Donderdag 11 April 2013

Grillerige Goggas!


Ouderdom: 2 - 7                                                                                   Het Mamma se hulp nodig


Mamma se geduld vlak: Hang af van ouderdom en moeilikheidsgraad!

Koste: R0 (Jy kan dit maak met goed wat jy in die huis het) - R40 (As jy pypskoonmakers en gompapier koop)

Wat het ons nodig?


Broodnodig: eier boksie, sker en wol of pypskoonmakers.
Opsioneel: verf, gompapier, ogies, viltpenne, vetkryte of potlode vir versiering.
Jy kan enige kombinasie van versierings en bene gebruik.

Ons het eenvoudige goggas gemaak, maar met 'n bietjie verbeelding sal jy enige iets van 'n mier tot 'n verkleurmannetjie op die manier kan maak. Lekker speel!


Wurm

Jong kleuters sal dit die meeste geniet om die wurm te maak, want hulle kan die meeste in die vingerverf mors! Let net daarop dat Mamma sal moet help om gaatjies te maak, te knip en aanmekaar te sit vir kleuters van alle ouderdomme.


1.  Knip vier eier houers uit die eier boksie en maak die randjies netjies.
2.  Verf elke houertjie in 'n ander kleur en los hulle om kurkdroog te raak voor jy verder gaan!
3. Jy kan probeer om die verskillende houertjies aan mekaar te plak, maar ons het vreeslik   daarmee gesukkel. Ons het gaatjies in die houertjies gemaak en 'n pypskoonmaker gebruik om hulle aan mekaar te ryg. Die res van die pypskoonmaker wat agter uitsteek het ek in 'n stertjie gekrul.
4.  Maak 'n gaaitjie aan weerskante van van die wurm se "lyf" met 'n skerp sker of 'n dik naald.
5.  Sny die pypskoonmakers in die helfte of in kwarte afhangend van hoe lank jy die bene wil he.
6. Druk die pypskoonmakers deur die gaaitjies en buig na begeerte. (Wees asseblief versigtig met die geknipte kante, hulle is nogal skerp.)
7. Plak of teken twee ogies op die kop.
8. Jy kan dit afrond met twee pypskoonmaker voelhorings as jy wil!

Spinnekop met wol bene


Maklik vir alle ouderdomme! Die knopies in die bene is goeie oefening vir ouer kleuters. Let net daarop dat Mamma sal moet help om gaatjies te maak, te knip en te voltooi vir kleuters van alle ouderdomme.


1.  Knip 'n eier houer uit die eier boksie en maak die randjie netjies.
2.  Gebruik vetkryt om die houertjie in te kleur.
3.  Maak agt gaaitjies, vier aan 'n kant,  met 'n skerp sker of 'n dik naald.
4.  Sny agt verskillende lengtes wol en druk dit deur die gaatjies.
5. Maak knopies op verskillende plekke op die bene om tekstuur en lewe te gee.
6. Plak of teken twee ogies op die kop.

Krappie

 Maklik vir alle ouderdomme! Let net daarop dat Mamma sal moet help om gaatjies te maak, te knip en te voltooi vir kleuters van alle ouderdomme.

1.  Knip 'n eier houer uit die eier boksie en maak die randjie netjies.
2. Kleur die houertjie met viltpen of inkleur potlode in.
3.  Maak ses gaaitjies, drie aan elke kant, met 'n skerp sker of 'n dik naald.
4. Ons het die pypskoonmakers heel gebruik en dit deur twee teenoorgestelde gaaitjies "geryg".
5.  Buig die bene en knypers (die voorste pypskoonmakers) na begeerte.
6. Plak of teken twee ogies op die kop.

Gogga

Slegs vir kleuters van 5 jaar en op. Ons het baie gesukkel met die gom papier, Mamma's gaan baie geduld nodig he!  Let net daarop dat Mamma ook sal moet help om gaatjies te maak, te knip en te voltooi.

1.  Knip 'n eier houer uit die eier boksie en maak die randjie netjies.
2. Gebruik gompapier (papier met gom aan die agterkant wat jy natlek en plak) om die houertjie te bedek. Skeur die gompapier in baie klein stukkies en maak seker dit is goed nat wanneer jy dit plak.
3.  Maak vier gaaitjies, twee aan elke kant, met 'n skerp sker of 'n dik naald.
4. Knip die pypskoonmaker in kwarte en steek deur die gaaitjies. Jy kan die pypskoonmaker se rand aan die binnekant van die gogga ombuig om seker te maak dat dit nie sal uitval nie.(Wees asseblief versigtig met die geknipte kante, hulle is nogal skerp.)
5.  Buig die bene na begeerte.
6. Plak of teken twee ogies op die kop.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking