Vrydag 28 Junie 2013

Vensterverf!


Ouderdom: 2 - 9                                                                                            Ek kan dit op my eie doen (nadat Mamma gehelp aanmaak het)

Mamma se geduld vlak: Baie laag

Koste: Ongeveer R5 vir 'n boksie bordkryt, die res het jy in jou huis!

Wanneer die wind deur murg en been sny of die reen neerstort buite, werk vensterverf soos 'n bom om 'n kleuter op 'n prettige en kreatiewe manier besig te hou! Dit is vreeslik maklik en goedkoop om te maak, maar jy kan ook vensterverf te koop kry by sommige supermarkte teen ongeveer R28 vir twee buise.

Tuisgemaakte vensterverf vee baie maklik skoon en jy kan dit op vensters of spieels gebruik. My kleuter het dit ook vreeslik geniet om daarmee in die bad te speel. Dit kan met die vinger, 'n spons, 'n borsel of 'n kwas aangewend word. Pappa het self ingespring met venster versierings en dit het in 'n heerlike gesinsaktiwiteit  een vakansie oggend ontaard!
 

Benodighede

Gekleurde bordkryt, skottelgoedseep, stamper en vysel (of enige iets wat jy kan gebruik om die bordkryt mee fyn te maak), houertjie vir die verf.
 
 

Metode

Stap 1: Besluit watter kleur vensterverf jy wil maak en maak die bordkryt(e) in die gekose kleur fyn. (Een kryt lewer ongeveer 3 teelepels verf op.) Hoe fyner die kryt hoe beter die verf.
 
Stap 2: Meet die hoeveelheid fyn bordkryt af en meng met presies dieselfde hoeveelheid skottelgoedwasmiddel. (Ons het sommer teelepels gebruik om mee te meet.) Roer tot goed gemeng en verf! Orige verf kan in 'n lugdigte houer gestoor word.
 
 

verf en versier!

 
 

Gee jou verbeelding vrye teuls en verf saam met jou kleuter!

 
Ons volgende aktiwiteit sal op Vrydag, 5 Julie gepubliseer word.

 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking