Sondag 29 Maart 2020

Bedtente!


Kajuitkoors het ons vandag hard geklap. Ons nerwe was dun en die ou twee boeta's was kort-kort in mekaar se hare. Die twee deel 'n kamer en ek het besef dat hulle elkeen 'n eie spasie nodig het waarin hulle kan onttrek om net weer bietjie alleen asem te haal, batterye te laai en net te wees.

Ons besluit toe om vir elkeen 'n bedtent te bou waar niemand anders mag wees sonder toestemming nie. Die aanmekaar sit was baie gou, maar die genot was onbeperk. 

Die snaakste van alles was, nadat elkeen sy eie spasie gehad het, het hulle beurte gemaak om saam-saam in mekaar se spasies te speel, die hele dag. En al die happerigheid was vergete. Wat vir my tyd gegee het vir 'n bietjie boek lees! Wen - wen :) 

Kleuters sal die idee van 'n eie speel tent vreeslik geniet - moenie verbaas wees as jy genooi word om te kom kuier nie. En skoolganers speel net so lekker en geniet die opsie van op hul eie wees. Skoolganers is natuurlik meer as bevoeg om hul eie te bou....
 
Metode

Ek het doodeenvoudig hulle ou lakens/dekens gevat wat ek nie meer werk voor gehad het nie en dit eers om die beddens gehang. Dit het gewerk, maar ek moes kort-kort die haakspelde kom oor vassteek, want hulle het nogal rof gespeel. Ek erken dat ek toe my kramgeweer gaan haal het en die materiaal vasgekram het aan die plafon en bed. En dit het soos 'n bom gewerk en dit hou steeds!

Jy hoef egter nie tot kramgeweer uiterstes te gaan nie. Ek het die vinnigste oplossing gesoek - met 'n bietjie meer beplanning en geduld sal haakspelde en vasbind die ding doen!

Ek hoop jul het 'n vreedsame en veilige eerste inperkingsnaweek gehad. Geniet die nabyheid van jul kinders!


Vind ons en hou van ons op Facebook en bly op hoogte!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking