Donderdag 21 November 2013

Maak 'n Wolpoppie



Vandag maak ons 'n poppie van wol!

Die poppie se maak is goed vir fyn motoriese vaardigheidsontwikkeling en kleuters kan hul verbeelding gebruik om die poppie verder te tooi, bv met hare.

Dit is glad nie moeilik nie, maar jonger kleuters sal vinnig belangstelling in die maak verloor en verkies om slegs met die eindproduk te speel.

Geniet die aktiwiteit!

Benodighede
  
Wol/tou, 'n stukkie karton (of een van daardie gratis dagboekies wat gratis saam met tydskrifte gegee word), 'n sker, gekleurde garing.

Metode
Stap 1: Die gebruik van die dagboekie is nie noodsaaklik nie, dit is net makliker vir jonger kleuters om so te begin! Druk die wol se punt onder die rek van die dagboekie in en draai die wol om die boekie tot redelik dik. Indien julle 'n stukkie karton gebruik, hou net die wol se puntjie vas totdat julle 'n paar keer daaroor gedraai het.

Stap 2: Wanneer julle 'n lekker dik draaisel het (of al jul wol/tou op is) skuif die wol versigtig van die stukkie karton/dagboekie af. Neem 'n klein stukkie wol/tou en bind dit om die boonste stukkie van die wol draaisel om 'n koppie te vorm. Maak twee bondeltjies tou/wol weerskante van die "lyf" los om arms te vorm.

Stap 3: Bind die 'n toutjie om die eerste bondeltjie na aan die lyf vas. Vou die arm dubbel en bind weer lekker styf naby aan die lyf vas. Bind nou 'n stukkie wol/tou so na aan die punt van die gevormde arm as moontlik.

Stap 4: Druk 'n sker se punt in die lusse aan die punt van die arm en knip deur om die hande te vorm. Herhaal Stap 3 en 4 om die ander arm ook te vorm. Bind nou 'n toutjie/wolletjie in die middel van die lyf om 'n middellyfie te vorm.

Stap 5: Deel die oorblywende wol draaisel in twee gelyke dele en bind elkeen so naby aan die middellyf as moontlik vas. Bind 'n tou/wol so na as moontlik aan die punt van elke been, steek 'n sker deur die lusse en knip om voete te vorm. Jou poppie se lyfie is nou klaar.

Stap 6: Steek 'n stukkie wol/tou deur die wol lusse van die kop en maak 'n knoop bo-op die kop om die koppie te vorm. Druk die oorblywende stukkies wol/tou in die koppie in. Gebruik gare en steek dit deur 'n paar stringe tou/wol en knoop dit vas. Herhaal hierdie proses 'n paar keer om 'n oog te vorm. Herhaal vir ander oog.

Stap 7: Gebruik rooi gare op dieselfde manier om vir die poppie 'n mond te maak. Siedaar, jou poppie is klaar! Jy kan nou jou verbeelding gebruik om jou poppie verder te versier as jy wil.

Geniet kreatief wees saam met jou kleuter!
Vind en hou van ons op Facebook en deel jou opmerkings en ervarings met ons.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking