkeling van die groot en klein spiere wat nodig is vir skryf. 

Die speletjie oefen die fyn spiere van die hande, hand-oog koördinasie en oefen die groot kern spiere van die rug en maag, asook die groot spiere van die skouer.

Al wat nodig is, is ou tydskrif (of koerant) blaaie, 'n asdrom en 'n spasie.

Probeer gerus self al die oefening, dis baie lekker en gee mens lekker baie oefening!

Metode:

Vertel vir jou kinders dat julle vandag 'n bietjie gaan tuinmaak! 

Eerstens moet ons goeie grond aanry vir tuinmaak. En waarin ry mens tuingrond rond? In 'n kruiwa! Verduidelik vir jou kleuter of skoolganer hoe kruiwa stoot werk. Indien jy slegs een kind het, stoot self die kruiwa, anders kan jou kinders mekaar stoot. Maak net seker dat hul arms onder hul lyf is en dat die 'kruiwa' 'gestoot' word teen 'n spoed wat hulle kan baasraak. Te hard of te vinnig en die kruiwa se voorwiel gaan ingee! Maak ook seker dat die afstand een is wat jou kind(ers) sal kan baasraak. Hierdie oefening ontwikkel die kern spiere en die skouer spiere.


Tweedens moet ons die saadjies regkry om te plant. Sit 'n hoop tydskrif blaaie aan weerskante van jou kind(ers) en laat hul hul hande op elke hoop sit. Wanneer jy jou hande klap, moet hulle met elke hand 'n papier van die hoop af optel en baie klein frommel. Elke bladsy mag slegs met een hand gefrommel word. Kleuters (wie se hand spiere nog baie moet oefen) sal sommer twee hande wil inspan om die bladsy te frommel. Moenie te kwaai wees nie, maar moedig hulle aan om slegs een hand te gebruik. Hierdie is 'n baie goeie oefening om die fyn spiere in die hand te ontwikkel. Probeer dit self, na 'n paar bladsye kan 'n mens se hand nogal moeg word! 


Wanneer die saadjies reg is moet hulle geplant word! Die kinders gooi nou die styf gefrommelde papier na 'n snippermandjie wat 'n entjie van hulle af geplaas word. Wanneer hulle al hul opgefrommelde blaaie gegooi het, gaan haal hulle die wat mis was en gooi weer. Dit word herhaal tot alles in gegooi is. Die afstand en grootte van die snippermandjie gaan bepaal word deur jou kind(ers) se ouderdom. As dit te moeilik is, gaan sal die kleuters moed verloor en ophou probeer. Groter kinders hou weer baie van uitdagings - vir hulle kan die afstand vergroot word, of nog beter, jy kan die snippermandjie vashou en 'n bewegende teiken vir hul wees! Hierdie deel van die speletjie oefen hand-oor koördinasie. 



Wanneer al die saadjies geplant word, kom die ruspes om te eet! Die ruspe oefening werk dat kinders in 'n opstoot posisie staan en dan hul voete inloop na hul hande (wat stil staan). Sodra voete en hande bymekaar is loop die hande vorentoe terwyl die voete stilstaan om weer in 'n opstoot (of 'plank') posisie te kom. Die oefening lyk nes soos 'n ruspe wat loop en is baie goed vir die maag en rug spiere! Doen dit gerus saam. Die afstand wat die ruspes loop na die 'geplante saadjies' word weereens bepaal deur jou kind(ers) se ouderdom. Jonger kleuters gaan baie korter die oefening kan volhou as ouer kinders.


Laastens, wanneer die ruspes by die plantjie uitkom word hulle weggejaag! Jaag jou kind(ers) so klein entjie, vang hulle en kielie hulle vir die lekkerte!

Ons het baie lekker gespeel (al is my maagspiere nou seer) Hoop julle geniet die speletjie net soveel!

Jy in inskryf op ons lys deur die 'volg' skakel hieronder te kliek of jy kan ons vind en van hou op facebook - op daardie manier weet jy altyd wanneer ons iets doen!

 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking