Dinsdag 31 Maart 2020

Yskas versiering


Ons oefen vandag ons knip vaardighede en maak 'n yskas versiering met ons pogings.

Kinders leer om te knip in drie stappe: skeur, snip en knip. Dit beteken dat hulle begin deur papier te skeur met die vingerpunte van elke hand. Hierna beweeg hulle na snip, m.a.w. die skêr word slegs oop en toegemaak sonder dat dit beplande knip is, hulle hou wel die skêr reg vas, gebruik dit reg en hou die papier self en korrek vas. Wanneer hierdie vaardigheid bemeester is, beweeg hulle aan na knip toe. 

Om lekker en maklik te knip is self 'n proses! Eerstens moet kinders op reguit lyne leer knip. Dan met effense kronkels om hulle te help met papier en skêr manipulasie. Hulle leer dan om hoeke te knip, skerper draaie en uiteindelik sirkels. 

Moedig jou kleuter en voorskoler aan om die skêr korrek vas te hou. (Om die skêr met twee hande te manipuleer, beteken niks!) Jy kan demonstreer of selfs jou hand oor jou kleuter s'n sit om hul daarmee te help. Dit is 'n vaardigheid wat aangeleer word, so geduld is die wagwoord!

En onthou om die eindpoging te prys - hoe krom en skeef dit ook al is!

Die aktiwiteit is spesifiek gemik op kleuters en voorskolers, maar ons vroeë skoolganers het dikwels die oefening net so nodig. Omdat die knip oefening versteek in 'n kreatiewe projek is, geniet die groter kinders dit amper meer as die kleuters en voorskolers, want hulle het reeds die knip tegniek bemeester en kan heelwat meer kreatief daarmee te werk gaan. My kleuter en skoolganer het dit ewe veel geniet.

Omdat hierdie aktiwiteit met skêre werk - moet ek daarop dui dat dit gevaarlik is en slegs onder toesig moet geskied.
 
Metode:

Stap 1: Voorbereiding

Gebruik klein vierkantjies gekleurde papier (as jy nie het nie, sal tydskrif of koerant bladsye net so goed werk) en teken op een helfte skuinslyne daarop wat driehoeke vorm. Jou kleuter moet met ander woorde in 'n reguit lyn knip, maar 'n skewe een. Hierdie vorm die knip aktiwiteit. 

Die orige vierkante word in die helfte gevou en dan afhangend van jou kind se vaardigheid teken jy strepies, of maak jy kolletjies tot waar hul moet knip. Hulle moet knip vanaf die vou na so halwe cm van die buiterand af. Hierdie word die snip aktiwiteit.
 
 
Stap 2:

Laat jou kleuter eerste met die gevoude papiertjies begin en letterlik net 'n knip maak op die lyn of na die kolletjie of lyntjie toe. Hulle snip m.a.w. net die papier. As dit krom en skeef en wyd uitmekaar is maak dit nie saak nie. Dit is belangrik dat hulle self die vaardigheid onder beheer kry, die esteties is nie so belangrik nie.



Stap 3:

Beweeg nou oor na die knip aktiwiteit. Maak seker dat jou kleuter die papier en die skêr reg vashou en moedig hul aan om met kleinerige beheersde knippe op die lyn te knip. Laat hulle toe om te eksperimenteer met spoed en tegniek - hulle leer baie beter deur dit wat nie werk nie as wat hulle leer deur ouditiewe instruksies. Hoe groter en ligter die skêr aan die begin is, hoe makliker is dit vir kleuters om te beheer.




Stap 4:

Gebruik die die snip aktiwiteit om mannetjies te maak. Ons het lanterns gemaak en platgedruk en toe verder versier. (Om 'n lantern te maak: vou die papier oop en rol die twee 'buiterande' in 'n silinder en plak/kram vas).


Stap 5:

Ons het ons vlaggies versier deur boodskappe op te skryf. My kleinste het die geleentheid gebruik  van sy kersgeskenk begeertes te verwoord. Net ingeval ons vergeet..... 

Kram die vlaggies en mannetjies om die beurt aan 'n wolletjie/lyntjie/stukkie tou vas en drapeer oor die yskas magnete.

Siedaar! Die yskas is sowaar opgevrolik!


Ons hoop julle geniet die aktiwiteit net so baie soos ons!
Om seker te maak jy mis nooit 'n inskrywing nie, kan jy of die blog volg of ons vind en van ons hou of fb.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking