Wenke om die inperkingsperiode met kleuters (en
ouer kinders) te oorleef
Ons almal is
onseker en bang en bietjie uit ons koers uit, ons kinders ook! Hierdie wenke
sal maak dat die inperkingsperiode dalk net so bietjie meer leefbaar is, veral
in die lig dat dit moontlik verleng kan word!
Roetine is belangriker as ooit.
Roetine is een van die belangrikste goed wat aan kleuters en kinders
sekuriteit gee. (Wanneer jy roetine en sekuriteit in ‘n internet soek enjin
intik, sal jy honderde inskrywings sien wat die belang en voordele hiervan
bevestig en verduidelik.) Sekuriteit is van onskatbare ware om kinders meer
gevestig en minder angstig te laat voel. Kinders vind sekerheid daarin om te
weet hoe hulle dag daarna uitsien. Dit beteken nie dat jy ‘n uitgewerkte dag
program moet hê wat vir elke minuut voorsien nie, maar dit behels dat daar
gevestigde opstaan, slaap en etenstye is. Die versoeking om slaaptye weg te
neem en net te wag dat kinders en kleuters self aan die slaap raak van
uitputting is groot, maar gevestigde slaaptye is voordelig vir die algehele
welstand van jou kind, emosioneel, fisies en intellektueel. ‘n Gevestigde
slaaptyd hou ook die voordeel in dat jy weet dat jou kleuter genoeg slaap inkry
sodat hulle nie die volgende dag huilerig, klaerig en klouend sal wees nie en
dit gee vir ouers ‘n blaaskans wanneer die kleingoed in die bed is.
Gebruik die tyd om nuwe
gesinsroetines te skep
Siende dat ons nou die tyd het, is dit die ideale geleentheid om daardie gesinsroetine
wat jy nog altyd wou instel te vestig. Of dit ‘n tydelike roetine is om
byvoorbeeld elke oggend elfuur saam tee te drink of dat almal soggens saam dans
op ‘n gunsteling liedjie; en of dit ‘n meer permanente roetine is soos dat
almal saam om ‘n etenstafel sit vir een ete per dag, is irrelevant. Die tydelike
roetines van samesyn is wat jou kinders gaan onthou bo alles anders van hierdie
tyd en die meer permanente roetines is ‘n geleentheid om aan te hou bou aan
samesyn geleenthede wanneer die inperking eers verby is. Dit is baie moeilik om
nuwe roetines te vestig in ons gewone dag tot dag bestaan, want dit is net nog
iets waarvoor tyd gemaak moet word en wat ekstra beplanning verg. Indien
hierdie roetines egter tydens die inperkingstyd gevestig word wanneer almal
saam tuis is en net daardie klein bietjie ekstra tyd het, sal dit makliker wees
om daarmee vol te hou wanneer die wêreld weer terug keer na (die nuwe) normaal.
Moenie jou kinders konstant
probeer besig hou nie
Dit is belangrik dat ons saam met ons kinders tyd spandeer, maar moenie
voel dat dit jou werk of verantwoordelikheid is om hulle heeltyd besig te hou
nie. Kinders moet op hul eie kan speel, hul eie speletjies uitdink en verveeld
word. Kreatiewe denke en verbeelding word gebou deur self-speel en verveling!
Kinders wat gelos word om hulself besig te hou bou ook
probleemoplossingsvaardighede, leer van oorsaak en gevolg, leer onafhanklikheid,
leer dat geluk van hulself af kom en nie van ander nie en leer om hul emosies
te reguleer.
Praat en luister
Een van die belangrikste goed wat jy en jou kinders in hierdie tyd kan
aanleer is oop kommunikasie kanale. Praat met jou kinders en luister na wat hul
sê. (En lees sommer tussen die lyne ook!) Vra elke aand voor bedtyd, want dit
is gewoonlik wanneer die meeste vrese, vrae en lekkerste geselsies gebeur, hoe
hulle voel. Vir jonger kinders moet met meer leiding gee en jy kan vir jou
kleuter baie spesifieke vrae vra, soos byvoorbeeld: “Is daar iets wat jou bang
maak?”, “Is daar iets wat jou gelukkig maak?”, “Hoe voel jou hartjie?” Dit is
terselfdertyd ‘n wonderlike geleentheid om kleuters van gevoelens te leer!
Ouer kinders het ‘n groter kapasiteit om hulself uit te druk, maar maak
steeds seker dat jy spesifieke vrae vra om agter te kom hoe jou kind werklik
voel. Wanneer hulle dan antwoord, vra hulle hoekom hulle so voel, of wat hulle
gelukkig/bang/hartseer/opgewonde maak. Maak ook seker dat jy ewe veel positiewe
en negatiewe emotiewe vrae vra.
Spreek jou kind se vrese op hul vlak aan. Kleuters en vroeë skoolganers
verstaan baie beter wanneer hulle visueel iets sien. Ek het byvoorbeeld die
presentasie van mense wat ernstig siek word van die korona virus met honderd
Lego blokkies aan my kleuter verduidelik en dit het vir die eerste maal
ingesink, so wees voorbereid om kreatief te wees met jou antwoorde!
Om die gewoonte te vestig om gereeld met jou kind te praat kan verreikende
gevolge hê. Kinders wat gewoond is om met hul ouers te praat, sal makliker
vertel indien iets groot fout is, byvoorbeeld dat hulle die slagoffer van ‘n
boelie was. Verder meer is kinders wat hul emosies kan uitdruk meer geneig tot
gesonder emosionele en geestesgesondheid en minder geneig tot gedrags –en verhoudingsprobleme.
Maak seker jy gee bietjie
ekstra liefde
Ons kinders is net so onseker soos ons in gedurende hierdie periode en in
sommige opsigte nog meer as ons. Behalwe dat hulle ook die omvergooi van
normaliteit, sosiale distansiëring en die vrees vir hoe die wêreld gaan
verander moet verwerk, is hulle ook bo en behalwe bang dat hulle hul ouers en
hul ondersteuningsnetwerk gaan verloor. Baie kinders se grootste vrees is dat
hulle die enigste een gaan wees wat oorbly in hul gesin, ander vrees hul ouers
se afsterwe en dat niemand hulle sal versorg nie en party is doodbang dat hulle
nooit weer hul familie-lede gaan sien nie. Hierdie vrese kom baie keer in
kleuters, wat baie keer goed misverstaan, nie die kapasiteit het om te verstaan
of hulself uit te druk nie; se gedrag uit deurdat hulle huilerig is, of nog
meer sukkel om emosies in toom te hou, of bloot deur vloermoere te gooi. Ouer
kinders kan baie hartseer, bot of depressief raak. Maak seker dat jou kinders gekoester voel en dat hulle weet dat jy hulle baie lief het en moenie bang
wees om met hulle te gesels oor hoe hulle voel nie.
Maak kontak
Jou kinders mis hul maats en familie net soveel soos jy! Help jou kinders
om minder geïsoleerd te voel deur hulle aan te moedig om maats en familielede
te bel. Help kleuters om video's te maak en te stuur, of stuur stem-grepe.
Hierdie aksies maak dat jou kinders meer in beheer voel van die situasie en dit
laat hul steeds deel voel van hul sosiale groep en familie. Veral wanneer die
video’s, foto’s en stemgrepe arriveer in antwoord op dit wat hulle gestuur het!
Wees aktief
Die opsie om vir ‘n lang stappie te gaan is nie daar nie, maar daar is baie
ander planne wat jy kan maak om seker te maak dat jou kinders steeds ‘n goeie
dosis daaglikse oefening inkry. Wanneer kleuters en ouer kinders beweeg voel
hulle beter! Hulle raak ook ontslae van oortollige energie en slaap makliker in
die aand. Bou hindernis bane uit kussings en stoele, maak beurte om te dans op
elkeen se gunsteling liedjie, hou ‘n balkon-maraton, kruip deur die huis in ‘n
resies, laai ‘n toepassing af wat almal aan die oefen kry. Die moontlikhede is
legio.
Beperk skermtyd
Onbeperkte skermtyd is ‘n groot versoeking gedurende die inperking, maar die
negatiewe implikasies van te veel skermtyd geld vir die inperkingsperiode ook.
Dit is moeilik om ‘n skerm-verslawing te breek of om te besluit om skermtyd in
te perk en wees voorbereid daarop dat jou kinders baie kwaad vir jou gaan wees
hieroor. Die voordele van lees, speel en aktief wees oortref die relatiewe
skyn van vrede voor die TV.
Probeer om soveel normaliteit
in te bring as moontlik
Kinders het ‘n behoefte aan normaliteit wanneer alles omvêr gegooi word, so
maak seker dat daar steeds standvastige goed in hul lewens is. Indien julle
elke Vrydag ‘n wegneem pizza bestel het, maak pizzas elke Vrydagaand. Was
Sondae ‘n familie-ete? Maak ‘n groot Sondagmaal en bel die familielede voor jul
aansit om te hoor wat hulle eet en wat hulle maak. ‘n Bietjie van die lewe voor
inperking gaan baie help om die lewe tydens inperking makliker te maak!
Onthou dat die inperkingsperiode nie vir altyd gaan duur nie! Gebruik
hierdie geleentheid om saam met jou kinders te leer, te groei, te speel en te
lag. In ons moderne samelewing waar ons vir niks tyd het nie en jaag van een
plek na die ander, is dit ‘n kosbare geleentheid wat aan ons gegun word om saam
met ons gesinne te wees. Kom ons probeer om dit so lekker as moontlik vir ons
almal te maak.