Donderdag 02 April 2020

My hartjie, my liefie


My kinders het vandag 'n vreeslike verlange vir hul familie en maats, iets wat doodnatuurlik is gedurende hierdie inperkingstyd. Dit is doodnormaal vir kleuters, voorskolers en skoolganers om gedurende hierdie tyd angstig te wees dat hulle maats of familie iets gaan oorkom, of om kwaad te wees dat hulle nie by maats kan gaan speel of by familie gaan kuier nie en om hartseer te wees en te verlang na naby en verlangse familie lede. Almal van ons wil doen wat ons nie kan nie!

Dit is belangrik dat ons veral na ons kleuters luister en hul gedrag ontsyfer, hulle verstaan nie altyd alles wat in die grootmenswêreld aangaan nie, of verstaan verkeerd of kan hulself bloot nie korrek uitdruk nie. 

Gee jou kinders ekstra drukkies en liefde in hierdie tyd en sorg dat hulle sosiale kontak (op 'n afstand) behou met maats en familie d.m.v. video's, foto's, stemgrepe en oproepe. Verseker hulle dat die verlange normaal is en help hulle dan om positief op te tree deur uit te reik. Verduidelik op hulle vlak vir hulle wat aangaan. En maak seker hulle verstaan!

Ons het hartjies gemaak en elkeen in die familie en gesin se naam (en verwantskap) opgeskryf aan 'n tou vasgemaak en in ons kombuis gehang. Nou voel ons familie naby!

Hierdie aktiwiteit ontwikkel fyn motoriese vaardighede, maar terselfdertyd sosiale en familie vaardighede, want die leer wie is wie. Ouer kinders en voorskolers behoort hierdie verbindings reeds te ken en die oefening kan dit vaslê, vir kleuters is dit 'n wonderlike geleentheid om te leer. Mens kan ook elke familielid se foto op die hartjies vasplak vir kleiner kleuters. 

Groetnis van huis tot huis!

Metode: 

Trek harte op papier en help jou kleuter om dit uit te knip. Vir kleiner kleuters is dit leersamer indien jy dit uitknip en dan die hart-vorm aan jou kleuter bekendstel en leer. Terselfdertyd kan jy ook gesels oor 'n mens se hartjie wat verskillende goed kan voel. Skoolganers behoort 'n hart heeltemal op hul eie te kan knip!

Wanneer die hoeveelheid harte ooreenstem met al die gesins -en familie lede, begin by jou kleuter(s) en skryf hul name eerste neer. Beweeg dan aan na die sibbe en ouers/voogde se name. Volgende is die die oumas en oupas en dan die tannies en ooms en nefies en niggies. Verduidelik mooi wie elkeen is en hoe almal bymekaar pas. Skoolganers behoort hierdie oefening heeltemal op hul eie te kan doen.

Wanneer elke hart 'n naam en verwantskap het, kram die hartjies aan 'n lang tou/lint vas en hang op waar julle dit elke dag kan sien!

 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking