Sondag 05 April 2020

Wenke om die inperkingsperiode met kleuters (en ouer kinders) te oorleef


Wenke om die inperkingsperiode met kleuters (en ouer kinders) te oorleef


Ons almal is onseker en bang en bietjie uit ons koers uit, ons kinders ook! Hierdie wenke sal maak dat die inperkingsperiode dalk net so bietjie meer leefbaar is, veral in die lig dat dit moontlik verleng kan word!



Roetine is belangriker as ooit.


Roetine is een van die belangrikste goed wat aan kleuters en kinders sekuriteit gee. (Wanneer jy roetine en sekuriteit in ‘n internet soek enjin intik, sal jy honderde inskrywings sien wat die belang en voordele hiervan bevestig en verduidelik.) Sekuriteit is van onskatbare ware om kinders meer gevestig en minder angstig te laat voel. Kinders vind sekerheid daarin om te weet hoe hulle dag daarna uitsien. Dit beteken nie dat jy ‘n uitgewerkte dag program moet hê wat vir elke minuut voorsien nie, maar dit behels dat daar gevestigde opstaan, slaap en etenstye is. Die versoeking om slaaptye weg te neem en net te wag dat kinders en kleuters self aan die slaap raak van uitputting is groot, maar gevestigde slaaptye is voordelig vir die algehele welstand van jou kind, emosioneel, fisies en intellektueel. ‘n Gevestigde slaaptyd hou ook die voordeel in dat jy weet dat jou kleuter genoeg slaap inkry sodat hulle nie die volgende dag huilerig, klaerig en klouend sal wees nie en dit gee vir ouers ‘n blaaskans wanneer die kleingoed in die bed is.



Gebruik die tyd om nuwe gesinsroetines te skep


Siende dat ons nou die tyd het, is dit die ideale geleentheid om daardie gesinsroetine wat jy nog altyd wou instel te vestig. Of dit ‘n tydelike roetine is om byvoorbeeld elke oggend elfuur saam tee te drink of dat almal soggens saam dans op ‘n gunsteling liedjie; en of dit ‘n meer permanente roetine is soos dat almal saam om ‘n etenstafel sit vir een ete per dag, is irrelevant. Die tydelike roetines van samesyn is wat jou kinders gaan onthou bo alles anders van hierdie tyd en die meer permanente roetines is ‘n geleentheid om aan te hou bou aan samesyn geleenthede wanneer die inperking eers verby is. Dit is baie moeilik om nuwe roetines te vestig in ons gewone dag tot dag bestaan, want dit is net nog iets waarvoor tyd gemaak moet word en wat ekstra beplanning verg. Indien hierdie roetines egter tydens die inperkingstyd gevestig word wanneer almal saam tuis is en net daardie klein bietjie ekstra tyd het, sal dit makliker wees om daarmee vol te hou wanneer die wêreld weer terug keer na (die nuwe) normaal.



Moenie jou kinders konstant probeer besig hou nie


Dit is belangrik dat ons saam met ons kinders tyd spandeer, maar moenie voel dat dit jou werk of verantwoordelikheid is om hulle heeltyd besig te hou nie. Kinders moet op hul eie kan speel, hul eie speletjies uitdink en verveeld word. Kreatiewe denke en verbeelding word gebou deur self-speel en verveling! Kinders wat gelos word om hulself besig te hou bou ook probleemoplossingsvaardighede, leer van oorsaak en gevolg, leer onafhanklikheid, leer dat geluk van hulself af kom en nie van ander nie en leer om hul emosies te reguleer.



Praat en luister


Een van die belangrikste goed wat jy en jou kinders in hierdie tyd kan aanleer is oop kommunikasie kanale. Praat met jou kinders en luister na wat hul sê. (En lees sommer tussen die lyne ook!) Vra elke aand voor bedtyd, want dit is gewoonlik wanneer die meeste vrese, vrae en lekkerste geselsies gebeur, hoe hulle voel. Vir jonger kinders moet met meer leiding gee en jy kan vir jou kleuter baie spesifieke vrae vra, soos byvoorbeeld: “Is daar iets wat jou bang maak?”, “Is daar iets wat jou gelukkig maak?”, “Hoe voel jou hartjie?” Dit is terselfdertyd ‘n wonderlike geleentheid om kleuters van gevoelens te leer! 


Ouer kinders het ‘n groter kapasiteit om hulself uit te druk, maar maak steeds seker dat jy spesifieke vrae vra om agter te kom hoe jou kind werklik voel. Wanneer hulle dan antwoord, vra hulle hoekom hulle so voel, of wat hulle gelukkig/bang/hartseer/opgewonde maak. Maak ook seker dat jy ewe veel positiewe en negatiewe emotiewe vrae vra.  


Spreek jou kind se vrese op hul vlak aan. Kleuters en vroeë skoolganers verstaan baie beter wanneer hulle visueel iets sien. Ek het byvoorbeeld die presentasie van mense wat ernstig siek word van die korona virus met honderd Lego blokkies aan my kleuter verduidelik en dit het vir die eerste maal ingesink, so wees voorbereid om kreatief te wees met jou antwoorde!


Om die gewoonte te vestig om gereeld met jou kind te praat kan verreikende gevolge hê. Kinders wat gewoond is om met hul ouers te praat, sal makliker vertel indien iets groot fout is, byvoorbeeld dat hulle die slagoffer van ‘n boelie was. Verder meer is kinders wat hul emosies kan uitdruk meer geneig tot gesonder emosionele en geestesgesondheid en minder geneig tot gedrags –en verhoudingsprobleme.



Maak seker jy gee bietjie ekstra liefde


Ons kinders is net so onseker soos ons in gedurende hierdie periode en in sommige opsigte nog meer as ons. Behalwe dat hulle ook die omvergooi van normaliteit, sosiale distansiëring en die vrees vir hoe die wêreld gaan verander moet verwerk, is hulle ook bo en behalwe bang dat hulle hul ouers en hul ondersteuningsnetwerk gaan verloor. Baie kinders se grootste vrees is dat hulle die enigste een gaan wees wat oorbly in hul gesin, ander vrees hul ouers se afsterwe en dat niemand hulle sal versorg nie en party is doodbang dat hulle nooit weer hul familie-lede gaan sien nie. Hierdie vrese kom baie keer in kleuters, wat baie keer goed misverstaan, nie die kapasiteit het om te verstaan of hulself uit te druk nie; se gedrag uit deurdat hulle huilerig is, of nog meer sukkel om emosies in toom te hou, of bloot deur vloermoere te gooi. Ouer kinders kan baie hartseer, bot of depressief raak. Maak seker dat jou kinders gekoester voel en dat hulle weet dat jy hulle baie lief het en moenie bang wees om met hulle te gesels oor hoe hulle voel nie.



Maak kontak


Jou kinders mis hul maats en familie net soveel soos jy! Help jou kinders om minder geïsoleerd te voel deur hulle aan te moedig om maats en familielede te bel. Help kleuters om video's te maak en te stuur, of stuur stem-grepe. Hierdie aksies maak dat jou kinders meer in beheer voel van die situasie en dit laat hul steeds deel voel van hul sosiale groep en familie. Veral wanneer die video’s, foto’s en stemgrepe arriveer in antwoord op dit wat hulle gestuur het!



Wees aktief


Die opsie om vir ‘n lang stappie te gaan is nie daar nie, maar daar is baie ander planne wat jy kan maak om seker te maak dat jou kinders steeds ‘n goeie dosis daaglikse oefening inkry. Wanneer kleuters en ouer kinders beweeg voel hulle beter! Hulle raak ook ontslae van oortollige energie en slaap makliker in die aand. Bou hindernis bane uit kussings en stoele, maak beurte om te dans op elkeen se gunsteling liedjie, hou ‘n balkon-maraton, kruip deur die huis in ‘n resies, laai ‘n toepassing af wat almal aan die oefen kry. Die moontlikhede is legio.



Beperk skermtyd


Onbeperkte skermtyd is ‘n groot versoeking gedurende die inperking, maar die negatiewe implikasies van te veel skermtyd geld vir die inperkingsperiode ook. Dit is moeilik om ‘n skerm-verslawing te breek of om te besluit om skermtyd in te perk en wees voorbereid daarop dat jou kinders baie kwaad vir jou gaan wees hieroor. Die voordele van lees, speel en aktief wees oortref die relatiewe skyn van vrede voor die TV.



Probeer om soveel normaliteit in te bring as moontlik


Kinders het ‘n behoefte aan normaliteit wanneer alles omvêr gegooi word, so maak seker dat daar steeds standvastige goed in hul lewens is. Indien julle elke Vrydag ‘n wegneem pizza bestel het, maak pizzas elke Vrydagaand. Was Sondae ‘n familie-ete? Maak ‘n groot Sondagmaal en bel die familielede voor jul aansit om te hoor wat hulle eet en wat hulle maak. ‘n Bietjie van die lewe voor inperking gaan baie help om die lewe tydens inperking makliker te maak!




Onthou dat die inperkingsperiode nie vir altyd gaan duur nie! Gebruik hierdie geleentheid om saam met jou kinders te leer, te groei, te speel en te lag. In ons moderne samelewing waar ons vir niks tyd het nie en jaag van een plek na die ander, is dit ‘n kosbare geleentheid wat aan ons gegun word om saam met ons gesinne te wees. Kom ons probeer om dit so lekker as moontlik vir ons almal te maak.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking